Honderde bring eerbetoon ná tragedie

Drietal later begrawe
Greshlinn Bruwer, die vierde insittende wat op die toneel gesterf het, is Vrydag in Khomasdal begrawe.
Boet Matthews
Een van die grootste begrafnisse op Rehoboth sou Saterdag plaasvind nadat drie lede van die Coetzee-familie op 13 April in ‘n gru-ongeluk noord van die dorp gesterf het.

Pa Ettienne (48), sy seuns Edmando (23) en Ethan (21) asook ‘n jarelange boesemvriend van die seuns Greshlinn Bruwer (21) is op slag dood.

Ettienne se vrou, Louisa, is met ernstige beserings in die hospitaal in Windhoek opgeneem terwyl haar jongste seun Luke (10) ongedeerd uit die voertuig gekom het.

Louisa het aan Republikein gesê: “Danksy God was ons gelukkig dat ‘n paar manne kort ná die ongeluk daar stilgehou en ons uitgehaal het.

“Die volgende oggend het ek my oë in die hospitaal oopgemaak en wou weet waar my man en kinders is. Die antwoord dat hulle nie meer lewe nie, het my erg geruk en sielsiek gemaak.

Die begrafnis wat Saterdag op Rehoboth bestem was, is uitgestel nadat Louisa ineengesak het op pad om met die steun van familielede die begrafniskerse in die Hermanus-gedenkstadsaal uit te blaas. Sy is terug hospitaal toe geneem om verder aan te sterk.

Pastoor Werner Coetzee, broer van Ettienne, het gesê dit was die laaste gedenkdiens. “Ons wag net totdat Louisa volkome herstel en dan sal ons die liggame ter aarde bestel.”

Reho Falcon-rugbyklub, waar Ettienne die voorsitter was en waar Edmando tot op die dag van sy dood die eerstespankaptein was, se president Ronaldo Pedro het aan Republikein gesê: “Ek huil saam met die honderde wat teenwoordig was, veral Ettienne se vrou Louisa en die 10-jarige Luke.

“So iets het ek nog nooit gesien nie. Dis die seerste seer om te staan en kyk hoe drie van jou geliefdes se kiste voor jou staan gereed om na hul rusplek geneem te word, en dat jy hulle vir die laaste keer sal sien. Ek glo God vee vandag die trane af en Hy sal die seer genees.

“Sommige mense kom daar deur, maar nie daaroor nie. Diegene wat self deur hierdie soort seer deurgemaak het, sal weet hoe dit is en hoe lank dit neem om te verwerk. Vir sommige is dit lewenslange gesigte wat hulle vir ewig sal onthou.”

Dit was Vrydag ook ‘n tranedal toe Greshlinn Bruwer vanuit die Rynse Kerk in Khomasdal begrawe is. Die Bruwer- en Böck-families, vriende en lede van die gemeenskap het mekaar vasgedruk en hul meegevoel met mekaar gedeel. Die jong Greshlinn het as skoolseun onder meer vir Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan gespeel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!