Koos Cunene en vyf uitsonderlike Himbas

Kaokoland se merkwaardige mense
Die legendariese Koos Cunene Verwey onthou sy ontmoetings met die mense wat die grootste invloed op sy lewe gehad het.
Tanja Bause
Wyle Koos Cunene Verwey het vir sowat 35 jaar Camp Syncro in die Marienfluss in Kaokoland en vir die afgelope 12 jaar die Epupa Falls Lodge besit. Hy het oor die jare saam met die Himba-gemeenskap gewerk en was bekend as die “wit Himba”.

Koos vertel van sy ontmoetings met vyf van die mees merkwaardige Himbas wat hy in sy tyd in die Kaokoland ontmoet het.

VETAMUNA

Koos en Vetamuna het die eerste keer in Mei 1989 in Etanga ontmoet. Hy wou toestemming kry om ’n kamp in die Marienfluss te bou.

Vetamunda is as die Himbas se kroonprins beskou. Koos het hom gevra wat sy naam beteken en hy het geantwoord: “Die naam wat geken sal word deur alle mense en God ook.”

Toe Koos hom ontmoet het, was hy reeds broos en hy het vir Koos die storie van sy ontmoeting met ’n leeu in sy jonger jare vertel.

Dit was in die tyd toe Kaokoland nog wild en afgeleë was. Toe diere en leeus volop was en beeskrale sterk en hoog gebou is. Bedags het jong krygers en hulle honde die beeste beskerm.

Een aand het ’n leeu deurgebreek en amok onder die beeste gesaai. Vetamuna het na die leeu gelê en luister en toe hy kon sien, het hy die spoor gevat. Hy het geweet daar lê ’n lang dag vir hom voor, maar hy was rustig. Sy honde het vooruitgeloop en Vetamuna, wat net met ’n assegaai gewapen was, het hulle gevolg.

Hy het geweet die digte bos waarin die leeu was, sou sy gooi belemmer en dat die leeu moes uitkom. Vetamuna het sy plek ingeneem en sy honde ingestuur. Die volgende oomblik het die leeu uit die bos gestorm. Hy het gemik en die assegaai in die leeu se oop bek gegooi en uit die pad gespring. Die majestueuse dier het inmekaar gesak met die assegaai diep in sy keel en gevrek. Vetamuna het besef dit was naelskraap. Dit was die jare toe mans nog mans was.

Koos het hom gedurende die volgende tien jaar voor sy dood gereeld besoek. Vetamuna se leierskap en toekomsblik word vandag gemis. Hy het nooit tydens ’n vergadering gepraat nie en mens het talle kere gedink hy slaap, maar wanneer hy aan die einde van die vergadering gepraat het, het niemand teruggepraat nie.

MBASEKAMA

Koos het vir Mbasekama in die negentigerjare ontmoet toe hy besig was om saam met argeoloë in die Omuhongarivier te werk.

Volgens Koos was hy ’n kalm man wat nooit harde woorde geuiter het nie. Die kinders het hom altyd omsingel en na sy stories geluister. Hy het ’n groot nedersetting gehad met baie beeste en kinders.

Hy het vir sy mense en hulle toekoms omgegee en die enigste keer wat hy woedend was, was in die laat 90’s toe daar sprake van ’n hidrodam in die Kunenerivier was. Hy het tydens ’n spreekbeurt by ’n vergadering op Opuwo sy gevoelens oor die dam duidelik gemaak. “Oor my dooie liggaam,” het Mbasekama gesê.

Hy is ’n paar jaar gelede dood en Koos het sy vragmotor vol mense gelaai en na Mbasekama se nedersetting gery. Honderde mense het daar bymekaargekom.

Ses lyksdraers het uit die dorp gekom. Die draers word in alle rigtings gestuur, met gepaardgaande aggressiewe danse en baie vroue.

“Ek het alleen gestaan toe hulle reguit na my toe kom. Die lyksdraers voor en honderde mense agter hulle – in stof gehul.

“Hulle stop toe met die liggaam reg voor my. ‘Hy wil begrawe word,’ het die seremoniemeester gesê, ‘hy het jou net kom groet. Sit jou hand op sy kop en ons sal hom begrawe.’

“Dit was ’n baie diep roerende oomblik in my lewe. ’n Goeie manier om afskeid van ’n ware leier, ’n nederige en genadige mens te neem.”

KATJIRA

Katjira was die geestelike leier van die Ovahimba en daar was gedurig mense in sy nedersetting van oraloor Kaokoland wat sy wysheid en raad gesoek het.

As ’n jong man het hy ’n olifant met ’n ou .303-geweer geskiet sodat hy ’n voertuig kon koop. Hy wou nie ’n olifant met ’n groot geweer en ’n teleskoop van ’n bakkie af skiet nie; hy het die dier bekruip en toe geskiet.

Namibië het destyds geen winkels gehad nie en mense moes oor die rivier en met die Portugese in Angola handel dryf. Katjira het beeste soontoe gevat en die prys vasgemaak. Daardie tyd was dit die gebruik om die kliënt dronk te maak en die transaksie eers die volgende dag te beklink.

Die volgende dag wanneer die kliënt die transaksie wil afhandel, het alles tot nadeel van die kliënt verander. ’n Argument en ’n polisieman het gevolg. Die straf: ’n diep, ronde sementgat met skerp metaalpunte aan die kant en wat tot heuphoogte met water gevul was. Toegemaak met ’n swaar deksel. As die kliënt baie sterk was, sou hy waarskynlik tot dag drie kon uithou voordat hy moes erken die winkeleienaar was wel reg.

Katjira het ook die beplande dam teengestaan. Sy hoofrede was die grafte langs die rivier waarvan hy elkeen vanaf die Hartmannvallei tot in Ruacana geken het. Hy was nie bang om te praat nie, hoewel hy daardie tyd naby aan sy einde was. Wanneer hy gepraat het, het almal geluister.

“My besoeke aan hom oor die 33 jaar was altyd baie kort en tot die punt. Hy het nooit vir iets gevra nie en hy was altyd grasieus.”

ZAHIKURA

Koos sê Zahikura was die man met die beste geheue wat hy nog ooit ontmoet het.

Hy het in die Zebraberge in Omumire grootgeword. Talle van die groot seremonies is gehou waar hy gewoon het en Zahikura het uit sy hut gekom en die geleenthede bygewoon.

Zahikura self het gesê hy is 120 jaar oud – dalk nog ouer. Dit is ook deur baie ander mense bevestig.

Hy het vir Koos vertel hoe hy een keer alleen in die berge rondgeloop en geval het. Hy het uit die berge gekruip en is met ’n gebreekte knie en ander beserings gevind. Hulle het hom Outjo toe geneem en hy is daar geopereer. Zahikura het nooit ten volle herstel nie.

Dit was egter sy geheue wat eenvoudig verstommend was. Hy kon dieselfde storie herhaaldelik met dieselfde feite vertel. Dan praat ons nie van gister se stories nie; ons praat van stories van 100 jaar gelede. En wanneer hy sy storie vertel, moes jy nie inmeng nie; hy kon baie vinnig sy humeur verloor. Hierdie stories is van Angola tot die hele Kunenestreek. Hoeveel kilometer hy in sy leeftyd gestap het, weet niemand nie.

“Elke keer as ek by hom gesit het, het ek klein gevoel. Hy het deur beide wêreldoorloë en al die ander oorloë geleef sonder om eens daarvan te weet.

“Maar in sy lewe het hy goed gesien en ervaar waaroor ons net kan droom. Hy was werklik ’n merkwaardige mens waarvoor ek die hoogste respek het en vir wie ek geweldig liefgeraak het.”

MAHUPIKUA

Mahupikua was die koningin van Okapare en op 22 Oktober 2021 het Koos en haar verhouding van 25 jaar tot ’n einde gekom.

Koos skryf: “Ek het ’n oproep ontvang dat sy na die intensiewesorgeenheid geneem is. Ons het almal geweet jou veggees was nie teen die onbekende siekte opgewasse nie.

“Ek was bevoorreg genoeg om haar te leer ken toe haar oupa nog gelewe het. Jy het al die lewenskwaliteite van hom geërf wat jou so ’n spesiale vrou gemaak het.

Sy was altyd vol energie en altyd bereid om te help waar nodig. Haar glimlag was altyd in oorvloed en selfs in die laaste maande het sy my met ’n mooi glimlag gegroet.

“Sy het vir twee weke ná my knie-operasie langs my bed gestaan.

“Ek onthou die dag in Omuhonga ’n paar jaar gelede toe ons die lewe van jou oupa Kapika gevier het. Ek het jou vorentoe geroep sodat ek jou en jou familie kon bedank vir alles wat julle vir my oor die jare beteken het. Jy was skaam maar jy het langs my kom staan en ons band het versterk. Jy sal altyd met my wees. Dankie vir alles wat jy in my lewe ingebring het. Jy is nou in die hemel en ons almal gaan na jou verlang. Ek sal na jou verlang. Jou liggaam is verlos maar jou siel en gees sal altyd by ons bly.

“Rus is vrede, koningin van Okapare, en God sal ons weer verenig.”

Koos het op 6 Oktober geval en is in die hospitaal opgeneem. Hy is op 27 Oktober oorlede.

Sy jarelange vriend, Berrie Holtzhausen, sal hom op 30 November in Kaokoland volgens sy wens en ingevolge die Himba-kultuur begrawe.

“Ek dink ook Ndjinaa [’n Himba-vrou] sal saamstem dat dit die manier moet wees om uiteindelik tot siens aan Koos te sê, omring deur haar voorvaders aan die voet van die ‘heilige berg’ van Okapari.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!