Kyra droom groot

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Haar eerste groot konsert was in 2004 by die Duitse Kindergarten op Swakopmund en vandaar het alles – van skool- en leerwerk tot om die kat kos te gee – in ’n konsert verander.

Vandag het Kyra Janse van Rensburg wat 21 jaar gelede op dié vakansiedorp gebore is, vir eers Abu Dhabi haar tuiste gemaak.

Diè oud-Namibiër het sedert haar eerste wankelrige konsertdebuut al in verskeie Hollywood-films saam met groot name in die bedryf verskyn.

Die jongste is My Spy: Eternal City met Dave Batista wat vandag vrygestel word. Die rolprent volg die dinamiese duo JJ (Dave Batista), ’n veteraan CIA-agent en sy 14-jarige stiefdogter en protégé Sophie (Chloe Coleman) wat tydens ’n toer van die skoolkoor na Italië moet ingryp toe die Vatikaan ’n teiken van ’n kernkragkomplot raak. Haar absolute passie om te “perform” loop soos ’n fyn draadjie deur haar skoolloopbaan toe sy liedjies gesing het as sy ’n langvraag moes antwoord – om die antwoord te kan onthou, het sy net die wysie begin neurie en siedaar, sy het die antwoord gehad!

In 2010, nadat sy na Stellenbosch in Suid-Afrika verhuis het, het sy besluit om ’n aktrise te word en vandaar het Kyra elke geleentheid wat sy kon kry, aangegryp om op die verhoog te wees. Van toneelstukke, tot prosa en poësie en die goue diplomas en kommentaar van beoordelaars was dit eens: Kyra het ’n natuurlike talent.

Sy het by ander akteurs gaan aanklop vir slypskole vir professionele verhoogopleiding en vir oudisies gegaan as agtergrond-akteur vir rolprente en advertensies. Dit het haar goed geskool in hoe dit op die stel van ’n rolprent werk. Haar droom was van die begin af om “internasionaal en groot” te gaan, met haar natuurlike talent wat deur internasionale regisseurs geprys is en wat haar aangemoedig het om nooit die rolprentbedryf te los nie, omdat haar talent en haar gesigstruktuur vir haar nog baie deure gaan open.

Tot op hede sluit haar ervaring as agtergrond-akteur Revelation Road (vier reekse) met David White, The Widow met Kate Beckinsale, die Black Mirror-reeks met Miley Cyrus en One Piece Panda Productions wat die grootste rolverdeling ooit in Suid-Afrika gehad het.

Sy het ook as agtergrond-akteur in verskeie advertensies vir onder meer Axe en Bouwer Bosch-braaidag verskyn. Kyra se motto is om bitter hard te werk om genoeg geld te verdien om haar passie in die lewe te volg. Dit het gemaak dat sy ná skool in van Indië tot Thailand tot Italië kon gaan draai met die geld wat sy verdien en gespaar het. As toegewyde Christen doen Kyra ook baie sendingwerk. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!