Wyle mnr. Johan Laubscher (57) en sy vrou, Alda. Foto Verskaf
Wyle mnr. Johan Laubscher (57) en sy vrou, Alda. Foto Verskaf

Groot seder val op Otjiwarongo

Huldeblyke stroom in vir Johan Laubscher
Edugate Akademie en Die Vootrekker-beweging rou saam met familie en vriende oor die dood van 'n geliefde gemeenskapsleier.
Ronelle Rademeyer
’n Groot boom in onderwys- en kultuurkringe het verlede week op Otjiwarongo geval.

Mnr. Johan Laubscher (57), skoolhoof van Edugate Akademie en onderhoofleier van Die Voortrekkers, is verlede Dinsdagaand aan ’n hartaanval dood.

Volgens Laubscher se vrou Alda, wat in Windhoek by St. George’s College skoolhou, het hy gaan draf en op pad terug naby sy blyplek inmekaar gesak. Iemand wat daar woon het dit gesien gebeur en die buurtwag ontbied.

Laubscher se broerskind, dr. Maritz Laubscher, is ontbied, maar hy was reeds dood.

Laubscher, wat ’n boorling van Outjo is, het jare lank in Suid-Afrika gewoon en werk voordat hy sowat vier jaar gelede na Namibië teruggekeer het.

Huldeblyke het die afgelope week van oraloor Namibië en Suid-Afrika ingestroom.

Mnr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, het op Facebook gesê dit is met skok en hartseer dat dié kultuurbeweging kennis neem van Laubscher se onverwagse dood.

“Johan was uit huis en hart ’n Voortrekker. Sy eerste Voortrekkerspore word in Namibië gevind waar sy ma, tannie Johanna Laubscher, op die gebiedsdagbestuur gedien het.

“Johan dien later jare as kommandoleier van Unika en Oordleier van Goudrand in Johannesburg, voordat hy in 2013 as gebiedsleier van Die Voortrekkers in Transvaal verkies is. In 2017 is Johan op die hoofdagbestuur verkies as adjunkhoofleier vir Verkennersake,” het Langner gesê.

“Ek het Johan leer ken as ’n kindervriend en diensbare leier. Iemand wat opreg in jongmense en hulle wêreld belangstel.

“[Hy was] ’n man uit een stuk. ’n Leier wat moue oprol en hard werk vir ’n beter toekoms. ’n Voortrekker wat koers sien, koers aandui en koers hou. Sy dood is ’n ontsettende verlies,” het Langner gesê.

Die gebiedsdagbestuur van die Vrystaatse Verkennerkommando’s het by monde van mnr. Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat, hul innige medelye aan sy gesin en familie betoon.

“Sy skielike dood laat ‘n groot leemte vir die Voortrekkers. Hy sal onthou word vir sy vriendelike geaardheid en liefde vir die kinders,” sê Engelbrecht.

“Johan kon altyd lekker gesels en het werklik belang gestel in elkeen se omstandighede en menswees.

“Hy sou altyd persoonlik verjaardagwense gee en het deurentyd belang gestel in Doornkloof en die Vrystaatse mense.

Die Voortrekkers eer sy nagedagtenis en salueer hom as Voortrekkerleier,” het Engelbrecht gesê.

Laubscher laat benewens sy vrou, ook hul drie dogters, Yolandi, Lorraine en Marichen agter.

Hy word Saterdag om14:00 uit die NG kerk in Eros, Windhoek, begrawe. Die diens sal deur ’n jarelange predikant en vriend, ds. Servaas de Kock, uit Randburg gelei word.

’n Gedenkdiens word ook Vrydag by Edugate Akademie vir hom gehou. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer