Henties se huisnaam-stories
Eienaars deel hul staaltjies
Dis nie net kinders en katte wat name op die kusdorp kry nie – mense het die unieke gewoonte om hul huise ook name te gee.
Dis “Pint Innie Wint” see toe as die laaste skoolklok lui, waar “Pa vis, Ma rus” – almal heeltemal “Tevrede”, want ons is mos op ons “Happy Place” in ons “Huisie By Die See”. “Armoede” en sommer “Spyker se Gat” ook, hierdie plekkie is “Ons S’n” waar ons so “Ietsiemeer” van die lewe geniet.
Hentiesbaai het geen bekendstelling nodig nie – dié kusdorpie is al as ’n hengelaarshemel, aftreeparadys en vakansiedorpie beskryf, asook die plek waar geen boer skoene winkel toe dra nie.
Besoekers kom in Desembermaand van so ver as Suid-Afrika om hul batterye tussen die sandduine te herlaai. Daarbenewens is dit nie net kinders en katte wat name in die dorp kry nie – huiseienaars het die unieke gewoonte om hul huise ook name te gee.
Republikein het met enkele inwoners gesels oor die stories en staaltjies agter Hentiesbaai se huisname.
Milly Basson vertel hulle Henties-huisie se naam is Royal Hotel. “My pa se naam was Royal en ons was altyd baie mense met baie vreugde en liefde in daardie huis,” vertel sy oor die Otto-familie se jarelange saamtrekke op die hengelaarsdorpie.
Hentiesbaai is egter niks sonder sand in jou baaikostuum en in jou wasmasjien nie.
Annette Schoeman sê hulle huis se naam is Sandvoete. “Dit verwys nou na mensvoete én hondepote, want daar word altyd seesand in die huis ingedra deur hierdie voete en pote, en dis oukei!”
Delia Mostert sê hulle huisie se naam is Hoe ver nog. “Toe my kinders klein was en ons op pad see toe was, het hulle al by die eerste stilhouplek gevra: ‘Hoe ver nog?’.”
“Dis dan vér, Ma, en ons kan nie meer wag nie!”
Hengelaars ken ook al die “visvanggate” in die see soos die palm van hul hand. “Ons eerste huisie op Hentiesbaai se naam was Blommie se Gat. Blommie was eers my bynaam, maar omdat daar so baie ‘gate’ rondom Henties is, het die huis dié naam gekry,” vertel Christa Engelbrecht.
Ander het met dieper erns huisname gekies. Theronsrus is die huis se naam wat aan Wallace Theron behoort. “Dit was ook die plaas se naam naby Sutherland, waar ons mense gebly het vóór hulle in 1927 Namibië toe getrek het,” vertel die Suideboer.
Riaan Theart het sy huis Minha Rosa (my roos) genoem ter nagedagtenis van sy oorlede vrou, Rosa. “Dit is ons huisie by die see,” sê hy.
Anne-Marie Enslin vertel haar huis se naam is Hier Braai Ons Nie Vroeg Nie. “Dit is ter nagedagtenis van my oorlede man,” vertel sy.
Hoe dit ook al sy – Hentiesbaai beloof rus vir jou siel en die grootste vangste uit die blou see ná ’n baie lang jaar. Al is dit “Amper te Ver”, maar nie vir ’n “Suidwester” nie en al is jou huis so deurmekaar soos ’n “Katokgat”. Volgende jaar maak ons weer so – tot dan – “Môi Lôp”!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie