Leerlinge sorg vir splinternuwe vlag

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Sekondêre Skool Tsumeb spog met ’n splinternuwe skoolvlag nadat die skool se graad 8’s geld ingesamel het om ’n nuwe een te koop.

Conville Jankowski, ’n onderwyser verbonde aan die skool, vertel trots dat elkeen van die 33 leerlinge dit bygedra het wat hulle kon om die nuwe vlag te koop.

Volgens Jankowski het een van die leerlinge einde Januarie tydens ’n bespreking in die klas gevra waarom net die Namibiese vlag tydens saalbyeenkomste gehys word.

Die vlag wat die skool wel gehad het, was selfgemaak en het beter dae geken. Jankowski het die skoolbestuur genader vir die aankoop van ’n nuwe vlag, maar daar was egter nie geld in die begroting hiervoor beskikbaar nie. Die graad 8’s het besluit om self die nodige geld in te samel en het elkeen gegee wat hy of sy kon.

“Die leerlinge kom van verskillende agtergronde en elkeen van hulle het bygedra wat hulle gehad het. Van N$2 tot N$20 uit hul spaargeld of werkies wat hulle verrig het.”

Altesaam N$680 is ingesamel en Jankowski het die res bygedra om die vlag te bestel wat N$800 gekos het.

Volgens hom het niemand buiten die betrokke leerlinge van die planne en insameling van die nuwe vlag geweet nie. Maandag toe dit die graad 8’s se beurt vir die saalbyeenkoms was, was dit dus ’n grootse en trotse oomblik toe die skool se splinternuwe vlag vir die eerste keer saam met die Namibiese vlag tydens die skoollied gehys kon word.

“Almal het hande geklap en was bly en trots oor onse vlag!”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer