• Tuisblad
  • Mense
  • Martie Preller, skrywer van geliefde ‘Babalela’-boeke, sterf
Die kinderboekskrywer Martie Preller. Foto Netwerk24
Die kinderboekskrywer Martie Preller. Foto Netwerk24

Martie Preller, skrywer van geliefde ‘Babalela’-boeke, sterf

Yandi Du Plessis
Martie Preller, skrywer van die gewilde Babalela-kinderboeke, is Sondagaand in die ouderdom van 75 oorlede.

“My ma het aan demensie gely en was in die George and Annie Stark-tehuis in Belville. Haar gesondheid was heel goed, so haar afsterwe is ’n taamlike skok vir ons. Sy het saggies in haar slaap heengegaan,” het haar dogter, Martie Kruger, gesê.

Preller het in haar leeftyd meer as 50 kinderboeke geskryf, waaronder titels soos Anderkantland, ’n Haas moet doen wat ’n haas moet doen, en Jamie en Sebastiaan en die storiemol, wat sy saam met haar dogter geskryf het.

Sy word onthou as eksentriek in haar eenvoud en iemand wat kinders verstaan het.

“Martie was ’n wonderlike siel, ’n regte dromer met so ’n vér kyk in haar oë, iemand wat in die oerkrag van stories geglo het. Sy het die vermoë gehad om karakters en stories te skep wat kinders totaal oorrompel en bekoor het,” het Jaco Jacobs, ’n mede-kinderboekskrywer en goeie kennis van Preller, gesê.

Marieta Nel, die inhoudspesialis by Lapa wat baie nou saam met Preller met die Babalela-reeks gewerk het, het gesê: “Wat ek van Martie sal onthou, is dat sy ’n ongelooflik kreatiewe mens was. Sy het absoluut tot die harte van die kinders gespreek en dit was vir my wonderlik, want sy was altyd bewus van wat vir die kleintjies belangrik was.”

Preller se vier Babalela-boeke was volgens Nel baie gewild.

“Ons het ook ’n Babalela-pop gehad waarmee ons skole besoek het. Weet jy, die kinders het mal gegaan daaroor. ’n Hele paar skole het Babalela-konserte gehou en Laerskool Pikkie Paradys het elke jaar ’n Babalela-opvoering gehad.

“Ek het vir Martie na verskeie skole geneem en dan het sy daar gesit en boeke geteken. Ons het letterlik duisende van daai boeke verkoop.”

Die uitgewers het onlangs nog beplan om die boeke te laat herdruk en Nel beskryf dit as ’n jammerte dat die skrywer nie deel daarvan kan wees nie.

Preller is in 1948 in Potchefstroom gebore en getoë, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het.

In 1970 het sy haar onderwysdiploma aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-universiteit) verwerf met Engels en Latyn as hoofvakke.

“Dit was ’n wonderlike voorreg om my eie twee dogtertjies met haar Babalela-stories te laat grootword,” het Jacobs gesê.

Hy voeg by hoewel Preller weg is, sal haar bydrae tot Afrikaanse kinders se wêreld nog lank voortleef.

Miemie du Plessis, wat onder meer Preller se Babalela-boeke by Lapa uitgegee het, het gesê: “Ek is platgeslaan deur Martie se dood. Benewens die feit dat sy die mees unieke skrywer is wat ooit my pad gekruis het, het haar wysheid en insig in menswees my lewe ongelooflik verryk.

“Ons het langs vele paaie gereis – letterlik en figuurlik – om die vreugde van stories na kinders te bring en ek voel bevoorreg dat sy soveel van haar betowerende stories aan my toevertrou het.

Preller word oorleef deur drie kinders, twee kleinkinders, ’n suster en ’n skoonseun.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!