Klippe rits die wêreld vol

Tanja Bause
’n Geverfde klip, of Wanderstein, van Duitsland het sy pad 12 090 kilometer verder tot in Swakopmund gevind.

Geena Sadlowski het op 5 Junie ’n Wanderstein in Duitsland opgetel en dit na Namibië gebring. Sy het die klip by die Sternbrücke in Magdeburg gevind en dit na die Altstadt Restaurant & Biergarten in Swakopmund geneem.

In Europa, veral in Duitsland, is dit ’n gunsteling-tydverdryf om klippe te verf.

Mense versamel klippe en teken dan prente en of gesegdes of bemoedigende woorde daarop. Die klippe word dan iewers neersit en wanneer mense een vind, kan hulle dit hou of iewers anders weer neersit vir die volgende persoon om te vind.

Van die kunstenaars behoort aan die Facebookblad #Wandersteine (das Original), wat wêreldwyd 61 600 lede het. Kunstenaars wat aan die groep behoort, het elkeen ’n nommer. Dus, wanneer mense die klip optel en ’n foto plaas, kan die kunstenaar sien waar in die wêreld sy klip tans is.

Jana Grosh is die kunstenaar van die geel klip met die skoenlappers op wat Geena opgetel het.

“Ek kan nie glo my klip het al die pad na Namibië gereis nie. Ek het eers in Mei vanjaar my eerste drie klippe geverf en neergesit. Van die drie het een Namibië toe gereis. Dit is ongelooflik. Ek het nie woorde gehad toe ek die boodskap op Facebook gesien het nie,” het sy gesê.

Van waar Geena die klip in Duitsland opgetel het tot in Swakopmund, is ’n afstand van 12 090,3 kilometer. Intussen het die klip nog verder gereis aangesien iemand hom van sy plek by die Altstadt Restaurant verwyder het.

“Iemand het hom verder laat reis en dit is soos dit moet wees,” het Norbert Sadlowski van Altstadt gesê.

LüDERITZ

Op 6 Februarie is ’n klip by die Diaz-kruis op Lüderitz gevind.

“Ons het die klip ’n verdere 2 650 kilometer na Suid-Afrika geneem en sal hom iewers plaas waar hy weer gevind kan word en verder kan reis. Die vonds het my dag gemaak en dit was so spesiaal. Hou ons pragtige klip aan die reis,” het Anita Rossouw gesê.

Ná dié plasing het Petra Zimmert, die kunstenaar, op Facebook haar ongeloof uitgespreek dat haar klip met ’n dwergie op in Namibië en verder na Suid-Afrika gereis het.

Vanaf die Fichtelberge in Duitsland tot in Lüderitz het die klip 12 462,9 kilometer afgelê. Dit beteken dat dié klip ietwat verder gereis het as die skoenlapperklip.

Die geverfde klippe wat aan kunstenaars van die #Wandersteine (das Original)-Facebookblad behoort is al in 46 lande wêreldwyd gevind en weer neergesit vir die volgende persoon om te hou of om verder op reis te neem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer