Ma en dogter rol moue op

Kristien Kruger
“Armoede is erg in Hentiesbaai en geleenthede is min. As ons een kind se lewe kan verbeter, is ons wenners vir die regte rede.”

So vertel Gogga van der Merwe wat saam met haar dogter, die Namibiese skoonheidskoningin Leoné van Jaarsveld, hul harte oopmaak en hul moue oprol om die gemeenskap te help.

Dié ma-en-dogter-span probeer om elke tweede Sondag 100 tot 160 kinders in die informele nedersetting Omdel te voed as deel van die Omdel-voedingsprogram.

Op die vraag waarom hulle dit doen, was Gogga se antwoord eenvoudig.

“Waarom nie? Ons is so geneig om net verby goed te kyk en nie betrokke te wil raak nie.”

Die etes bestaan ​​uit voedsame sop en ’n broodjie en dit word gedoen met die hulp van twee kontantborge wat saam N$1 000 per maand skenk.

“Ons sal dit graag meer wil doen, maar ons kry nie borge nie,” sê Gogga.

’N MA WAT INSPIREER

Gogga is die eienaar van The Homemade Cook op Hentiesbaai en het reeds in 2020 begin om terug in die gemeenskap te ploeg en sy kwesbaarste lede te help. Sy doen dit saam met Leoné en haar geregistreerde liefdadigheidsorganisasie, LR Youth Support, wat sy ook in 2020 gestig het.

Buiten die kos wat hulle aan die kinders in Omdel verskaf, help Gogga en Leoné ook die senior burgers in die dorp. The Homemade Cook gee elke week gratis etes aan die oumense.

Leoné vertel verder dat haar ma se passie, dryfkrag en onwrikbare toewyding haar nog altyd geïnspireer het.

“Vandat ek kan onthou inspireer my ma my met haar lewenslange toewyding om minderbevoorregte kinders in lae-inkomste-gebiede in die Erongostreek te help.

“Maak nie saak waar ons gewoon het nie, my ma het altyd maniere gevind om tot hierdie gemeenskappe by te dra,” sê Leoné, wat ook vertel dat hulle aanvanklik in 2020 in Walvisbaai begin het en later na Hentiesbaai uitgebrei het.

Volgens Leoné is haar en haar ma se droom om seker te maak daar is ’n veilige plek vir elke kind en dier.

GROOT PLANNE

Gogga en Leoné beoog om selfs meer te doen om hul gemeenskappe op ’n volhoubare manier by te staan.

Hulle beoog om selfs nog meer te doen om hul gemeenskappe op ’n volhoubare manier by te staan.

“Ons mikpunt is om ’n erf deur die munisipaliteit te probeer bekom om ’n ‘Charity Day Care’ en ‘Animal Feeding Caring Shelter’ op die been te bring,” vertel Gogga en noem dat een van hul uitdagings is om borgskappe te kry om hierdie pogings te help finansier.

Leoné vertel dat sy as titelhouer binne die Mej. Namibië-organisasie probeer om haar platform te gebruik om borgskappe te bekom en die beste daarvan te maak.

“Ná my internasionale verteenwoordiging in Maart 2024 in Mumbai, Indië, is ek meer toegewyd as ooit tevore.

“As Mej. Wêreld Namibië beoog ek om ons eerste jaarlikse insamelingsgeleentheid te beplan. LR Youth Support Woman’s Charity Golf Day sal op 25 Oktober by die Rossmund-gholfbaan in Swakopmund plaasvind,” vertel Leoné en voeg by dat die doel van die geleentheid is om bewusmaking vir organisasies te skep wat “daarna streef om die harte, liggame en gedagtes van benadeelde jeug in Namibië se kusgebiede te voed”.

LR Youth Support se Instagram-blad bevat meer inligting oor die geleentheid, Leoné se projekte en dit waarna sy in die toekoms streef.

Leoné verwys ook na talle ander liefdadigheidsorganisasies aan die kus wat hulp en blootstelling nodig het soos die Ruach Elohim-stigting en die Stepping Stone-skool.

“Saam is ons tot soveel meer is staat as wat ons alleen kan bereik.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!