• Tuisblad
  • Mense
  • Linda skep vars begin onder moeilike omstandighede

Linda skep vars begin onder moeilike omstandighede

Sy is nie ’n dag spyt nie
'n Vroue-haasboer van Helmeringhausen se omgewing sê deeglike navorsing en om klomp vrae te vra, is nodig om 'n nuwe rigting in te slaan.
Tanja Bause
“Om met hase te boer is soos om met enige ander dier te boer. Dié hase is vleishase. Hulle is nes koeie, skape of bokke, hulle het nie name nie. Net soos jy enige ander vleis in die winkel of slaghuis sou koop, koop jy ’n karkas en nie die fluffy hasie nie,” het Linda Looser (65), ’n haasboer van die Helmeringhausen-omgewing, gesê.

“Ek is op Lüderitz gebore; nog in die ou Shark-eiland se hospitaal toe die seevisserye se gebou nog ’n hospitaal was. My pa was ’n Namibiese boer en my ma ’n Engelssprekende van Kaapstad. My oupa het ’n plaas in die Visrivier gehad.”

Sy was op Lüderitz in die laerskool en het haar hoërskoolloopbaan in Walvisbaai voltooi.

“Ná skool het ek orals heen gegaan en verskeie dinge probeer, gesien en ervaar tot ek weer terug na Lüderitz en my wortels gekeer het.”

HUWELIK

Haar man, Erich Looser, kom ook van Lüderitz en soos alle Buchters het die twee mekaar geken.

Met Linda se terugkoms was Erich en haar kantore langs mekaar en hulle het mekaar weer ontmoet en begin gesels.

“Ná Erich se vrou se afsterwe, het ons meer en meer begin gesels en nader aan mekaar beweeg totdat ons op die ou einde getroud is.”

Die egpaar was betrokke by die opknapping en opgradering van die Hermine Offen Haus-ouetehuis op Lüderitz. Linda was ook aan die stuur van hul gastehuis, Haus Sandrose.

“Die ouetehuis en ons gastehuis het my besig gehou.”

LüDERITZ

“My dogter, dit is nou Erich se dogter, het kom kuier. Ek sê altyd ek het nie geboorte aan Erich se twee kinders geskenk nie, maar hulle is uit my hart gebore. Sy was ’n kunsafslaer op ’n groot plesierskip. Sy was ’n week by die huis toe Covid-19 ons tref en die land toegemaak het.”

Sy kon nie die land verlaat nie en die gastehuis se bedrywighede het weens ’n gebrek aan toeriste stilgestaan. Linda het begin dink oor wat die toekoms inhou en wat hulle as familie gaan doen.

“Ek het geweet sy sal nie vir werk kan aansoek doen nie, aangesien mense weens die pandemie eerder hulle werk verloor het as wat hulle aangestel is. Dit is toe ek besluit het dat sy die gastehuis moet oorneem en ek sal iets anders soek om te doen.”

HASE

“Ons is Christene en ek het die Here gevra wat ons nou moet doen en die pad wat die Here vir my gewys het, was dat ek met ’n haasboerdery moet begin. Ek het niks van hase of boerdery geweet nie en het ook nou nog baie om te leer. Die internet is ’n wonderlike ding en het my baie geleer. Aangesien daar nie baie inligting oor haasboerdery in Suid-Afrika of Namibië bestaan nie, moes ek verskeie aanpassings maak.”

Die egpaar het die idee bespreek en vir Jörg en Michelle Gaugler, wat net buite Helmeringhausen boer, vir ’n stuk grond genader.

“Ek het as kind altyd Jörg se oupa Pauli Bader se huis opgepas en nou teel ek met hase op sy kleinseun se plaas.”

Die Gauglers het ’n klein huis sowat sewe kilometer van hul plaashuis wat die Loosers by hulle huur. Linda boer nou al vir 18 maande met hase op dié stukkie grond.

Sy boer met twee verskillende rasse. Die SA Phendula wat vir die Suid-Afrikaanse en Namibiese klimaat geteel is. Die lang ore en groot voete van die ras is om hitte en koue te kan weerstaan. Die New Zeeland White is ’n algemene slaghaasras in Suid-Afrika, Namibië en die buiteland. Linda het dié suiwer rasse, maar ook kruisings van die twee rasse.

“Ek het met ses hase begin en verlede maand het ek die meeste hase nog getel. Ek het 78 hase gehad waarvan die grootste een geslag drie kilogram geweeg het. Ek het tans 58 hase,” het Linda gesê.

Sy het ook 20 lewende hase aan ’n persoon verkoop wat nou in Windhoek met hase wil begin boer.

“Die mark is onbekend in Namibië omdat mense aan hase as troeteldiere dink wat nie geëet mag word nie. Hulle sien nie haasvleis as kommersiële vleis nie. Hulle dink net aan die klein hasie wat in die tuin rondspring. My hase het nie name nie. Wanneer jy die karkas in die winkel koop, is dit soos ’n skaapkarkas; jy weet nie hoe die dier voor die tyd gelyk het nie. Jy weet nie of jy vir Suzie of vir Jannie eet nie. Jy koop die vleis en maak dit gaar. Dis soos ’n steak wat jy koop, jy weet nie of dit ’n koei of ’n bul was en wat die kleur was nie. Dis soos ’n bees wat geslag is en jy die vleis koop om voor te berei.”

Haasvleis is ’n wit vleis wat omtrent soos hoedervleis lyk. Dit het ’n lae vetinhoud en is dus baie gesond veral vir mense met gesondheidsprobleme.

“Die boerdery val ook onder pluimveeboerdery. Hase word nie as kleinvee beskou nie.”

Linda verkoop haar produk op Lüderitz veral aan die groot aantal Spanjaarde en Franse wat tans op die dorp werk.

“Soms het ek baie hase en ek weet nie of ek hulle verkoop sal kry nie, maar dan kry ek ’n oproep en iemand plaas weer ’n bestelling. So ek is nog nie ’n dag spyt dat ek die stap geneem het om met die boerdery te begin nie. Ek doen reeds baie bemarking onder plaaslike mense, maar hulle is nog skrikkerig en moet nog besef dat dit ’n lekker, gesonde vleis is en dat mense wel hase kan eet.”

Wanneer jy ’n haas van Linda koop, kry jy ook ’n lekker haasvleisresep.

“Ek het selfs ’n resep van die bekende sjef Jamie Oliver. Talle bekende sjefs kook met haasvleis. Dus gee ek vir jou ’n resep saam en as jy nog een koop, kry jy nog ’n resep. Daar is ’n magdom disse wat jy met haasvleis kan voorberei.”

Linda is nog by die ouetehuis betrokke en vertel daar is ’n ouma wat graag haasvleis wil proe.

“Ons het ’n haas aan die ouetehuis geskenk en die ouma het aangedring dat sy vir die helfte van die haas wil betaal. Dus is die haas daar, maar die kokke sukkel om dit voor te berei. Wanneer ek weer Lüderitz toe gaan, moet ek gaan kyk hoe ek kan help om dié dis vir die ouma moontlik te maak.”

RAAD

“Almal het onontdekte selfvertroue binne-in ons en ons moet net soms stilstaan en in onsself glo en weet dat alles moontlik is.”

Linda raai aan dat almal – voordat hulle iets aanpak – deeglike navorsing doen.

“Moet nie skaam wees om vrae te vra nie. Daar is nie ’n ding soos ’n dom vraag nie. Daar is net ’n oningeligte vraag wat inligting kan kry. Jy kan nie leer as jy nie vrae vra en jou navorsing doen nie. Wees vol selfvertroue en probeer; al wat kan gebeur is dat jy kan val en dan hoop ek jy het iets daaruit geleer. Moet nie val en niks leer nie. Jy kan altyd weer opstaan en weer probeer en dan kan jy die wysheid toepas wat jy geleer het.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!