• Tuisblad
  • Mense
  • Kissinger: ‘Vir hom was alles een groot legkaart’

Kissinger: ‘Vir hom was alles een groot legkaart’

Feitlik elke krisis van vandag aangeraak of beïnvloed
Die veteraandiplomaat en onder meer voormalige Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Namibië, dr. Riaan (Koedoe) Eksteen, het Amerika se 'super-diplomaat', nasionale veiligheidsraadgewer en omstrede wenner van die Nobelprys vir vrede, dr. Henry Kissinger, drie keer in sy lewe ontmoet. Eksteen deel hier sy skrywe oor Kissinger wat verlede week in die ouderdom van 100 jaar dood is, met laasgenoemde se verjaardag op 27 Mei vanjaar.
Henriette Lamprecht
Ek was bevoorreg om dr. Henry Kissinger drie keer te ontmoet. Twee keer in die laat 1970’s in New York toe ek ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN) was.

Dan het ek hom en sy vrou, Nancy, vir drie dae vergesel tydens hul besoek aan Suid-Afrika en Namibië in Augustus 1982. Ons besoek aan Etosha was vir hulle ’n hoogtepunt en vir my ’n onvergeetlike ervaring om heelwat ure na sy sienings te luister wat hy vrylik en met sorgsaamheid aan my verduidelik het.

Om 100 jaar te bereik is ’n besonderse geleentheid. Om dit te kan bereik met ’n intellek wat nog skerp en ontledend is oor wêreldgebeure, politieke tendense en streekkonflikte waarvan vele staatslui en kundiges oor staatkunde telkens nog kennis neem, is ’n uitsonderlike prestasie.

Kissinger is in Duitsland gebore. Op jeugdige ouderdom verhuis hy en sy ouers na die Verenigde State van Amerika (VSA). In sy akademiese loopbaan wentel sy teorieë en beleidsuitgangspunte om die begrip wat hom bekend maak. Hy formuleer dit as Weltanschaüng – wêreldbeskouing. Vir hom was alles ’n groot legkaart met elke stuk wat ’n kritieke, maar kenmerkende rol na ’n enkele einde gespeel het – die VSA se opkoms as onbetwiste wêreldleier.

Hiermee het hy noukeurig die grondslag gelê vir sy uiteindelike opkoms as ’n leidende gesag oor strategiese en geopolitieke beleide vir presidente van beide politieke partye. Dit was dus nie verbasend dat president Richard Nixon hom in 1968 as 45-jarige as sy nasionale veiligheidsadviseur aangestel het nie. Kort daarna het hy die minister van buitelandse sake geword en toe Nixon weens Watergate bedank het, het president Gerald Ford hom in laasgenoemde portefeulje aangehou. Hy het hierdie twee presidente vir agt jaar gedien.

Kissinger het feitlik elke krisis of geleentheid wat ons vandag in die gesig staar, aangeraak of beïnvloed – en langs die pad het die wêreld verander soos min ander mense wat nog ooit tot regeringsampte verkies was.

Die oorlog in Viëtnam en die groot toewyding van Amerikaanse lewens en militêre mag het feitlik alles vir ’n dekade in die VSA oorheers. Hy het op ’n verbiddelike wyse met sy vredesonderhandelinge volhard met wat hy ontwerp het om die ontknoping daarvan te verseker. Dit sou uiteindelik lei tot die VSA se onttrekking binne twee jaar en Noord-Viëtnam se oorname van die hele land. Dit het gelyk of Ho Chi Minh en Hanoi “gewen” het. Trouens, die wyse waarop hierdie oorwinning uiteindelik gestruktureer was, het gelei tot die skepping van ’n nasie wat vandag ’n bolwerk van kapitalisme is en ’n mees gewaardeerde vennoot, indien nie ’n regstreekse bondgenoot van die VSA geword het nie. Vir sy vredesonderhandelinge het hy die Nobelprys vir vrede ontvang.

Kissinger was terselfdertyd besig om na ontspanning met die Sowjetunie te beweeg en die eerste stappe in die rigting van volle diplomatieke betrekkinge met China. Hierdie toenadering tot die Sowjetunie het gelei tot die skerp vermindering in strategiese kernwapenarsenale waarvan die instandhouding en uitbreiding ’n groot las op die Amerikaanse begroting was, asook ’n ernstige bedreiging vir globale stabiliteit, selfs dalk oorlewing. Sy reeks geheime besoeke aan China het die weg vir Nixon se besoek gebaan en die uiteindelike erkenning van China.

Dan was daar die Midde-Ooste. In Oktober 1973 is Israel op Yom Kippur, die heiligste dag van die Joodse jaar, binnegeval deur ’n koalisie van Arabiese leërs onder leiding van Egipte en Sirië, wat uiteindelik slegs ten duurste deur Israeliese magte verslaan is. Kissinger wat die belange in terme van diplomasie die toegang tot groot Arabiese oliereserwes en die mense van die area basies verstaan het, het ’n reeks diplomatieke reise begin. Hy het onvermoeid heen en weer gereis tussen Israel en sy buurlande in ’n poging om ’n blywende vrede te bewerkstellig. Die term “shuttle diplomacy” het hier sy oorsprong gevind. Alhoewel sy pogings nooit tot totale vrede in hierdie onstabiele streek gelei het nie, is Israel nog nie weer deur enige nasionale weermag binnegeval nie.

Suider-Afrika het ook nie sy aandag ontglip nie. Drie persoonlike ontmoetings met eerste minister John Vorster in die middel-1970’s het ten doel gehad om die Rhodesiese kwessie te ontknoop. Dat hy nie daarin geslaag het nie, kan nie alles voor sy deur gelê word nie. Die veelvoud van akteurs wat betrokke was en wou wees, was teenproduktief. Dan het president Ford die verkiesing teen Jimmy Carter in November 1976 verloor, maande ná Kissinger en Vorster se derde ontmoeting.

Kissinger het voortgegaan om met soveel van dergelike kwessies besig te bly – grootliks deur die private konsultasie-aktiwiteite wat hy in 1982 van stapel gestuur het en uiteindelik tot ’n multinasionale kolos uitgebrei het wat steeds rigtinggewende raad verskaf en reeds ’n konstante stroom van meer as 100 boeke en geskrifte die lig laat sien het.

In 2015 het die tydskrif Foreign Policy hom as die doeltreffendste minister van buitelandse sake van die VSA die afgelope 50 jaar bestempel. Sedertdien kon geeneen van sy opvolgers daarin slaag om naby die statuur en invloed van Kissinger te kom nie.

Inderdaad, terwyl Kissinger amptelik vir slegs twee presidente gewerk het, het skaars ’n enkele leier van enige van die politieke partye versuim om met hom te konsulteer. So ook reekse wêreldleiers aan elkeen van wie hy nog nooit opgehou het om die onontbeerlike waarde van sy insigte te verskaf nie.

Kissinger glo steeds ten diepste in die noodsaaklikheid om die grondbeginsels van enige opponent se ambisies en sensitiwiteit te verstaan. Iets wat blykbaar baie hedendaagse leiers ontwyk, veral in die VSA. Die huidige Amerikaanse bestel sal goed doen om diep na te dink oor Kissinger se jongste waarskuwing – Amerika se toenemend desperate pogings om sy sterwende hegemonie te bewaar, sal nie die land red nie. Hulle sal eerder net die agteruitgang daarvan versnel – en die wêreld in chaos dompel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!