Landi maak naam in Texas

Kristien Kruger
Die Namibiese sangeres Landi Bonthuys het onlangs naam gemaak in Amerika toe haar oorspronklike liedjie ’n prys by die Texas Sounds International Countrymusiek-toekennings losgeslaan het.

“Ek is so trots om Namibië se vlag na die geleentheid te kon bring. Dit sal voortaan elke jaar gesien word; dit sal tydens die geleentheid wapper,” vertel Landi.

Tydens die kompetisie het sy ou en nuwe country-liedjies gesing en natuurlik ook haar eie liedjie “I will find you”, wat sy verlede jaar vrygestel het. Sy het ’n country-rock-weergawe van die liedjie tydens die geleentheid opgevoer.

“Ek was so verbaas [om te wen], daar was regtig baie mooi oorspronklike liedjies.”

Altesaam 21 deelnemers van 16 verskillende lande het aan die kompetisie deelgeneem en wenners is in 12 verskillende kategorieë aangewys.

“Dit was ’n absolute belewenis om ander sangers oor die wêreld heen te ontmoet. Almal het so goed oor die weg gekom. Ons het eintlik vergeet dis ’n kompetisie.”

Landi sing al van kleintyd af en het haar eerste country-album op die ouderdom van 15 opgeneem en kort daarna haar eie liedjies begin skryf.

“My toekomsplanne sluit in om meer op liedjieskryf te fokus. Ek het ongelooflike inspirasie gekry soos ons deur verskillende state en kulture gereis het. Ek was ook geseënd om bietjie in Nashville te kon sing,” sê sy.

Die kompetisie het op 4 en 5 Oktober in Marchall in Texas plaasgevind en Landi het daarna van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie te toer. Sy sal eers later vandeesweek na Namibië terugkeer.

“Texas laat my eintlik baie aan Namibië dink. Die weer is warm, so ek het heel tuis gevoel. Dit was nie lank nie toe ‘ya’ll’ ek net soos ’n Texan,” spot Landi.

“Daar is bitter baie om te sien en musiek is in hul kultuur ingeweef.”

Landi sê dat sy opgewonde is om terug te kom Namibië toe en al die stories met haar familie en vriende te deel. Sy is ook baie dankbaar vir al die ondersteuning wat sy van mense in Namibië en Suid-Afrika ontvang het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!