Koos Cunene se stem nou stil
Lewe vir Himbas en Kaokoland
"Toe hy geval het, het die gebied leeg geword."
“Kaokoland en ek het ’n pa verloor. My kinders het hulle oupa verloor,” het Juanine Tjambiru gesê.
Koos Cunene Verwey, vir meeste bekend as Koos Cunene, van die Epupa Falls Lodge het op 6 Oktober in Epupa geval. Hy is op 27 Oktober in Windhoek oorlede en sal volgens sy wense in Epupa tussen die Himbas begrawe word.
PA
Koos het Juanine vir 23 jaar soos ’n dogter grootgemaak.
“Ek was soos sy aangenome dogter, wel nou nie op papier nie, maar dit is hoe dit was.”
Koos het Camp Syncro in die Marienfluss-vallei by die Kunenerivier begin.
Juanine is Angolees en het aan die ander kant van die rivier gewoon. Op ’n dag het een van Koos se werkers vir haar en haar vriend, Grande, gesê Koos wil hulle ontmoet.
“Ons het oor die rivier gegaan en vir Koos en ’n wit vrou daar ontmoet. Dit was die eerste keer dat ek so naby aan wit mense was en ek het ’n stukkie weggehardloop. Koos het my geroep en vir my ’n stukkie piesangbrood aangebied. Ek het op my knieë gegaan en my hande oop voor my uitgesteek. Dit is wat jy in my kultuur doen wanneer ’n vreemdeling vir jou iets gee om dankie te sê.”
Toe sy nege jaar oud was het ’n oom van Juanine vir haar gesê sy moet skool toe gaan.
“Ek het elke dag sewe kilometer gestap om by die skool uit te kom. En amper elke dag het Koos en sy gaste vir my op pad huis toe gekry en vir my ’n saamrygeleentheid gegee.
“Hy het my na Camp Syncro uitgenooi. Ek en twee niggies het soontoe gegaan en daar begin uithelp. Syncro was drie kilometer van die skool af.”
Juanine het onder Koos se vlek eers in Camp Syncro en van 2009 by die Epupa Falls Lodge grootgeword.
“Hy het my Windhoek gewys, alles van toere-ry geleer en saam met hom het ek vir die Himbas gesorg. Ek was saam met hom deur dik en dun.”
HIMBAS
“Koos was soos ’n Himba. In 2002 was daar ’n erge malaria-uitbreking in die Marienfluss-vallei en hy het self medisyne gekoop en al die mense gehelp. Dit was te danke aan hom dat ons nie een persoon verloor het nie.”
’n Ander voorbeeld hoe hy mense gehelp het, is sy projek waar hy die mandjies van die Himba-vroue gekoop en weer in Europa verkoop het sodat hulle ’n inkomste kan verdien.
Hy het ook die mense geleer hoe om diere te versorg en die natuur te bewaar. Hy het hulle van bewaringsgebiede en die belangrikheid daarvan geleer.
“Hy het elke siek man, vrou of kind gehelp. Hy was die eerste persoon by ’n begrafnis, ongeag wie dood is. Die gemeenskap kon 02:00 aan sy deur klop en om hulp vra en hy het die voertuig gestart.”
Sy sê Koos het altyd gesê: “Harde werk sal jou dinge in die lewe gee, luiheid sal jou niks bring nie.”
“Hy was ’n hardwerkende man. Hy het in die wind en weer in die bloedige son van Afrika gestaan en langs sy werkers gewerk. As hulle 05:00 moes begin, het hy hulle wakker gemaak, en langs hulle gewerk tot hy in die aand laaste gaan sit het.
“Toe hy geval het, het die gebied leeg geword.”
VRIEND
Berrie Holtzhausen van Alzheimer Dementia Namibia het vir Koos vir meer as 60 jaar geken.
“Ons het saam as kaalvoetkinders in die stofstrate van Mariental grootgeword; kattekwaad aangevang, gespeel en bokke gemelk. Ons het juis dié jaar 50 jaar gelede matriek geskryf.”
Volgens hom het Koos reeds toe hy in graad 10 was ’n brief aan die hoof van die weermag geskryf en gesê hy wil ’n soldaat word.
“Ná matriek het ons paaie geskei. Hy is weermag toe en het ’n soldaat geword. Hy het nie baie oor sy tyd in die weermag gepraat nie en het na onafhanklikwording uit die weermag bedank. Hy het Camp Syncro begin op die plek waarvoor hy baie lief geraak het.”
Die twee het kontak verloor en in 2011, toe Berrie op die plaas Jakandonga sy die eerste demensie-versorgingsoord begin het, het hulle weer kontak gemaak.
“Ek het ’n sleepwa gesoek en hy het my gekontak en gevra of ek hom nog kan onthou. Sy bynaam was Karakoel en myne was Boesmanskets. Natuurlik het ek onthou wie hy is en hy het gesê hy het ’n sleepwa vir my en ek kan hom kom haal. Ek het opgery en ons het mekaar in Opuwo ontmoet.”
Hulle het die volgende dag die 300 kilometer na Camp Syncro aangepak.
“Ons het in die rivierloop middagete geniet en ek het gesien hoe hy sy werkers met respek behandel. Met sonsak het ons by die Rooi Drom gestop en Koos het oudergewoonte op die grond gaan sit en aan sy pyp gesuig terwyl hy oor die geel gras gekyk het. Dit is sy kantoor, het hy gesê, hier is nie tyd nie en kyk al die ruimte.”
Ná 11 ure het hulle by die kamp aangekom. Berrie was weer verbaas toe hy sien hoe Koos elke werker met ’n drukkie groet.
“Ons het op die grond geslaap en oor ons kinderjare gesels toe ek vir hom sê hy het baie verander en is glad nie meer soos die kind wat ek geken het nie. Hy het gesê die mense het hom verander en sy storie vertel.”
Volgens Koos het ’n krokodil ’n jong Angolese meisie gevang, wat deur die rivier geloop het op pad skool toe. Die gemeenskap het hom gevra om na die ma te gaan soek; Koos het haar ná twee dae gekry.
“Ek het in die hut ingestap en ’n vrou op die bed sien lê. Ek het by haar gekniel en haar hande in myne gevat en sy het onbeheerlik gehuil. Ek het daar besef sy is ’n mens soos ek en dat ons verkeerd grootgemaak is. Ons is verkeerd geleer. Ek het dit daar besef en verander,” het Koos gesê.
NDJINAA
In 2012 het Berrie vir Koos in Epupa gaan kuier en is hulle saam na hoofman Kapika se opstal toe.
“Koos het my die hele opstal gewys en toe ons by die een hut verbyloop hoor ek ’n vrou gil.
“Koos het verduidelik dat sy ’n heks is en in die huis vasgeketting is. Ek kon dit nie los nie en Koos het dit geweet. Saam het ons besluit om Ndjinaa uit haar kettings te bevry en vir haar ’n nuwe lewe te gee.”
’n Paar maande later het Koos, Berrie en hoofman Kapika saam onder ’n boom gesit en Ndjinaa se toekoms beplan.
“Koos het gereël dat twee Himba-meisies saam met my Otjiwarongo toe gaan sodat ek hulle kan oplei om met demensielyers te werk.
“Op 12 Desember 2012 het ons vir Ndjinaa van haar kettings van 20 jaar bevry. Agtien maande later het hoofman Kapika vir sy suster Ndjinaa ’n stukkie grond gegee en Koos en sy werkers het vir haar ’n opstal met vyf hutte gebou. Hy het daarna elke week water en voorrade vir haar aangery. Sonder Koos sou ons nie vir haar ֽ’n nuwe lewe kon gee nie.”
“Koos het van die begin af gesê dat hy nie die Himba-kultuur wil verander nie. Hy is slegs daar om by te staan en te help. Daar was nie ’n begrafnis waar hy nie water, meel en mense aangery het nie. Almal het hom geken. Hulle het hom die wit Himba genoem en hulle kinders Koos of Klein Koos.”
FAMILIE
Koos se tweede oudste seun, Marius Verwey, het twee kinders, Limarie en Arina. Koos het ook ’n dogter, Elmarize Kunert met twee kinders, Zuria en Josua.
Marius sê: “Koos het vroeg in sy lewe geskei. Ek het gereeld by hom gaan kuier en hy het nou en dan by my suster in Otjiwarongo ’n draai gemaak. Hy het daarvan gehou om stories uit sy verlede vir die kleinkinders te vertel. Hy was ’n harde man wat van werk gehou het en hy het nooit stilgesit nie.
“Wat altyd vir my sal uitstaan is die geluk en vreugde wat hy ervaar het wanneer my bakkie by die lodge ingedraai het. In die dae toe ons jonger was en almal nog onder een dak gebly het, was hy ons held.
“Die begrafnis word Saterdag 4 November gehou. Hy sou op 3 November 69 geword het. Dankie aan ons Hemelse Vader wat hom ná die ongeluk uit sy pyn verlos het. Vir ’n man wat altyd op sy voete was, sou hy nie ’n lewe in ’n rolstoel kon hanteer nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie