Jadyn Beukes en al die werkers van die Republikein wens alle leseres ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar toe. Ons volgende koerant sal op 9 Januarie 2024 verskyn. Foto verskaf
Jadyn Beukes en al die werkers van die Republikein wens alle leseres ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar toe. Ons volgende koerant sal op 9 Januarie 2024 verskyn. Foto verskaf

Jadyn se Kerswens word waar

Tanja Bause
Die 12-jarige Jadyn Beukes se brief aan Kersvader het beoordeelaars van die Wernhill Wenslys vir Kersfees-veldtog so beïndruk, dat sy as wenner uit 501 inskrywings aangewys is. Jadyn is met Downsindroom en ‘n hartdefek gebore en het net drie hartkamers in plaas van vier gehad.

“Dat Jadyn die geboorte oorleef het, was reeds ‘n wonder. Al die lof en eer aan ons Hemelse Vader,” vertel ma Yvonne.

Jadyn het haar eerste operasie vir haar hartdefekt op ses maande gekry.

“Dr. Susan Vosloo het bande om die hoofaar geplaas om die bloedtoevoer na die hart te reguleer. Sy kon op dié stadium nie die groter operasie om die hart te herstel kry nie, omdat sy siek geword het. Dit het egter beter met haar gegaan. Soos sy groter en ouer geword het, het die bande te nou geword en sy het suurstofprobleme begin kry. Die bande moes verwyder en die hart geopereer word en dit is in Junie 2022 gedoen. Dit was ‘n groot en riskante operasie, maar ons geloof het ons deurgedra.”

Omdat Jadyn Downsindroom het, groei en ontwikkel sy baie stadig. Sy is op die intellektuele vlak van ‘n vyf- tot sewejarige kind.

“Sy het baie laat begin om op haar agterstewe te seil, nooit gekruip nie en laat geloop. Sy kan nog nie skryf nie, maar kan darem al ‘n paar strepe trek om in te kleur. Sy kan nog nie behoorlik praat nie, omdat sy met ‘n baie lang tong gebore is. Ma en pa verstaan haar egter heel goed. Sy kan jou natuurlik ‘n heerlike storie vol lag en handgebare in haar eie brabbeltaal vertel!”

Volgens Yvonne is sing haar dogter se sterkpunt en kan sy ‘n lied baie gou naboots.

“As jy die woorde ken, sal jy presies hoor wat sy sing en sy kan ‘n noot hou. Omdat sy so lief is vir sing en dans, het ek die sleutelbord en die karaokestel in die brief gesit.”

“Ek het geweet sy sal hou van ‘n noodhulpkassie, want sy het sommer ‘n pyp by die huis geneem om haar ou teddie se hart te luister. Nou is sy gedurig besig om met die stetoskoop na teddie se hart te luister. Jaden speel die rol van dokter en teddie tegelyk. Teddie wat vreeslik aan die huil gaan met die ondersoek en die dokter wat daarna met ‘n ‘toemaar, its ok’ troos! Dit gebeur natuurlik op haar eie tyd en jy kry niks reg deur dit te forseer nie. Dit is vir my ‘n belewenis om ons ‘amper geen hoop’ baba so te sien speel!”

Jadyn is ‘n meisie met ‘n baie sterk eie wil wat niks sal doen as sy nie wil nie, vertel sy trots.

Die dag toe Yvonne vir Jadyn Wernhil toe vat sodat sy haar presente kon kry, was vir baie spesiaal.

“Sy het die uitstappie terdeë geniet, ten spyte van haar oorsensitiewe gehoor wat dit moeilik gemaak het. Ons moes eers gaan skuiling soek in die kantoor waar dit stil was.

Dit is ook die rede waarom ek geraasdempende oorfone op haar wenslys geskryf het. Met die fotosessie en geskenke het sy die beste tyd ooit gehad, alhoewel sy ‘n bietjie skaam was. Dit was ‘n eerste vir ons engel.”

“Sy doen baie beter met praktiese dinge. Sy wil graag haar eie pap maak en brood smeer, maar natuurlik moet ons bystaan veral as dit by warm water en gevaarlike goed kom,” het Yvonne gesê.

Jadyn het twee honde waarvoor sy baie lief is en waarmee sy die hele dag speel. Sy hou ook van stap.

“Sy is baie lief vir haar program van die tweeling Topsy en Timmy op Youtube. Sy was van dag een af nie baie lief vir strokiesprente nie, maar hou van regte avontuurreekse met regte kinders.”

WERNHIL

Volgens die Ohlthaver & List groep se woordvoerder Roux-Ché Locke skenk hulle ook skooluniform, spesiale sagte skoolskoene, skryfbehoeftes, die nodige skoonmaakmiddels en kopieerpapier vir haar nuwe jaar by die skool.

Die wenslys-inisiatief is vir die eerste keer in 2016 gehou. Kinders tussen die ouderdomme van ses tot 12 moes ‘n wenslys invul en motiveer hoekom hulle die items op hulle lys verdien. Wernhil skenk dan die betrokke items aan die wenner tot op die waarde van N$6 000. Die kinders kon ook twee skole kies wat ‘n skenking van N$6 000 elk ontvang. Jadyn het vir Inges Kindergarten en die Môreson Spesiale Skool gekies.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!