Kuns maak stamselterapie moontlik

Tufi se ontwerpe op T-hemde
'n Veertienjarige meisie het onwetend twee uiteenlopende wêrelde bymekaargebring.
Tanja Bause
Tuufillwa (Tufi) Ndamonako is ’n 14-jarige-meisie wat nie ’n maklike begin in die lewe gehad het nie.

In die laaste vyf jaar het Tufi se lewe verander en nou word haar kunswerke gebruik om geld in te samel vir stamselterapie wat haar lewensomstandighede nóg beter kan maak.

Tufi is ’n leerling aan die Dagbreek Skool in Windhoek en vyf jaar gelede het Karlien Kruger ’n verjaardagviering bygewoon en een van Tufi se onderwysers ontmoet.

“Sy het gevra of ek nie iemand ken wat ’n koshuismeisie naweke en vakansies wil uitneem nie aangesien sy nêrens het om heen te gaan nie. Ek het daaroor gedink en besluit om Tufi vir ’n naweek of twee huis toe te neem om te kyk of dit sal werk. Dit was nie lank nie toe het ek gevoel asof sy hier hoort. Sy is my dogter,” het Kruger gesê.

Tufi is aanvanklik met serebrale gestremdheid gediagnoseer en het ’n beroerte op die ouderdom van agt maande gehad. Sy was in ’n koma vir sowat ’n maand en toe sy uit die koma gekom het, was haar regterkant verlam.

“Die dokters het gesê sy sal nooit kan loop nie en sal vir die res van haar lewe rolstoelgebonde wees. Hulle het egter nie besef wat ’n vegter sy is nie. Tufi loop vandag by haar self alhoewel met ’n bietjie moeite.”

Tufi het nooit haar regterarm in ag geneem nie en toe sy na Kruger toe gegaan het, het sy altyd gesê sy het net een arm.

“Ek het haar aangemoedig om ‘hallo’ vir haar hand en arm te sê; om haar arm te erken. As jy haar hand kielie, voel sy dit. Tufi het begin om haar arm te erken en die armpie word al hoe sterker. Wanneer sy die trollie in ’n winkel stoot, sit sy nou haar regterarm ook op die trollie om te help stoot. Sy probeer om twee arm drukkies te gee. Sy maak grappies met hom. Ek het nou die dag lekkers op my hand gesit en gesê as sy vinnig genoeg is en die lekkers kan gryp, kan sy dit kry. Sy het haar regterarm gebruik om my aandag af te lei en toe gryp sy al die lekkers met haar linkerhand. Sy verras my dikwels met die vaardighede wat sy haarself aangeleer het om verskillende situasies te hanteer. Sy het ook ’n goeie sin vir humor.”

FAMILIE

Tufi se ma, Ndahafa Ndamonako, en haar familie en Kruger en haar familie is nou een groot familie en beide beskou Tufi as die kleinkind.

“Die klein meisie het twee verskillende wêrelde bymekaargebring. Haar ouma en oupa was Swapo-soldate, my oupa was ’n groot AWB-aanhanger en beide die families het nooit gedink hulle sal ooit om dieselfde vuur sit nie. Nou sit my pa en haar oupa saam om die eetkamertafel en gesels asof hulle mekaar nog altyd geken het. Ek en Tufi vier 24 Desember Kersfees by my familie en die 25ste by haar familie. My ma het ’n kleinkind gekry en die Ndamonako-familie ’n dogter.”

Tufi se ma is nog altyd deel van haar lewe en die twee vroue het ’n sterk band met een doelwit en dit is om die beste moontlike lewe vir Tufi te gee.

STAMSELTERAPIE

“Ek het vir Tufi na dr. Tommy van Wyk geneem en hy het gesê sy is ’n goeie kandidaat vir stamselterapie en dit kan van die breinskade wat sy in haar vroeë jare opgedoen het, omkeer. Dit kan ook vir haar ADHD help en dit is reeds ’n wenner, want dit sal beteken sy sal beter kan fokus.”

Die mediese fonds dek nie die terapie nie en Kruger het besluit om Tufi se kunswerke te gebruik om T-hemde te maak.

KUNS DEUR TUFI

“Sy is nes ek, baie lief om te teken en ek het altyd penne en papier vir haar gegee om te teken. Ek het een keer gesê sy moet ’n kat teken en Tufi het geantwoord sy weet nie hoe om ’n kat te teken nie. Ek het vir haar gesê sy moet ’n kat teken soos sy dink ’n kat moet lyk en sy het die oulikste vierkantige katte geteken. Dis waar die idee begin het om T-hemde te maak om geld vir haar behandeling in te samel.”

Die eerste reeks T-hemde het verskillende leeus op en kan in verskillende kleure en groottes bestel word. Gaan loer op Facebook by Art by Tufi vir die ontwerpe, kleure en groottes.

“Die volgende reeks sal haar katte wees. Ek het ook gedink om die reeks uit te brei na byvoorbeeld potloodsakkies of waterbottels en ander items wat kinders gebruik. Dit is kuns wat ’n Namibiese kind vir kinders teken en is tog beter as Hello Kitty of so iets.”

Kruger wil die eerste geld wat ingesamel word vir Tufi gebruik, maar die geld wat daarna ingesamel word, sal gebruik word om ander kinders te help om ’n beter kans in die lewe te kry. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!