Marelee, ’n naam om te onthou

Kristien Kruger
Die jong Namibiër Marelee Ferreira (18) se veelsydige talente voor én agter die kamer, het haar laat uitblink in vanjaar se ATKV-Digitoneel waar sy as die wenner aangewys is.

Die wenner is verlede week aangekondig tydens die finale episode van Gekies vir die Kollig – ’n realiteitsreeks wat op DStv se VIA-kanaal uitgesaai is.

Wat Marelee se prestasie so indrukwekkend maak, is die feit dat sy self haar toneelstuk geskryf, geredigeer en verfilm het. Sy vertel dat sy jare lank hard moes werk om bo uit te kom ondanks die feit dat sy nie afrigting of dieselfde blootstelling as haar mededeelnemers gehad het nie.

“Dit is vir my so ’n groot eer om te wen as ’n tiener wat alles self gedoen het. Dis my eie werk en daarom is die toekenning vir my soveel groter!

“Die kompetisie het deelnemers van oraloor Suid-Afrika ingesluit wat stukke by professionele skrywers koop en sommige word selfs professioneel afgeneem,” vertel dié matriekleerling van Windhoek Gymnasium.

Marelee is ook die eerste Namibiër om hierdie toekenning in te palm.

“Ek is so trots en voel so geseënd. My harde werk en deursettingsvermoë is beloon, maar meer as dit voel dit vir my asof ek die weg baan vir ander Namibiërs om ook so ’n prestasie te behaal.

“Ek is die proefkonyn wat floreer het – ons weet nou meer en ander Namibiërs kan ook dieselfde reis aanpak.”



'IN MY KOP'

?Digitoneel begin jaarliks met die opname van geskrewe teks wat ongeveer vyf minute lank moet wees. Elke deelnemer kry dan terugvoering van ’n beoordelaar. Daarna is die top-20 aangekondig wat weer eens terugvoering kry om hulle stukke selfs verder te verbeter.

Nadat die top-8 aangekondig is, het hulle na die verfilming van Gekies vir die Kollig gegaan waar deelnemers ’n mentor ontvang wat saam met hulle werk om die finale produk te skep.

Marelee het in die finale rondte die beoordelaars met haar selfgeskrewe monoloog, In my kop, beïndruk.

“Die toneelstuk handel oor iemand wat vasgevang is in die metaforiese tronke wat sy in haar kop gebou het weens foute en keuses wat sy gemaak het.

“Haar skuldgevoel hou haar gevange en maak haar bitter. Wanneer iemand vir haar kom kuier, besef sy dat haar werklikheid nie binne die vier mure is wat sy om haarself gebou het nie en as sy daardeur breek, besef sy wat haar werklikheid eintlik is,” vertel Marelee.

Marelee meen dit was haar deursettingsvermoë en die insette van beoordelaars en haar mentor – die bekende akteur Jacques Bessenger – wat haar gehelp het om die wen-toneelstuk aanmekaar te sit en te vertolk.

“Met die terugvoering wat ek gekry het, het my kreatiwiteit verbreed. Ek het baie uit die mentorskap geleer – dit is wat my die meeste gehelp en laat groei het.

“Ek is ewig dankbaar vir my mentor, Jacques Bessenger, wat my potensiaal raakgesien het en my gehelp ontwikkel het.

“Hy het dadelik ingekoop op die aanslag van my opname en hy het dit aangemoedig en verfyn.”

JJ van Niekerk, die projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, wat weer vanjaar in die regisseurstoel van Gekies vir die Kollig gesit het, meen Marelee se naam is een om te onthou.

“Marelee is ’n voorbeeld vir baie jongmense en ’n inspirasie vir my! Ek hou haar loopbaan met groot belangstelling dop!”



SHOWMAX-REEKS

Marelee is ook so tussendeur eksamens gereed in Suid-Afrika waar sy betrokke is by die vervaardiging van ’n nuwe jeugdramareeks wat in Januarie uitgesaai sal word.

“Tot dusver mag ons nog nie storiegewys enigiets weggee nie. Wat ek wel kan sê is dat ek omring is met die kreatiefste mense met die mooiste harte.

“Ek geniet elke dag op stel onmenslik baie! My rol leer my ook baie van die lewe en help my om te groei as mens en weer eens net na die lewe uit ’n ander oogpunt te kyk. Ek is so dankbaar vir die geleentheid.”

Dit was ná die ATKV-Digitoneelkompetisie dat Marelee besluit het om vir ’n oudisie vir dié reeks te gaan.

“Ek het die inligting vir die oudisie per e-pos gekry en besluit om ‘self-tapes’ in te stuur. Ek moes ‘callback’-oudisies in Suid-Afrika doen en met baie genade en geluk het ek die rol gekry.”



TOEKOMS

Op navrae oor wat Marelee se toekomsplanne inhou, vertel sy met groot passie dat sy van plan is om aan te hou stories te vertel - “of dit nou voor of agter die kamera is”.

Sy gaan volgende jaar by die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria, Suid-Afrika, aansluit waar sy in beide drama en film gaan studeer.

“Ek gaan van elke geleentheid gebruik maak om te leer en te groei. Ek gaan stories vertel wat ’n verskil ten goede maak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!