Hilya Pilukeni en haar geliefde harp. Foto Lis Hidber
Hilya Pilukeni en haar geliefde harp. Foto Lis Hidber

Musiek bring genesing

Tanja Bause
Hilya Pilukeni (17) het sewe jaar gelede uit nuuskierigheid by ’n sentrum op Tsumeb ingestap.

Dié impulsiewe besluit het haar lewe handomkeer verander. Die skaam, stil, mishandelde toe tien jaar oue meisie, is vandag ’n uitgesproke, selfversekerde, energieke tiener en dit alles te danke aan musiek.

“Ek is op Tsumeb gebore. Ek is een van ’n tweeling en toe my ouers se paaie skei toe ons nog babas was, het my ma my sussie gehou en ek het na my pa toe gegaan. Ek het by hom en my stiefma grootgeword. Dit was nie goeie jare nie omdat my stiefma my mishandel het en toe my pa in 2011 oorlede is, het sy my na my tannie toe gestuur,” het Hilya gesê.

Sy kon ook weens haar mishandeling nie nuwe gesigte en mense om haar hanteer of vertrou nie, wat die situasie bemoeilik het.

Op skool was sy stil, skugter en teruggetrokke omdat sy weens haar omstandighede nie goed op skool gevaar het nie.

“Ek kon nie konsentreer nie. In graad 1 het die onderwyser vir my gevra of ek dom is omdat ek gedruip het. Ek kon nie wiskunde doen nie en ek het dom gevoel.”

Haar niggie het haar van die Arts Performance Centre (APC) vertel en Hilya het gewonder hoekom sy so baie by die sentrum uithang.

“Ek het een dag daar verbygeloop en baie kinders gesien. Toe ek instap het ek iets groen gesien en ek het hoop gesien. Ek het geweet ek is by die regte plek.”

Die mense van APC het haar op ’n toer deur die sentrum geneem. Hulle het haar al die instrumente gewys en vir haar ’n keuse van drie gegee wat sy kon leer speel.

“Toe ek die harp hoor het ek geweet ek het my instrument gevind. Dit het gevoel asof die klank na my toe kom. Dit het my beter laat voel.”

Vandag speel sy by troues, begrafnisse en ander geleenthede. Sy is tans in graad 10 en doen goed op skool – selfs in wiskunde.

“My musiekonderwyseres Lis Hidber het my deur musiek wiskunde laat verstaan. Musiek en wiskunde gaan hand aan hand. Musiek het my kop oopgemaak en my genees. Lis het my ingeneem en gehelp. Nou kan ek ander kinders in dieselfde situasie help. Deur musiek kan ek ’n blink toekoms sien. Ek is nie meer skaam nie, maar vol selfvertroue en sien uit om skool klaar te maak en my harp vir almal te speel.”

Volgens Hilya het musiekterapie haar ontsettend met haar trauma gehelp.

“Enigiemand wat deur enige trauma gaan, kan hier aanklop en deel van dit wees en deur musiek genees word. Waardeur ons ook al gaan beteken nie dit is die einde nie.

“Daar is altyd ’n negatiewe en ’n positiewe pad. Dit hang van jou af watter een jy kies. Die toekoms is in jou hande. As ek nie daardie dag by APC ingestap het nie, weet ek nie waar ek sou opeindig nie. APC, Lis en musiek het my lewe verander en my weer heel gemaak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!