Goeie tye: Jane en Peter Katjavivi, met president Hage Geingob en presidentsvrou Monica Geingos weerskante van hulle. FOTO STAATSHUIS
Goeie tye: Jane en Peter Katjavivi, met president Hage Geingob en presidentsvrou Monica Geingos weerskante van hulle. FOTO STAATSHUIS

Jane Katjavivi het grense versit

Hoë politieke figure bring hulde
Die speaker prof. Peter Katjavivi se vrou was 70 toe sy hom gister ontval het.
President Hage Geingob het gister hulde gebring aan die skrywer Jane Katjavivi, wat klaarblyklik aan boord van ’n vliegtuig op pad na Windhoek oorlede is. Sy was 70.

Onbevestigde berigte dui daarop dat Jane, wat in Engeland gebore is, en haar man professor Peter Katjavivi, die speaker van die Nasionale Vergadering, van ’n reis na Wallis teruggekeer het huis toe toe sy langs hom gesterf het – vermoedelik aan ’n hartaanval.

Hooggeplaaste regeringsamptenare, insluitend die adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering me. Loide Kasingo en adjunkminister van myne en energie, Kornelia Shilunga, was van die eerste roubeklaers wat die egpaar se huis in Windhoek besoek het.

Jane was die stigtersuitgewer van die Universiteit van Namibië se Unam Press, van 2011 tot 2016, en outeur van onder meer ’n memoir, ‘Undisciplined Heart’.

Geingob het gesê: “Jane sal deur vele van ons baie gemis word vir haar sagte houding en bereidwilligheid om hulp aan behoeftiges te bied. Tydens hierdie moeilike uur van hartseer vir die Katjavivi-familie, betuig ek namens die Namibiese mense en regering, my vrou Monica Geingos en my familie, ons innige meegevoel met my dierbare broer, kameraad Peter Katjavivi, die kinders en die hele bedroefde familie.”

Professor Mutjinde Katjiua, wat onlangs as opperhoof van Ovaherero ingehuldig is, het Jane as “’n dogter van ons gemeenskap en die Namibiese nasie in die algemeen” bestempel.

Katjiua het gesê: “Sy was ’n steunpilaar vir professor Peter Katjavivi gedurende die donker dae van ballingskap en die aanbreek van onafhanklikwording, met al sy uitdagings.

“Sy was ’n wonderlike ma vir Perivi, Isabelle, Uanaingi en vele ander, asook ’n liefdevolle ouma.”

Hy het Jane beskryf as ’n “nederige siel wat in haar gedrag en geaardheid die bestaande rasgrense afgebreek en sodoende die mensdom op sy beste uitgestraal het”.

Jane het van 1976 tot 1978 in Londen vir Swapo gewerk as ’n inligtingsbeampte, voordat sy later na tydskrif- en boekuitgewers aanbeweeg het.

“Sy het met die Swapo-aktivis en historikus professor Peter Katjavivi getrou en hulle het kort voor onafhanklikwording in 1990 na Namibië verhuis,” het die Nasionale Vergadering laat gister in sy eie huldeblyk gesê.

“Madame Katjavivi was ’n toegewyde vrou, ma, suster, tannie, ouma en ’n vriendin vir vele regoor die wêreld. Sy sal onthou word vir haar sagmoedigheid, vriendelikheid, bedagsaamheid en gretigheid om mense te help en by te dra tot die skryf van Namibiese stories,” het die NV gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!