Grootwordjare definieer haar nie
’n Sterk vrou met hope positiwiteit
Shitalala Gorases moes as kind vinnig huis toe hardloop om betyds te wees om kos te kry en vanjaar het sy daarin geslaag om haar LLB-graad te verwerf.
“Wat met my gebeur het, het gebeur, maar dit definieer my nie. Ek het in ’n informele nedersetting grootgeword. My stiefpa het my mishandel en die hof het my in ’n kinderhuis geplaas. My omstandighede het my nog steeds nie laat tou opgee of my gedefinieer nie. Ek het opgestaan, myself gevind en nou het ek ’n graad in regte,” het Shitalala Gorases (26) gesê.
“Ek is in die informele nedersetting Okahandjapark gebore en het daar grootgeword. Dit was moeilike tye, maar aan die ander kant het ons nie van beter geweet nie. Ons het gedink dit is hoe die lewe is.”
Volgens Shitalala moes sy elke dag ’n paar kilometer stap skool toe en terug.
“Wanneer die skoolklok aan die einde van die dag gelui het, het ons vinnig huis toe gehardloop om ons eetborde te kry sodat ons sopkombuis toe kon gaan vir middagete. Jy kon nie met jou maatjies speel en drentel nie, want dan het jy nie kos gekry nie. Die kos was talle kere nie genoeg nie aangesien die vraag so groot was, maar dit was kos.”
SKOOL
Shitalala was gek oor skool. Dit was haar veilige plek weg van die huis af en alles wat daar gebeur het.
“Ek het al my aandag aan my skoolwerk gegee. As jy moeite en/of goed gedoen het, het jy ’n drukkie van die onderwyser gekry. Jy het liefde daar gekry en met goeie punte was jy die middelpunt van die aandag. Die bietjie aandag en liefde was goed en ek dink dit is hoekom ek so baie tyd aan skool en skoolwerk bestee het.”
KINDERHUIS
Die hof het beslis dat sy op 12-jarige ouderdom, haar suster (11) en haar boetie (4) in die Eros-kinderhuis geplaas word.
“My stiefpa het my seksueel en fisiek aangerand en gemolesteer. Ek kon nie verstaan dat ons moes weggaan en hy kon bly nie. My ma moes by hom bly en ek het nie daarvan gehou nie.”
Die hof het die sibbe in die kinderhuis geplaas en Shitalala het van daar af hoërskool voltooi.
“Nou dat ek terugkyk, was dit die beste ding wat met my kon gebeur het. Sonder die kinderhuis sou ek nie die persoon wees wat ek vandag is nie.”
Sy het aanvanklik die omstandighede in die kinderhuis moeilik gevind, want toe sy by die kinderhuis aankom, het almal net Afrikaans gepraat. In Okahandja Park praat almal net Damara.
“Toe ek daar aankom, was daar baie streng tannies wat net Afrikaans gepraat het. Ek onthou hulle het my gevra wanneer ek verjaar en ek het gesê die driede September. Dit was natuurlik verkeerd en ek moes baie vinnig ’n taal aanleer.”
Sy het dit ook moeilik gevind om haar mense agter te laat. Sy sê daar is ’n band tussen mense wat onder dieselfde omstandighede swaarkry.
“By Eros was alles anders; die taal, die reëls en die mense. Natuurlik het ons alles gehad. Ek was opgewonde oor die stort met lopende warm water. Ons het ook genoeg kos en sakgeld gekry. Ek het net gewens dat my vriende dit ook kon ervaar. Gelukkig was my suster en boetie by my, maar ek kon nie die kinders uit my gedagte kry wat nog steeds na skool sopkombuis toe moes hardloop nie.”
Ná SKOOL
Shitalala het haar matriekjaar voltooi en daarna sakebestuur begin studeer en swanger geraak.
“Ek het besluit om by die polisie aansoek te doen sodat ek ’n salaris kon verdien om vir myself en my kind te sorg. Ek is by die polisie aanvaar en het Ondangwa toe gegaan vir opleiding. Daarna het ek vir ’n jaar by die polisie gewerk. In 2017 het ek begin om regte te studeer.”
Sy het altyd gedink sy sal in ’n kommersiële rigting werk aangesien sy bedryfsekonomie en rekeningkunde op skool gehad het.
“Tydens die polisie se opleiding was een van my vakke regte. Dit het my belangstelling geprikkel. Met my terugkoms in Windhoek het ek begin om navorsing te doen en gekyk of ek genoeg punte vir dié studierigting het. Ek het gekwalifiseer en aansoek gedoen. En vandag het ek ’n LLB-graad.”
RAAD
“Ek sê altyd ek het elke moontlike sob-storie wat mense kan vertel, beleef. Ek kan duisende verskonings uitdink waarom ek nie my volle potensiaal kan bereik nie. Ek kan maklik sê ek is deur dit en daai en dit is hoekom ek nie skool kan klaarmaak nie. Ek kom uit armoede en dit is te moeilik om skool toe te gaan. Ek is ’n produk van ’n kinderhuis waar jy nie baie aandag of liefde ontvang het nie. Maar ten spyte van alles, het ek my graad in regte gekry. So as ék dit kan doen dan kan enigiemand. Daar is geen verskonings nie.”
Shitalala hou daarvan om mense van haar omgewing, familie en vriende te inspireer om hulself te verbeter.
“Dit is nie genoeg dat ek suksesvol is nie. Ek wil hê almal rondom my moet suksesvol wees. Eerstens wil ek nie hê dat my boetie of sussie op my salaris staatmaak nie en tweedens wil ek met mense omring wees wat finansieel stabiel is. Ek wil ook nie hê mense moet sê noudat ek suksesvol is, nou het ek hulle vergeet nie. Dit is hoekom ek altyd terug Okahandjapark toe kom en vir mense sê my lewe was nie maklik nie, maar ek het dit gemaak, julle kan ook as julle bietjie moeite doen.”
HOOP
Shitalala se hoop is dat professionele mense na die informele nedersetting se skole sal gaan om kinders te wys daar is mense soos ingenieurs of hartchirurge.
“Die kinders hier ken net veiligheidswagte en huishulpe. Dis waaraan hulle blootgestel word en dit is wat hulle wil word en doen. Nou dat hulle gehoor het ek was in die polisie, wil hulle almal by die polisie aansluit omdat hulle dink hulle sal goed betaal word. Daar is so baie daar buite wat hulle nie van weet nie en ek hoop dat professionele mense hulle sal kom inspireer soos die polisie my geïnspireer het om regte te studeer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie