‘Maak julle harte oop’ vir Cha’risse

Duane Vermeulen, Appel teken tokse
Elvira Hattingh
Die no. 13-grootte rugbystewels van die bekende Springbok-rugbyspeler Duane Vermeulen gaan binnekort opgeveil word om geld in te samel vir Cha’risse van Wyk, die 13-jarige meisie van Grootfontein wat aan bloed- en beenmurgkanker ly.

Duane en Appel, ’n bekende Suid-Afrikaanse sanger, het onlangs in die noorde van Namibië by die Tsumkwe Country Lodge gekuier om geld vir ’n ander goeie doel in te samel, toe Duane sy tokse aan die Van Wyk-gesin geskenk het om ten bate van Cha’risse se mediese onkoste op te veil.

Die Van Wyks het toe ook die geleentheid gehad om die twee bekendes in lewende lywe te ontmoet.

Duane en Appel het beide met ’n goue pen op die rugbystewels geteken.

Belangstellendes wat aan die veiling wil deelneem of vir Cha’risse wil ondersteun, kan by die Facebookblad Cha’risse Cancer Collection Fund aansluit.

Tydens die geleentheid het Appel en Duane in ’n video ’n beroep om ’n ieder en ’n elk gemaak om die veiling en sodoende die Van Wyk-gesin te ondersteun.

“Ek en Duane Vermeulen staan vandag in die hartjie van Namibië vir ’n baie spesiale jong dame vir wie ons ’n fondsinsameling wil doen,” het Appel gesê.

Hy het vertel dat die 37-jarige Duane onlangs die laaste keer as nommer 8 vir die Suid-Afrikaanse rugbyspan uitgedraf het toe die Springbokke die Wêreldbeker gewen het.

“Hy het sy tokse geskenk sodat die manne bietjie geld in die rigting kan gooi, sodat ons vir Cha’risse beter behandeling kan kry. . .” het hy gesê.

“Maak julle harte oop,” het hy gevra.

“Ons hoop julle ondersteun hierdie. Ons sal alles van ons kant af doen en ons vertrou dat julle ook sal help,” het Duane gesê.

Die Grootfonteinse gesin veg moedig teen die siekte, ten spyte van die enorme mediese koste wat hulle onder geweldige druk plaas. Cha’risse ontvang haar behandeling van die staat, maar die spesifieke chemoterapie wat sy benodig, moet noodgedwonge privaat aangekoop word omdat staatshospitale dit nie aanhou nie.

“Die geldelike druk is erg, nie net as dit by die chemo kom nie, maar ook in die huis. Die medikasie alleen kos ons N$40 000 per maand. Dit sluit die heen en weer ryery Windhoek toe uit,” het Cha’risse se ma, Charmain, aan Republikein gesê.

Die Van Wyks het nie mediese dekking nie en moet terselfdertyd opdok vir bloedtoetse elke Maandag, vitamiene en ondersteunende medikasie vir Cha’risse en die spesiale dieet wat sy tans moet volg.

Terwyl Cha’risse se mediese onkoste vir die chemoterapie alleen N$40 000 per maand beloop, kan ’n noodsaaklike beenmurgoorplanting in die Kaap ’n verdere N$5 miljoen kos.

Vir meer inligting oor hoe om vir Cha’risse te ondersteun, kontak Charmain by 081 375 8142.

Geldelike bydraes kan in die volgende bankrekening inbetaal word: Cha’risse van Wyk,

Bank Windhoek Grootfontein,

Rekeningnommer, 803 577 0278.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer