Marianna bly getrou aan haar Namibiese wortels

M’s Kitchen neem plaaslike resepte oorsee
'n Gebore Namibiër wat al vir meer as 20 jaar in Wallis woon, het haar ouma se resepte gebruik om haar eerste bakboek te skryf.
Tanja Bause
“Ek is mal oor die idee dat ’n vrou ’n braaibaby kan wees en heerlike kos op ’n oop vuur kan kook. Ek wou ander inspireer om ’n draai te maak en van die vele resepte te probeer,” het Marianna Marks (48) van M’s Kitchen in Wallis gesê.

Sy is in Windhoek gebore en het haar matriek by Windhoek Hoërskool voltooi.

“My kinderjare was geseënd. Ek en my drie susters kon wanneer ons gespeel het ons verbeelding gebruik met die talle skatte wat ons rondom ons gehad het.

“Ons het baie vriende gehad en was meeste van die tyd kaalvoet en in kortbroeke buite besig. Ons het op avonture in die veld gegaan of gekyk wie kon die meeste blikkies met ’n kettie raakskiet. Ons het vrugte vanaf die bome in ons tuin geëet.”

Haar ouers is geskei en in plaas daarvan om universiteit toe te gaan, het sy begin werk.

“Op 21 het ek vir ’n beurs by die Universiteit van Kaapstad (UCT) aansoek gedoen en ’n baccalaureusgraad in kunste gedoen. Ek het self vir my studies betaal en dit was ’n uitdaging om werk en studies te balanseer.”

Marianna het daarvan gehou om mense van verskillende wêrelddele te ontmoet.

“By UCT het ek gereeld in die linguistieke departement uitgehang. Wat ironies was, is dat ek die enigste persoon was wat nie Wallies [taal] geneem het nie en nou bly ek in Wallis.”

WALLIS

Aan die einde van 2002 het sy saam met haar eks Cardiff toe getrek.

Aanvanklik wou sy net reis en studeer, maar sy het onmiddellik tuis gevoel en woon nou al vir meer as 20 jaar daar.

“Ek woon naby aan ’n mensgemaakte meer en bosveld, so hoewel ek in die middel van ’n besige stad is, voel ek asof die natuur my omring. Dit is iets wat ek nodig het sienende dat ek van ’n land met wye oop ruimtes kom.”

KOS

Marianna se ouma was ’n huishoudkunde inspekteur in Namibië en sy het altyd die lekkerste en mooiste koeke gebak.

“As tiener het ek deeltyds gewerk en die geld gebruik om lekkernye vir vriende of die skool te bak. In Wallis wou ek ekstra geld verdien en my ouma het van haar resepte, soos koeksisters, melktert en beskuit, vir my gestuur. Ek mis ook wildsvleis. Dit was so ’n groot deel van my kosgeskiedenis en ek vertel nog steeds vir mense Namibiese lam is die beste in die wêreld.”

M’s KITCHEN

In 2018 het ’n groep Suid-Afrikaners wat in die Verenigde Koninkryk (VK) woon, gevra sy moet hulle wys hoe om kerrievis vir Paasfees te maak.

“Ek het ingestem om die resep op Facebook te deel, maar is oorreed om ’n demonstrasie te doen. Dit het redelik rof tydens die demonstrasie gegaan, want dit was moeilik om kos en ’n video tegelykertyd te maak.

“Ek wou egter leer om dit beter te doen en M’s Kitchen het begin. Blykbaar is dit die regte ‘in die oomblik’-foute en al my kook-ervaring waarvan mense hou.”

Sy probeer om getrou te bly aan haar Namibiese wortels deur bymiddels en geprosesseerde kos so veel as moontlik te vermy.

Marianne maak ook haar eie boerewors.

“Ek wou leer hoe om biltong en droëwors te maak, maar mense wou nie hulle wenke met my deel nie. Die video’s wat ek destyds kon vind, was nie wonderlik nie, dus het ek besluit om dapper te wees en myself regstreeks op Facebook te leer.

“As ek terugdink, weet ek nie wat ek gedink het nie, maar ek het so gelag toe ek die eerste boerewors gestop het. Ek is bly ek het daardie herinnering om my te laat besef waar ek begin het.

“Nou het ek ’n hele reeks M’s Saucy Sausages. Die klem val op my Namibiese inspirasie, so die wors wat ek maak, het nie varkvleis, bymiddels of preserveermiddels in nie. Die reeks sluit tans beesvleis, lam, hoender en selfs ’n vurige Walliese wors in.”

GUNSTELING-GEREGTE

“Ek maak gereeld nuwe potjiegeregte; dit is my gunstelingmanier om te kook. Ek kyk na al die sjefs wat op TV kook en dan vat ek die dikwels ingewikkelde disse en maak dit my eie. Ek kry inspirasie uit verskillende resepte wat ek oor die jare teëgekom het deur bestanddele te vervang en meer gesonde kookmetodes te probeer.

“Ek is mal oor die hele leerervaring en dit is wat ek graag wil oordra aan mense wat op soek is na nuwe smaakervarings. As ek een gunsteling moet kies, is dit my lamsboerewors – dit is regtig lekker en ek is mal oor die reuk wanneer dit op die kole is. My gunsteling-nagereg is my Amarula-en-rooibostee-kaaskoek.”

BOEKE

Haar ouma het ’n paar jaar gelede siek geword en sy het belowe dat sy haar resepteboek vir Marianna sal gee aangesien sy dit in ’n bakboek wou plaas.

“Sy het dit saam met familie gestuur, maar die boek het nog steeds nie by my uitgekom nie. Ek bly hoop dat ek dit sal ontvang. Dan kan ek my Ouma Massie se laaste wens vervul.”

Intussen het sy ’n paar van die resepte wat haar ouma vir haar gestuur het, aangepas sodat dit moeiteloos in die VK gemaak kan word en die boek begin skryf.

“My ouma is oorlede en ek het die boek oorgeskryf omdat ek meer oor die herinneringe wat die resepte oproep wou skryf eerder as net nog ’n bakboek.

“Met die herskryf het ek ’n aantal wonderlike en pynlike herinneringe van my familie en die mense wat ek oor die jare verloor het, ontsluit. Daarom is die boek getiteld “Naked Baking” aangesien dit daaroor gegaan het om dinge terug te stroop na hul suiwer wese. Die rou skoonheid van daardie kosherinneringe sonder al die versiering en voorgee.”

Sy het ook ’n braaiboek Braai Bytes met resepte wat in haar tuin ontwikkel is, geskryf.

“Ek wou van die vele resepte wat ek in M’s Kitchen gedemonstreer het, vasvang en een was die Springbok-rugbylegende, Thinus Delport, se gunsteling – pap, vleis en smoor.

“Ek het dit gemoderniseer deur filetsosaties, polentapap met geroosterde rooi soetrissie en tamatiesmoor te gebruik. Ek het die sosaties op die braai gedurende die winter gedemonstreer en iemand het vir my ’n boodskap op Facebook gestuur om te vra, ‘watter roadkill is dit? Dassie of krimpvarkie?’ Ek het geantwoord: ‘Dankie vir die inspirasie, ek sal dit in my volgende boek gebruik’ en ek het.”

M’s Kitchen verkoop ook klaar voorbereide geregte en die twee gunstelinge is die lamskerrie en die beesstert. Koeksisters, karringmelkbeskuit en melktert is die gunsteling-nageregte.

“Ek is mal daaroor om my eie resepte te ontwikkel. Ek het my eie souse, blatjang en konfyte ontwikkel. Dit sluit in my appelkoos-en-pruimblatjang, Oh M Balls, wat ek in my blatjangboerewors gebruik.”

“Ek sal graag my M’s Saucy Sausage-reeks orals wil sien, asook my klaar voorbereide etes en speserye. Ideaal gesproke wil ek graag my eie M’s Kitchen in Namibië hê as ’n toeristebestemming.”

RAAD

“Jy besluit wat jou perke is. As ek na enige van die mense geluister het wat my probeer afskrik het, sou ek nooit ’n boek geskryf het of besef het ek kan lekker wors maak nie.

“Of ek kan selfs my eie stoep uit ou palette bou. Ek wil daardie selfde veerkragtigheid by ander aanmoedig en ander help om selfvertroue en kosmaakvaardighede te ontwikkel terwyl hulle ’n paar lekker goed in die proses proe.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!