Kankerstryd kry Cha’risse nie onder

Elvira Hattingh
Die 13-jarige Cha’risse van Wyk maak die mooiste juwele om geld in te samel vir haar behandeling teen bloed- en beenmurgkanker.

Selfs die feit dat dit die tweede keer in haar lewe is wat sy teen dié kanker moet veg, kry haar ook nie onder nie.

Sy sou juis gister, toe sy weer in Windhoek moes wees vir ’n beenmurgtoets, meer voorraad aankoop om nog hangertjies en armbande te maak. Net dalk kan sy help met die meer as N$40 000 wat haar ouers elke maand vir haar behandeling betaal.

“Sy is baie kunstig,” vertel haar ma, Charmain, in hul huis op Grootfontein. Die gesin dra swaar, maar moedig, aan hierdie las. Hulle het nie mediese dekking nie en sy word in staatshospitale behandel, maar die tipe chemoterapie wat sy benodig, kan slegs by private instellings verkry word.

Dan moet sy ook heen en weer Windhoek toe reis, en medisyne vir naarheid, vitamiene en gesonde kos – vry van enige bakterieë – ontvang. Daarbenewens sal sy hopelik ’n beenmurgskenker en -oorplanting kan ontvang – iets wat net in die Kaap gedoen kan word en sowat N$5 miljoen kan kos.

“Ons het baie om voor dankbaar te wees. Dit is hartseer wat met Sussie gebeur, maar ons kry fantastiese ondersteuning van die gemeenskap,” sê haar pa, Roelof.

“Elkeen wil op hulle manier probeer om die las ligter te maak. Dit is nie moontlik om haar las fisies te verlig nie, maar hulle ondersteun ons emosioneel. Dit maak die reis ’n bietjie makliker, want jy weet daar is mense op wie se knoppie jy kan druk,” sê hy.

DIAGNOSE

Cha’risse kan nie veel onthou van toe sy vier jaar oud was en ook behandeling teen bloedkanker moes ontvang nie, maar sy het wel na die video’s gekyk wat haar ma destyds gemaak het.

Sy geniet egter skool, maar kon sedert April nie meer skool bywoon nie en sedertdien ontvang sy tuisonderrig, met haar slimkop-ma wat haar help.

Haar beenmurg- en bloedkanker-diagnose het gekom nadat sy ’n operasie vir haar blindederm moes ondergaan en haar bloedtelling nie wou optel nie. Sy het baie siek geword en is eindelik Windhoek toe gestuur, waar hulle die slegte nuus ontvang het.

Charmain sê haar dogter is op 28 Mei in die hospitaal opgeneem om met kankerbehandeling te begin. Sy het drie rondtes chemoterapie ontvang, toe is sy ingelig die staat het nie die tipe chemo wat sy nodig het nie en sy moes sedertdien noodgedwonge die nodige behandeling privaat aankoop.

Roelof het baie lof vir die onkologiesentrum by die Windhoek Sentrale Hospitaal, waar hulle baie goed behandel word.

ONDERSTEUNING

Hoe staan hulle elke dag op en bly hulle sterk?

“Ek doen dit vir hierdie ene en vir die twee kleintjies,” sê Roelof en wys na Cha’risse.

“Jy bid,” sê Charmain.

“Daar is twee Bybelverse waaraan ek elke dag vasklou: ‘Laat julle hart nie ontsteld word nie; Glo in God, glo ook in My’. Die ander is: ‘Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie’,” sê Charmain.

“Die Here dra ons daagliks en daar word in elke behoefte voorsien. Dis glad nie maklik nie, maar Hy stap elke tree saam met ons. Dankie ook vir elke mens wat vir ons bid. Jul gebede dra ons daagliks. God is groot,” sê sy.

Roelof is besorg dat soveel aandag aan Cha’risse gaan, terwyl hulle nie so baie by die twee jonger kinders uitkom nie. Die kinders is almal slimkoppe wat uitstekend op skool presteer en dikwels eerste in die klas staan.

“Dis ’n eina-een, ’n mens wil hulle nie afskeep nie,” sê Roelof.

Intussen het Cha’risse talle drome van wat sy eendag wil word.

“Te veel,” lag sy. “Ek het al gedink ek wil ’n veearts word, of ’n bakker, of selfs ’n verpleegster, dokter of juwelier.”

Haar ma meen sy gaan iemand word wat ander mense kan help, want dit is haar passie.

Intussen is ’n bankrekening oopgemaak om bydraes te skenk vir Cha’risse se mediese behandeling en skole in Grootfontein het reeds verskeie muntleggings gehou om geld in te samel.

Die bankbesonderhede is:

Cha’risse van Wyk

Bank Windhoek/Grootfontein

Rek. nr. 803 577 0278.

Vir meer inligting, kan Charmain by 081 375 8142 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!