Italië wag op jong rensteljaer

Iréne-Mari van der Walt
Die negejarige Cecil Koorts jr. het onlangs een van die eerste sportmanne in Namibië geword om sy nasionale kleure in motorsport te ontvang.

Derek Jacobs, die sekretaris-generaal van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF), sê Cecil is ’n lid van die Namibiese span wat aan die Rotax Afrikabeker deelgeneem het, en het só sy nasionale kleure verwerf.

Cecil jr. sal volgende maand na Italië reis om aan die internasionale ROK-bekerfinaal in Lonato del Garda deel te neem. Die ROK-reeks is ’n renstelreeks wat deur die Fédération Internationale de l’Automobile (FIA) erken word. Dít nadat hy op sesjarige ouderdom die Namibiese kampioen in die Bambinos-afdeling was en verlede jaar tweede in die Micromax-afdeling geëindig het.

Cecil Koorts sr. sê die jong spoedvraat en ’n mededinger het ná die semifinaal gelykop in die Micromax-afdeling geëindig. Cecil jr. het egter besluit om eerder die Formule 1-Grand Prix in Abu Dhabi by die Yas Marina-baan by te woon en sodoende sy kanse verbeur om aan die finaal deel te neem.

“Ons wou al verlede jaar gegaan het,” sê Cecil sr. oor sy seun se deelname aan die ROK-kampioenskappe, “maar deelnemers moet nege jaar oud wees en hy sou eers drie dae ná die byeenkoms nege geword het,” sê hy.

Cecil sr. sê hy hoop sy seun geniet wyd aandag wanneer hy in Italië deelneem.

“Ek wil dit nie eintlik spreek nie, maar ’n Namibiër sal nie sommer tot by Formule 1 vorder nie, omdat renstelresies ’n verskriklike duur sport is. Ek sal hom ondersteun so ver ek kan, maar dit sal wonderlik wees as daar iemand is wat hom sal vra om vir hulle te ry – mens weet nooit waar daar ’n talentsoeker mag wees nie,” sê hy.

Selfs wanneer Cecil jr. nie fisies vir die eindstreep jaag nie, sê sy pa hy dink die heeltyd net aan spoed en speel graag die Formule 1-videospeletjie aanlyn op sy Xbox saam met vriende van oraloor die wêreld. Volgens sy pa beteken dit egter nie dat Cecil toegelaat word om sy skoolwerk af te skeep nie, en sê ook hy is ’n trotse leerling van Windhoek Afrikaanse Privaatskool.

HAMILTON-ONDERSTEUNER

Cecil se droom is om eendag soos sy held Lewis Hamilton die wêreld te deurkruis van die een Formule 1-resies na die volgende.

Hy is natuurlik ’n lojale ondersteuner van Hamilton se span, die Mercedes-AMG Petronas.

“Ons het gesien toe Lewis Hamilton by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako uit die vliegtuig geklim het. Ons vliegtuig was langs syne. Ons was op pad Kaap toe vir die kampioenskappe, en ek het vir hom gewys hoe loop Lewis by die hek uit,” sê Cecil sr.

Cecil jr. loop tans voor op die nasionale kampioenskap se punteleer. Selfs hiér wys hy sy waardering vir Hamilton deur met Hamilton se nommer 44 deel te neem.

STADIG BEGIN

Cecil sr. sê ’n oproep van ’n vriend het sy seun se liefde vir die sport laat vlamvat.

“’n Vriend het in 2019 ’n renstel vir sy seun gekoop, maar die seun was nog te klein en te bang om dit te ry, toe vra hy of Cecil nie dalk belangstel nie. Sy knieë was amper verby sy ore in daardie renstel,ֽ” sê Cecil sr.

Cecil jr. het etlike dae voor sy eerste resies sy eie renstel gekry toe sy pa besluit het om een vir hom te koop.

“Ek wou nie bekommerd wees oor die feit dat die renstel aan iemand anders behoort as hy breek of beskadig word nie,” sê Cecil sr.

Sy pa is nie net sy werktuigkundige nie, maar ook een van Cecil jr. se grootste ondersteuners.

“Dis ’n trotste oomblik. . . veral in die intense resies wat jou hart vinniger laat klop,” sê Cecil sr.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!