SELF-EMPLOYED: Self-employed Kulete Domingos (22), posing in front of his business stall. Photo Nikanor Nangolo
SELF-EMPLOYED: Self-employed Kulete Domingos (22), posing in front of his business stall. Photo Nikanor Nangolo

Kulete skep sy eie hoop

Honger en swaarkry 'lei tot misdaad'
In plaas daarvan om aan groepsdruk toe te gee, streef die graad 10-leerling van Sarusungu Gekombineerde Skool na 'n beter toekoms.
Kristien Kruger
Nikanor Nangolo - Hy het gesien hoe sy vriende in die Kaisosi-informele nedersetting in Rundu hul tot misdaad wend as 'n manier van oorlewing, maar die 22-jarige Kulete Domingos het eerder gekies om sy eie besigheid te begin.

Domingos, wat oorspronklik van Angola is, het as 'n vlugteling saam met sy twee ouer broers na Namibië verhuis op soek na 'n beter lewe.

Die optimistiese Domingos werk hard en is vasbeslote om vir homself 'n beter toekoms te skep. Buiten vir sy skoolverpligtinge verkoop hy skyfies, lekkers, koekies, vuurmaakhout en vetkoeke vanuit hul huis.

“Daar is baie uitdagings in ons gemeenskap soos 'n hoë misdaadsyfer onder die jeug, 'n gebrek aan water en die belangrikste uitdaging is honger wat bydra tot die hoë misdaadsyfer. Die jeug wend hulle tot misdaad omdat die meeste van hulle uit huishoudings kom met ouers of voogde wat nie vir hulle kan voorsien nie,” sê Domingos.

Volgens hom is die misdade wat veral in dié gemeenskap gepleeg word, diefstal, aanranding en huisbraak.

“Die honger dryf mense, veral die jeug, om dinge te doen sonder om aan die gevolge te dink. As iemand wat vir dae nie geëet het nie sien hoe jy brood bêre wat jy gekoop het en 'n bietjie van geëet het, kan dit ernstige probleme veroorsaak.”

“Daardie persoon kan dalk by jou kamer inbreek net om daardie brood in die hande te kry en as jy weier om dit vir hulle te gee, kan hulle dalk tot geweld draai of nog erger en jou op die ou einde doodmaak vir ’n klein stukkie brood,” het hy gesê.

Volgens Domingos wend sommige kinders hulle ook tot alkohol en dwelms omdat hulle dit as 'n oplossing vir hul lewensprobleme beskou. Volgens hom vererger dit gewoonlik net hul situasies.

“Ons leef in 'n gemeenskap waar sommige mense bevoorreg genoeg is om ander te help, maar kies om dit nie te doen nie. As gevolg hiervan het kinders so jonk as 10 jaar oud hulle tot misdaad gewend om mense se besittings met geweld af te vat om te gaan verkoop, net om vir hulself iets te kan kry om te eet. Sommige van die kinders het ook uit die skool gegaan omdat daar nie geld is nie.”

GEWERK VIR KAPITAAL

Voordat Domingos sy besigheid begin het, sê hy daar was 'n paar keer – veral gedurende die dae waar hy niks gehad het om te eet nie – dat hy amper tot misdaad oorgegaan het. Hy voel dat groepsdruk veral ’n rol gespeel het.

“Soms het hulle vir my dinge gesê soos, ‘kom ons gaan gryp 'n foon sodat ons ten minste N$200 kan kry om kos te koop op pad skool toe’. Maar ek sou altyd dink aan die gevolge soos om in die tronk te beland en wat my ontmoedig en weerhou het daarvan om diefstal te pleeg,” vertel hy.

Domingos moes voordat hy met sy besigheid kon begin 'n manier vind om geld vir die aankoop van voorraad te kry. Hy vertel dat hy leë bottels ingesamel en later verkoop het. So kon hy genoeg geld insamel om met sy besigheid te begin.

“Besigheid is soms ’n langdurige proses, maar ek dink dit is maar hoe die lewe is,” het hy gesê.

AFNAME IN GEWELD

Ten spyte van kommer oor die hoë misdaadsyfer in Kaisosi sê die waarnemende streekbevelvoerder van die Kavango-Oosstreek, Eino Nambahu, die streek het in vergelyking met die vorige jaar 'n afname in misdaad gesien.

“Sedert die begin van die feesseisoen verlede jaar het ons 'n afname in misdaad in dié omgewing gesien,” het hy gesê.

Nambahu glo nie honger moet 'n rede vir jong mense wees om misdaad te pleeg nie.

"Dié wat gevang word dat hulle ander beroof of aanrand sal in hegtenis geneem word. Ek verseker jou 'n lewe in aanhouding is nie 'n lewe wat enigiemand wil hê nie," waasku hy.

Hy het gemeenskapslede aangeraai om na die kantoor van die goewerneur te gaan om kwessies soos honger aan te meld.

“Ek wil nie sien dat die jeug hulself met misdaad besig hou nie. Ons wil graag sien dat die jeug in groepe bymekaarkom en met idees vir projekte vorendag kom. Daar is fondse beskikbaar om jeugprojekte te finansier wat hulle in staat kan stel om bydraende landsburgers te word in plaas daarvan om hulle tot misdaad te wend,” het Nambahu gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer