Hannah kán koek bak

Tanja Bause
Die bakgogga het Hannah Mudge op sesjarige ouderdom gebyt.

Vandag het dié 12-jarige haar eie besigheid Hannah’s Sweets & Treats.

“Ek het altyd my ma gehelp terwyl sy pannekoek gebak het en het baie daarvan gehou. Ek het my eie pannekoeke begin bak. Daarna het ek muffins begin bak en toe koeke. My eintlike passie is om koeke te bak en te versier,” het sy gesê.

Sy het in 2020 by The Purple Fig Cooking School vir kookklasse ingeskryf.

“Dit is egter meer kook en kosmaak. Verlede jaar het ek en my vriendin Lee-Zanne Vermeulen eerste plek in die Jong Sjef-groepafdeling by die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Technologie (Nust) gewen.”

Hulle het ’n driegangmaaltyd voorberei en moes sekere bestanddele, soos bone en Oshikandela in hul disse gebruik.

“Ons het vis en groente vir voorgereg, gevulde hoender met bone en wortels vir hoofgereg en lawapoeding met Oshikandela-roomys gemaak.

“Ons was baie bly toe ons gewen het. Ek maak in die aande kos by die huis, maar ek sal nie kos verkoop nie. Kosmaak is soort van my stokperdjie, waar koekbak my besigheid is.”

KOEKE

Hannah het op die internet na koekresepte gaan soek, maar sy het haarself geleer om koeke te versier.

Sy het ook al haar eie koekresep ontwikkel en is tans besig om aan ’n roomysresep te werk.”

“My pa het in 2020 gesê ek kan eintlik koekbak as ’n besigheid begin. Ek het ’n naam uitgedink, plakkers en besigheidskaartjies laat druk en in 2021 is die eerste bestellings onder my besigheid geplaas en verkoop. Ek kan nie so gereeld bak soos wat ek wil nie, omdat ek nog skool toe moet gaan.”

Haar beste verkoper is haar wortelkoek. Sy maak ook vanielje-, Red Velvet- en rolkoeke, maar haar gunsteling om te bak en te eet, bly sjokoladekoek. Hannah maak ook oliebolle, kolwyntjies, skuimpies en makrolletjies (macaroons).

“My ma koop die bestanddele en dan betaal die mense my ma. Sy betaal die wins in my bankrekening oor. Ek het al redelik geld vir my foon gespaar.”

Hannah het ook al ’n tweelaag-troukoek gebak.

“Dit was ’n gewone koek met botterroom en regte veldblomme as versiering. Ek hou nie baie van fondant of om daarmee te werk nie. Dit is hoekom ek ook nie graag kinderkoeke bak nie. Ek hou van klassieke koeke.”

Hannah het haar suster, Kari, die helfte van haar wins betaal sodat sy haar kan help om die fondantskeppings te maak vir die kinderverjaardagkoek wat sy wel gebak het, volgens haar ma.

“Ek wil graag eendag ’n kommersiële prokureur word, maar ek wil ook ’n winkel hê wat my koeke verkoop. Ek sal in die aande vir die winkel bak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!