Lewcor is in goeie hande

Tanja Bause
Die sakeman en stigter van Lewcor Holdings (Edms) Bpk, mnr. Chris Lewis (71), het verlede Donderdag in ’n motorongeluk gesterf toe sy voertuig op die hoofpad tussen Okahandja en Ovitoto omgeslaan het.

Mnr. Beno Snewe (21), die enigste passasier in die voertuig, is ook op die toneel dood.

Ten tyde van die ongeluk was Lewis gesond en het steeds gewerk, alhoewel hy vir ’n geruime tyd teen ’n kwaadaardige melanoom geveg het.

In 1988 toe hy vir Malaysia's Overseas Petroleum and Investment Company (OPIC) gewerk het, het hy vir Lewcor begin.

Hoewel sy seuns, Helmuth en Thiaan Lewis, die afgelope paar jaar Lewcor bestuur het, het hy tot sy heengaan daar gewerk. Lewis het sy lewe aan Namibië, sy besigheid en sy familie gewy.

Boodskappe van plaaslike en internasionale vriende, familie en sakemense het die Lewcor-groep oorstroom.

Lewis het altyd volgehou dat Lewcor ten volle deur Namibiërs besit en bestuur sal word.

Hy was die dryfkrag en het verseker elke besluit wat binne die Lewcor-groep geneem word, was altyd in die beste belang van Namibië en sy mense; iets wat sy twee seuns sal voortsit.

Die Lewcor-groep is ‘n 100% Namibiese maatskappy wat ongeveer 1 200 Namibiërs in diens het.

Die maatskappy het met ‘n enkele grondverskuiwingsmasjien begin wat gebruik is om ‘n Telecom-sloot vir optiese veselkabellyne vanaf Ruacana na Okahandja te grawe.

Die Lewcor-groep besit vandag meer as 540 grondverskuiwingstoerusting. Ten spyte van sy aansienlike groei en sukses, was Lewis bekend as ‘n leier met ‘n oopdeurbeleid, altyd nederig en ‘n absolute heer.

Die groep het op 2 Oktober 2020 met trots die finalisering van die Elizabethbaai-mynverkoping aangekondig.

Hierdie aankondiging het beteken dat Elizabethbaai en sy geassosieerde mariene bates met trots onder die eienaarskap van Sperrgebiet Diamond Mining (Edms) Bpk (SDM) val.

SDM is deur Lewcor Holdings (Edms) Bpk gestig en ’n 5%-aandeel is aan ‘n Werknemerstrust toegeken. Dit was die eerste keer dat dié myn in ‘n eeu van eienaar gewissel het.

Lewis was aan die voorpunt van dié transaksies, met die ondersteuning van sy twee seuns en die Lewcor-groep se direkteure. Hy was ook aktief betrokke om bykomende beleggersfinansiering na die land te lok.

Sy oudste seun, Chris, is die eienaar en bestuurder van die Kasosi River Lodge buite Rundu en sy dogter, Charan Mann, is die adjunkpresident van een van OneAmerica se filiale. Sy woon in die Verenigde State van Amerika.

Lewcor sal deur Helmuth en Thiaan uitgebrei, bestuur en besit word.

“Lewcor word as ’n familiebesigheid beskou en dit sal steeds sodanig besit en bedryf word,” het Helmuth, die besturende direkteur, gesê.

Me. Monika Lewis, het van haar man gesê: “Hy het altyd tyd gehad vir werk en vir familie. Ten spyte van ons hartseer oor hierdie tragedie, sal ons nooit ons man, pa, oupa en vriend se nalatenskap vergeet nie. Chris sal altyd in ons harte bly.”

Sy begrafnis vind môre om 11:00 in die NG Kerk Okahandja plaas. Die begrafnis sal ook vanaf 11:00 regstreeks op Lewcor se Facebook-blad uitgesaai word.

Die Lewis-familie wil graag hul dank uitspreek teenoor die Namibiese mense vir hul meegevoel en ondersteuning met die heengaan van hul man, pa en oupa.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!