Kapana eersdaags in Indië bedien

Disse moet land verteenwoordig
'n Plaaslike sjef is uitgenooi om vanaf 19 tot 22 April drie eg Namibiese disse by die Bengale Besigheidsberaad in Indië voor te berei.
Tanja Bause
’n Namibiese sjef sal eersdaags kapana, mahangukoekies en hoenderpote vir honderde kongresgangers in Indië voorberei.

Die welbekende sjef Terry Jenkinson is uitgenooi om vanaf 19 tot 22 April dié eg Namibiese disse by die Bengale Besigheidsberaad voor te berei.

“Ek moet disse maak wat my land verteenwoordig. Ek kan kies tussen ’n happie, hoofgereg of nagereg. Ek het besluit om kapana en salsa, hoenderpote met peri-peri-sous en mahangukoekies met spinasie, tamatie en grondboontjies voor te berei. Ek wou graag ook mopaniewurms voorsit, maar ek kan hulle nie deur die lande wat ek moet reis op pad Indië toe saam neem nie. Ek moet al die bestanddele in Indië aankoop en mopaniewurms sal ek nie daar kry nie,” het Jenkinson gesê.

Altesaam 1 000 afgevaardigdes en meer as 10 000 besoekers sal die beraad bywoon. Die sjefs van die verskillende lande sal ook saam die aandete vir 750 gaste voor die geleentheid as een kulinêre wêreldfamilie kook.

JENKINSON

Jenkinson is ’n ervare sjef met beide plaaslike en internasionale ervaring in onder meer lodges, familierestaurante, 4- en 5-ster hotelle, BBP-spyseniering op eksklusiewe jagplase, opleiding in die werkplek asook die onderrig en opleiding van studente.

Hy is tans die hoof van die kulinêre kunsprogram by die Silver Spoon Hospitality Academy.

“Ek het op die Namibiese Sjefvereniging se raad gedien in die rolle van ondervoorsitter en voorsitter, waartydens ek nasionale sjefkompetisies beplan en georganiseer het. Ek was ook op nasionale toerisme- en gasvryheidsrade, soos die jaarlikse Toerisme Ekspo-raad. Ek het onder meer internasionaal in die World Pastry Cub 1995 meegeding. Ek het die Suid-Afrikaanse regering in Sri Lanka verteenwoordig deur ‘n Suid-Afrikaanse kosfees 2003 aan te bied en het die afgelope jare jong Namibiërs gementor wat aan die Alan Thong Coffee Pot Challenge in Abu Dhabi 2016 en Young Chef Olimpiades deelgeneem het.”

In 2018 het sy deelnemer aan die Young Chef Olimpiade 13de geëindig, in 2019 was hy 15de, in 2021 sewende en in 2022 het die deelnemer 20ste geëindig. Hy was ook die wenner van die toekenning vir die beste mesvaardighede. Tydens die 2021 olimpiade het Jenkinson die toekenning vir die beste mentor ontvang.

Dit is juis deur sy betrokkenheid by die Young Chef Olimpiades en sy verhouding met die Internasionale Instituut vir Hotelbestuur (IIHM) in Indië dat hy na die Bengale Besigheidsberaad genooi is.

“Ons sal ons disse in IIHM se kombuis voorberei en dan in die Bengal Besigheidberaad se kombuise klaarmaak met die hulp van die sjefs van die IIHM en hul senior studente. Die beraad is ’n fantastiese platform om afgevaardigdes van oraloor die wêreld oor die diversiteit en prag van Namibië as reisbestemming in te lig en die land te bevorder.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!