Juffrou met ’n passie vir lees
Al juf. Melinda Haradoes (@_raise.a.reader) se video’s op die videoplatform TikTok is reeds duisende kere gekyk.
In hierdie video’s deel sy wenke oor hoe om jong kinders se leesvaardighede en leesbegrip te verbeter. Sy leef ook haar passie vir onderrig uit as onderwyser by die Primêre Skool Vooruit op Otjiwarongo.
“Lees is die moeder van alle vakke. Hoe gaan ’n kind hul wiskunde-somme of wetenskapwerk doen as hulle nie die probleem kan lees en verstaan nie?” sê sy.
Sy glo ’n gebrek aan fonologiese bewustheid belemmer die leesvaardighede van leerlinge landswyd.
“Daar is ’n gebrek by kleuterskole – dit moet daar begin met fonologiese bewustheid. Dit gaan alles oor die leerling se vermoëns om klanke te kan uitken, verstaan en identifiseer. Klankleer (phonics) verwys net na die klanke, maar leerlinge moet klanke kan lees, verstaan en self verwerk,” verduidelik sy.
Melinda sê sy het reeds talle leerlinge teëgekom wat in graad 7 nie behoorlik kan lees en teks verstaan nie. Sy sê egter kinders waarvoor sy klasgee in graad 1, lees gereeld op graad 5-vlak. Van haar leerlinge behaal reeds in graad 1 ’n graad 10-leesvlak.
“Die kind kom as ’n leë boksie hier aan en dit is goed om te sien wanneer hulle volledige boeke, en selfs die boeke wat ek lees, kan lees,” sê sy.
Talle onderwysers in Namibië verstaan volgens Melinda nie die verskil tussen klankleer en fonologiese bewustheid nie, en dít sê sy is wat Namibië se geletterdheidsyfer kniehalter.
“Ek wil graag hê die staat moet verstaan hoe belangrik fonologiese bewustheid is en dit al op voorskoolse vlak implementeer.”
Sy spreek egter haar lof uit vir die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se program wat ouers oplei om op grondslagfase hul kind met sy of haar huiswerk te kan help.
“Dit is baie belangrik dat ouers hulle kinders help en dit is hoekom ek op my blad verduidelik hoe hulle kinders kan leer lees. Hulle kan dit ook gebruik, maar jy weet sommige ouers stel net nie belang nie,” sê sy.
Melinda sê haar rol as ouer het haar aangespoor om ’n onderwyser te word.
“Ek wou my eerste kind baie graag by die Primêre Skool Duneside in Walvisbaai inskryf – omtrent so 20 jaar gelede. Hulle het gesê ek moet my kind na ’n arbeidsterapeut vat om hom te laat toets.
“Die toetse het bepaal dat hy nie gereed vir skool was nie, maar die arbeidsterapeut het vir my verduidelik hoe ’n kind se brein werk. Sy het vir my verduidelik dat jy dieselfde saad by twee kinders kan plant, maar hulle sal nie teen dieselfde spoed groei nie. Daar het ek ’n begeerte gekry om ’n onderwyser te word,” verduidelik sy.
Sy het toe navorsing gedoen oor hoe om kinders met hul leesvaardighede en wiskundebegrip te help en het later haar eie preprimêre skool begin. ’n Dekade later streef sy ’n onderwyskwalifikasie na en skryf by die Montessori-program in.
“Weens omstandighede moes ek Montessori eers verlaat het, maar ek het later my kwalifikasie by IOL (Institute for Open Learning) voltooi,” sê sy.
Sy het daarna haar passie en kennis na die staatskole geneem. Sy sê egter haar droom om haar eie skool te begin, leef nog steeds voort.
“Ek het steeds ’n begeerte om my eie skool te bou. Ek wil baie graag ’n leesskool begin en dit is hoekom ek my blad begin het – om onderwysers te help om kinders te leer lees,” sê sy. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie