Lize ís die volledige pakket

Iréne-Mari van der Walt
“Ek het gehuil, ek het so hard gewerk aan my sang en moes in April ’n stemoperasie ondergaan – so ek kon vir ses weke nie sing nie. Ek het die liedjies al van Augustus af geoefen,” sê die nuutgekroonde wenner van die Voice of Namibia (VoN)-sangkompetisie, Lize Visser.

“Ek sing al my hele lewe lank. Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar ek onthou ek het toe ek klein was op die plaas ’n liedjie van Lady and the Tramp gesing. My ma het toe vir my gesê ek moet op noot sing, maar ek was nog te klein om te kan verstaan wat dit is,’ sê sy.

Lize sê sy het van kindsbeen af altyd liedjies uit haar gunstelingflieks, soos The Little Mermaid, geleer.

In 2010 het Lize, toe 10 jaar oud, aan die Solis vir Christus-sangkompetisie deelgeneem. Ten spyte daarvan dat sy tweede geëindig het, het sy steeds ’n platekontrak losgeslaan en ’n album met vyf liedjies vrygestel.

Meer as ’n dekade later, in 2022, het Lize weer tweede plek behaal – hierdie keer in die plaaslike VoN-sangkompetisie.

“Ek was nie hartseer of kwaad nie, want JR het dit verdien. Ek was net dankbaar dat ek wel tweede gekom het, want ek was soms nie seker of ek selfs die toptien sal haal nie,” het Lize oor haar ervaring by verlede jaar se VoN gesê.

Sy sê sy het sedertdien gefokus op haar sang en haar verhoogvaardighede.

“Ek het bietjie meer gefokus op mikrofoontegniek – jy kan nie net gaan sing nie. Ek het geleer jy moet emosie toon en ’n volwaardige optrede daarvan maak,’’ vertel Lize.

KINDERS

Buiten vir haar passie vir musiek, het kinders ook ’n spesiale plek in Lize se hart.

Sy het voorheen by die Busy Brains-kleuterskool gewerk. Nou help sy om babas en jong kinders by die Kiddies Aqua op Otjiwarongo, waar sy tans woon, van waterveiligheid te leer.

Een van Lize se toekomsdrome is om haar passie vir musiek en kinders bymekaar te bring om ’n musiekskool vir kinders op die been te bring.

FAMILIE

Lize sê haar ma, wat in 2017 aan kanker dood is, se bydrae tot haar lewe was van onskatbare waarde.

“My ma het altyd vir my gesê jy maak jou omstandighede, jou omstandighede maak jou nie,” sê sy.

Sy glo haar ma se kankerstryd het vir haar en haar twee jonger sibbe emosionele veerkragtigheid geleer.

“My ma het nooit kwaad geword nie. Sy het haar siekte met vrede en kalmte hanteer. Ons almal het geweet dat sy swaarkry, maar mens kon dit nooit sien nie,” sê Lize.

VOICE OF NAMIBIA

“Patricia [Coetzee] het eers voorgeloop, maar Lize het in die finale rondte haar hart en siel uitgesing,” het die eienaar van VoN, Alinda Lu’Mar, gesê.

Patricia Coetzee het die tweede plek by vanjaar se VoN verower met Bernadine Goliath wat derde geëindig het.

“Die talent was baie goed en sy het so hard gewerk. Ek dink dit is nou haar tyd en haar beurt. Sy verdien dit absoluut - sy het ’n pragtige hart en sy is so nederig,” sê Alinda.

Sy sê Lize het verskeie eienskappe wat haar ’n gepaste VoN-ambassadeur sal maak.

“Sy het so ’n mooi persoonlikheid en sy wil altyd luister. Sy is boonop kreatief – sy sing nie net nie, sy speel kitaar en die ukelele. Sy is die volledige pakket,” sê Alinda.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!