Johan Tromp van Inventec Nam op Otjiwarongo met een van sy kruiwaens. Foto verskaf
Johan Tromp van Inventec Nam op Otjiwarongo met een van sy kruiwaens. Foto verskaf

Kruiwaens wat toets van tyd deurstaan

Tanja Bause
“Ons hier in Namibië is so gewoond daaraan om op Suid-Afrika se rug te ry. Of dit nou goeie kwaliteit is of nie, ons moet alles invoer, al kan ons dit self maak. Ons hande is mos nie rond nie,” het Johan Tromp van Inventec Nam op Otjiwarongo gesê.

Dié besigheid is aanvanklik op die been gebring om masjinerie vir ontbossing te ontwerp en te bou.

“Mense het byvoorbeeld vir my gevra of ek nie op die kettingsaag kan verbeter nie, toe het ons een ontwerp en gemaak. Maar eintlik ontwerp en bou ons allerhande masjiene en toerusting.”

Inventec Nam se uitvoerproduk is egter hulle robuuste en duursame kruiwaens.

“Ons kruiwaens is in Suid-Afrika en Angola, maar hier in Namibië kan jy hulle slegs by ons in Otjiwarongo koop omdat die landboukoöperasies en boubedrywe dit nie in hulle winkels aanhou nie.”

Die kruiwaens word met die hand gebou en ‘n 1,6 mm-staalplaat word vir die bak gebruik - wat die kruiwa sterker en meer duursaam maak. Die bak word ook op die raamwerk vasgesweis en die wiel is breër en groter.

“Ons met self begin vervaardig en ophou invoer, maar dit moet bekostigbaar wees. My kruiwa is duurder ja, maar hy gaan jou baie langer hou as enige van dié wat jy in ‘n winkel koop.”

Johan skat hy het al sowat 1 000 kruiwaens sedert sy eerste een in 2009 gemaak.

HANDIG

“Ek is nie ‘n ingenieur nie, ek is ‘n boer en ons plaasboere is mos maar handig. Ek ontwerp en bou graag goed. Ek is nie ‘n moroon nie en my hande is nie rond nie, so wanneer iemand na my toe kom en vra kan of ek dít of daai kan maak, dan doen ek dit. Of as hulle vra kan ek hierop verbeter, dan ontwerp ek dit, toets dit behoorlik en laat weet jou.”

Johan doen alles met die hand en hy is ook nie van plan om te meganiseer nie omdat hy op die oomblik werk skep.

“Ek sê altyd as ek ‘n fout met een van my produkte gemaak het en dit gaan dalk stukkend, dan vervang ek dit of maak dit reg. Maar dan sê ek ook terselfdertyd daar mag nie foute gebeur nie, daar moet niks teruggebring word nie.

“My produkte is duursaam, sterk, prakties en netjies. Hulle is hier in Namibië met die hand gemaak. Hulle is gemaak vir werk en vir die land.”

Sy kliënte is duidelik ook tevrede met sy handewerk, en Republikein het onlangs ‘n WhatsApp ontvang van ‘n man wat in 2005 twee van Johan se kruiwaens gekoop het wat hy tot vandag toe nog sonder probleme gebruik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!