In die skadu van Windhoek se strate

Nêrens ’n skuiling vir 83-jarige en haar man
'n Bejaarde vrou vertel die rou verhaal van haar en haar man se reis van verplasing, veerkragtigheid, maar ook desperaatheid.
Aurelia Afrikaner
’n Bejaarde vrou sit op ’n houtstoel, haar voete erg opgeswel, haar siel moeg. Haar vel wat nog genees van ’n vorige erge sonbrand, vertel van baie dae onder ’n onvergewensgesinde Namibiese son.

Haar stem is sag, maar dra die reusegewig van swaarkry, verlies en ’n onsekere toekoms. Sy hou ’n glas water styf in haar greep terwyl sy die rou verhaal vertel van haar en haar man se reis van verplasing, veerkragtigheid, maar ook desperaatheid.



’N LEWE OMGEKEER

Die egpaar – sy in haar vroeë tagtigs, haar man in sy vroeë vyftigs – se beproewing het lank voor 11 Desember begin, die dag toe hulle hul huis amptelik verloor het.

Hulle het maande gesukkel om kop bo water te hou. Hul huur het onbekostigbaar geword ná ’n enkele verlies wat alles verander het en ’n finansiële las wat hulle net nie meer kon dra nie. Die uitsetting was vinnig en genadeloos. Fisiek verwyder uit hul gehuurde ruimte. Hulle is na ’n werklikheid gedryf wat hulle hulself nooit kon voorstel nie, een waar ’n tuiste nêrens te vinde was nie.

Hul besittings, nou verminder tot dit wat in twee tasse kon pas, is buite onder ’n afdak gelaat. Pogings om ’n stooreenheid vir hul oorblywende besittings te kry, was tevergeefs; elke spasie was óf beset óf te duur.

Met nêrens om heen te gaan nie, het hulle deur Windhoek se strate gedwaal in die hoop om iewers skuiling, sekuriteit en ’n sprankie vriendelikheid te vind.



SOEK HULP, VIND WANHOOP

Hul eerste aanklop is by die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, ’n plek waar hulle gehoop het om ondersteuning te kry.

Die vrou se man wat sedert 2016 met ’n gesiggestremdheid saamleef, het hulp nodig gehad. Weens sy sigprobleme kon hy nie werk nie, maar die burokratiese proses was stadig en onwrikbaar. Hulle is in limbo gelaat, met geen onmiddellike hulp in sig nie.

Toe die son op daardie noodlottige dag in Desember sak, het hulle hulself buite die Sentrale Hospitaal bevind en gewag, gehoop. Tot 22:00 het hulle op die koue grond gesit en nie geweet waarheen nou nie. Vreemdelinge sou bloot verby hulle stap, onverskillig oor hul lot. Die veiligheidswagte, verbind aan reëls, het vir hulle gesê hulle kan nie daar bly nie.

Haar man het vir hulle ’n taxi gekry wat hulle by ’n skuiling gaan aflaai het.

“Hy was ’n baie beleefde taxibestuurder wat ’n hele rukkie daar gestaan en wag het om seker te maak ons gaan in. Maar ons het die klokkie gelui, gelui en gelui sonder dat enigiemand geantwoord het,” vertel die vrou.

Haar man het nie moed opgegee nie en het verder in die stegie afgestap en die veiligheidswag by ’n kerk gesien. Die veiligheidswag het geweier om vir hulle ’n telefoonnommer van die skuiling te gee, maar het die persoon in beheer gebel.

“Die vrou wat uiteindelik geantwoord het, was absoluut onbeskof en het gesê ons het haar daardie tyd van die nag wakker gemaak. Sy het gesê die skuiling is gesluit vir die vakansie en sal eers weer op 8 Januarie oopmaak,” vertel die vrou met trane in haar oë.

Sy en haar man het besluit om Staatshuis toe te gaan.

“Ons het die sekuriteit daar gevra of daar iemand is met wie ons kan praat, maar die vrou was ongelukkig.

“Die kantoor was ook gesluit weens die vakansieseisoen. Desperaat het ons Nampol gebel en hulle oor ons situasie ingelig. Uiteindelik moes ons die stadspolisie bel. Hulle het ons kom oplaai met ons tasse en al, en ons na die polisiestasie toe geneem.”

Hier het hulle vir drie dae in die aanklaerskantoor gesit, totdat die stasiebevelvoerder opgedaag het.

“Aan die een kant was daar gedurig mense in ’n ry, aan die ander kant die mense wat agter die toonbank werk. Hulle het ons daaraan herinner dat die polisiestasie ’n openbare plek is en ons nie daar hoort nie,” vertel die vrou.

Weer is hulle gedwing om op te pak met nêrens om heen te gaan nie. Die egpaar is na die Katolieke hospitaal in die hoofstad, waar dit begin reën het. By een van die sekuriteitshokkies het hulle ’n gawe wag teëgekom, maar die blydskap was van korte duur toe hy vervang word met ’n ander wag wat daarop aangedring het dat hulle moet padgee.

“Ons wou net op die banke buite sit.”

Hulle is Post Street Mall toe om skuiling vir die nag te gaan soek.

“Ons het ’n man ontmoet wat ons jare gelede geken het, ’n baie ordentlike mens, vriendelik en hoopvol. Maar vandag sit hy daar met niks.”

Die paartjie het niks by hulle gehad nie en die nag het al hoe kouer geword. Een van die aande op straat het iemand vir hulle hospitaalkomberse gegee om hulle mee toe te maak.

“Maar ons moes op ’n houtbank lê, ondanks verskriklike spierpyn. Die nag het dit vreeslik begin reën en die wind het ons laat vries,” vertel sy emosioneel.

’n Familielid sou ook later vir haar ’n kombers gebring, maar het haar geoordeel.

“Hy het my man beledig. Ek was koud, ontsteld en het net gehuil. My bene het gebewe, my hele lewe was aan skerwe.”

Haar man het die ambulans gebel wat haar hospitaal toe geneem het.

“Die dokters by die Katutura-hospitaal was baie behulpsaam,” vertel die vrou.

“Ek het ophou water drink omdat daar nie openbare toiletgeriewe is vir mense wat gedwing word om op straat te bly nie en dit het nierversaking veroorsaak.

“Stel jou voor jy gaan ’n week sonder om te bad, 24/7 in my rolstoel, want ek kon nie elke week op die koue stoele slaap nie. Wanneer jy praat, waai die wind jou stem weg,” sê sy emosioneel.

’n Pastoor wat hulle ken, het net tot Woensdag vir hul verblyf betaal.

“Toe ons hulp gesoek het, het ons elke keer voor ’n toe deur te staan gekom. Ons het gedink alles sal beter word, maar nou moet ons van vooraf begin, dit breek regtig my hart,” sê die vrou wat probeer om haar trane te keer.



’N ONSEKERE TOEKOMS

Sy vra nie vir simpatie nie, net begrip.

Sy en haar man se reis gaan nie net oor die verlies van ’n huis nie, maar oor die verlies aan waardigheid, sekuriteit, van die basiese mensereg op skuiling.

“Ons het net ’n klein plekkie nodig, solank dit ’n dak het en veilig is,” pleit sy.

Met elke dag wat verbygaan, wag die egpaar in die hoop op ’n kans om weer te kan begin. Tot dan bly hulle in die skaduwee van Windhoek se strate op soek na ’n plek om te behoort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer