Have-a-Heart bereik mylpaal van 15 000

Organisasie word volgende jaar tien
'n Groep vrywilligers het in 2018 Have-a-Heart Namibia begin met die doel om wyle Lindie Prinsloo se droom verder te neem.
Tanja Bause
Die dierewelsynsorganisasie Have-a-Heart Namibia het onlangs ’n reusemylpaal bereik deur hul 15 000ste troeteldier te opereer.

Dié organisasie beywer hom om troeteldiere van lae- of geen inkomste gesinne in klein of informele nedersettings gratis te steriliseer en te kastreer.

Have-a-Heart wat volgende jaar sy tiende bestaansjaar vier, het al troeteldiere in 62 dorpe en nedersettings oraloor die land geopereer, ingeënt en teen parasiete behandel.

Vandeesmaand het Have-a-Heart en Beukes Veterinary Consulting van Gobabis vir die eerste keer besoek op Plessiesplaas, ’n klein nedersetting noord van Gobabis, afgelê.

Beukes Veterinary Consulting van die egpaar drs. Mariette en Stefan Beukes is in 2019 op Gobabis geopen. Hulle werk hoofsaaklik met die boere van die omgewing wat hulle gevra het of hulle nie met die sterilisasie van troeteldiere kan help nie. Die veeartse en Have-a-Heart het hier en daar begin om troeteldiere te steriliseer.

Volgens die spreekkamerassistent, me. Rita Opperman, het die egpaar die begin van die jaar besluit om meer by dié welsynsorganisasie betrokke te raak, veral in die gemeenskappe waar hulle werksaam is.

“Ons het met die spay days begin voordat ons talle navrae gehad het van ons plaaskliënte om in die gebiede te help. Ons het toe vir Have-a-Heart genader en die nodige toestemming verkry. Dis vir ons ’n plesier om na die plekke te gaan en te sien hoe minderbevoorregte mense ook na hulle diere kan omsien.

“Ons help graag waar ons kan, en Have-a-Heart gee vir ons die geleentheid om meer van ons kant af te kan doen. Die organisasie betaal vir die diere se sterilisasie en die veeartse betaal vir die brandstof en gee hul tyd gratis,” het sy gesê.

Tien honde en drie katte is in Junie op Plessiesplaas geopereer.

Volgens Geesche Neuberg van Have-a-Heart was die veeartse tevrede met die kondisie van die diere en was dit nie nodig vir verdere behandelings nie. Die diere is ingeënt en teen parasiete behandel.

“Sulke klein spay days is broodnodig veral in sulke afgeleë plekke omdat die diere andersins nooit ’n veearts sal sien nie.

“Ons was ook vir die eerste keer in Mei op Leonardville en in Junie op Aminuis saam met Beukes Veterinary Consulting. Op Leonardville is tien honde en ses katte gesteriliseer en op Aminuis sewe honde en vyf katte. Ons sal weer Dinsdag 26 Julie [vandag] in Leonardville wees,” het Neuberg gesê.

Dr. Hartmuth Winterbach en sy span het ook by die Brandberg Rest Camp alle troeteldiere wat soontoe geneem is vir Have-a-Heart geopereer en behandel. Altesame nege honde en ses katte is gesteriliseer.

Die jaar was Have-a-Heart en die veeartse van Oshana SPCA Vet Clinic, drs. Junias Elifas, Herman Nelson en Alfeus Iyambo, vir die eerste keer in Oshikango, Oluna, noord van Otapi en Omuthiya.

“Hulle was in die dorpe om wilde katte te vang, te steriliseer en weer vry te laat. Op Oshakati alleen het hulle 33 katte gesteriliseer, ingeënt en weer vrygelaat. Verlede naweek het hulle op Ondangwa 32 honde tydens die eerste spay day geopereer. Dié veeartse doen sedert 2021 baie vir Have-a-Heart. Hulle is op Oshakati gestasioneer en die Oshana Dierebeskermingsvereniging (DBV) betaal hulle petrol.”

STIGTING

Have-a-Heart is in 2013 deur wyle Lindie Prinsloo gestig om honde en katte op Outjo – haar tuisdorp – te steriliseer en te kastreer met die droom om die veldtogte landswyd uit te brei.

’n Groep vrywilligers het in 2018 Have-a-Heart Namibia begin met die doel om Prinsloo se droom verder te neem.

“Ons hoofdoel is om gratis kastrasies en sterilisasies vir honde en katte aan troeteldiereienaars met ’n lae of geen inkomste te verskaf. Ons uiteindelike doelwit is om die aantal rondloperdiere volhoubaar te verminder en sodoende die behoefte aan massa-genadedood uit te skakel. Dit terwyl die gesondheid en welstand van honde en katte in veral die informele nedersettings verbeter word,” het Neuberg gesê.

Elke hond en kat wat deur Have-a-Heart gesteriliseer word, word ook ten volle ingeënt en ontvang interne en eksterne parasietbeheerbehandeling wat direkte gesondheidsvoordele vir honde en katte, asook mense en plaaslike wilde diere inhou.

“Have-a-Heart is afhanklik van skenkings en word deur vrywilligers bestuur. Alle skenkings wat ontvang word, word gebruik om verskeie veeartse vir sterilisasies, kastrasies en die nodige medikasie te help. Ons vrywilligers gaan uit hul pad om die lewens van diere in informele nedersettings te verbeter deur raad en fisieke hulp aan troeteldiereienaars te verskaf wat andersins geen toegang tot sulke inligting of dienste sou hê nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!