Hulp gevra vir Swakop se baba Joy
Finansiële ondersteuning word gesoek vir ’n sewe maande oue babadogtertjie wat die naweek in die Ruach Elohim-stigting op Swakopmund se bababoks gelos is.
Baba Joy het hidrokefalie – ’n toestand wat ook as waterhoofdigheid bekend staan – en het dringend ’n operasie nodig om die geweldige drukking op haar brein te verlig en haar pyn en ongemak te verminder.
Saam met baba Joy is haar mediese paspoort gelos wat wys sy het reeds van ’n maand oud tekens van ’n waterhofie getoon, met haar ma wat verskeie kere by ’n kliniek om hulp aangeklop het maar buiten vir haar inentings wat op datum is, nooit enige ondersteuning van die staat gekry het nie.
Volgens Ronel Peters van die stigting kon sy reeds Saterdagaand met baba Joy se aankoms in die bababoks sien iets is fout. Buiten dat haar koppie erg geswel was, was sy ook baie ondervoed en ontwater. ’n Erge swaminfeksie in haar mondjie en wat deur haar lyfie strek, het gemaak dat sy glad nie kon sluk of suig nie.
“Sy was yskoud en het soos ’n dooie babatjie gelyk, hierdie mooi, kleine mensie,” vertel Ronel.
Ronel het met ’n bekertjie melk in haar mondjie gedrup en ook dadelik medikasie by ’n plaaslike apteek gekry. Teen Sondag het Joy, wat volgens haar mediese paspoort sewe maande oud is, beter begin lyk, maar het volgens Ronel baie geslaap.
“Ek het aanmekaar by haar ingeloer en toe gesien dit lyk of sy nie asemhaal nie.”
Sy het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, Joy in haar arms gegryp en met haar hospitaal toe gejaag.
“Ek was histeries en het vir die Here geskree om haar asseblief nie by my te vat nie, naby die hospitaal het sy haar ogies oopgemaak en begin huil.”
Baba Joy is in die hospitaal opgeneem en sy het onder meer ’n voedingspypie gekry. ’n Diagnose het bevestig sy het ’n waterhofie met ’n operasie wat dringend nodig is om die geweldige drukking op haar brein te verlig.
“Ons weet nie of daar enige skade is nie, ’n skandering het bevestig haar brein is vol water. Om dit te verlig, word ’n pypie in ’n kamer van die brein geplant wat afloop na die magie waar dit dreineer en sy dit uitpiepie.”
Voor dit egter kan gebeur, moet baba Joy eers ten volle van die swaminfeksie herstel en haar gestel vir die operasie opgebou word.
Ronel en haar Ruach Elohim-stigting het self nie die fondse vir die groot operasie nie en geld word nou ingesamel om vir baba Joy uiteindelik die verligting te gee wat sy maande terug al moes kry.
“Ek is bereid om my kar te verkoop, maar ek kan nie toelaat dat sy so ly nie!”
Skenkings kan gemaak word aan Ruach Elohim Foundation; FNB, tjekreknr. 62269248954; verwysing: baba Joy.
Vir meer inligting kan Ronel by 081 242 6396 gekontak word.
Vandat die Ruach Elohim-stigting in 2020 op die been gebring is, is 22 babas reeds in die bababoks gelos.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie