My aand met Rodriguez

Augetto Graig
Sixto Diaz Rodriguez is dood.

Lank mag hy bly voortleef – deur sy eerlike omhelsing van sy tekortkominge, sy kwesbaarheid en sy foute, deur sy nederigheid as ’n invloedryke kunstenaar, en deur sy unieke musiek wat vir ’n generasie hier in Suider-Afrika ’n stem gebied het.

Op 8 Augustus 2023 het die musikant, wat op die verhoog eenvoudig as Rodriguez bekend gestaan het, op die ouderdom van 81 gesterf.

Gedurende sy loopbaan het hy met liedjies soos “Sugar Man”, “Inner City Blues”, en “I’m gonna live till I die”, en albums soos Cold Fact en Coming from Reality uit die vroeë sewentigerjare, en die klankbaan van die 2012-film Searching for Sugar Man, gewild geraak.

Hy het my lewe ook aangeraak; vir die eerste keer toe ek op ’n eensame aand in ’n klein versteekte nagklub in die Moederstad aanvanklik vir “Sugar Man” gehoor het. Daar op Lower Main-weg in die agterkamer van die Backroom Jungle het onbekende woorde my nuuskierigheid geprikkel.

Min het ek geweet dat die aand so vreemd sou uitdraai en sal eindig met my wat die volgende oggend lekkers – wat ek by ’n vreemdeling gekry het – vir my huismaats sal aanbied.

Jare later in 2004 sou ek die geleentheid kry om Rodriguez persoonlik te ontmoet, en ’n aand vol avontuur met hom te deel

Dit op Otjiwarongo – van alle plekke.

Rodriguez was daardie Julie die hooftrekpleister by die Cheetah Nasionale Kunstefees wat ongelukkig nie ’n groot skare gelok het nie.

Ek het vroeg vir ’n onderhoud ná sy optrede gereël. Ons het gaan sit en begin gesels.

Vroeër die aand het ek toevallig ’n besonderse onbehebbelike vriend by die fees raakgeloop. Kom ons noem hom maar Bonsai en – soos hy homself sou beskryf – hy was ’n “hell of a guy”. Hy was saam met ’n vriend daar en toe hulle sien ek praat met die musikant, het hulle sonder om te skroom by ons aangesluit.

Rodriguez was soos altyd vriendelik en bedagsaam, en ons twee het die onderhoud voltooi voor Bonsai en sy vriend met biere teruggekeer het. Daar word gesels, gekuier en gedrink.

Ek glo Rodriguez het in Bonsai en sy vriend dieselfde afwykende gedrag waarvoor hy self kwesbaar was, gesien. Dit is hoekom hy in my oor gefluister het dat ek hom daar moes wegkry.

Ek het vinnig verstaan wat hy bedoel het. Dit weens my ervaring van Bonsai as iemand wat daarvan gehou het om partytjie met ’n groot “P” te hou. Toe hy toilet toe gaan en sy vriend se aandag deur ’n praatjie met ’n mooi meisie afgelei was, sê ek vir Rodriguez: “Kom ons maak spore.”

Ons twee glip weg en klim in die bakkie om weg te ry. Ongelukkig sien Bonsai en sy vriend ons verby ry en hardloop na hul voertuig.

Ek en Rodriguez het mekaar net een kyk gegee en besluit hier moet ons wegkom.

So begin ’n hoëspoed-motorjaagtog deur die verlate strate van laatnag-Otjiwarongo. Ons ry op en af en ek, agter die stuurwiel, probeer elke wegkomtoertjie wat ek ooit op die silwerdoek gesien het, binne perke natuurlik.

Ons trek vinnig by ’n halfversteekte parkeerplek in en sit die voertuig en die ligte af. Ons hou ons asems op terwyl ons agtervolgers verbyjaag.

Ek gaan laai Rodriguez by sy blyplek af. “Dankie, my vriend,” groet hy my.

Soos ek op een van die hoofpaaie indraai, sien Bonsai en sy vriend my weer, en die jaagtog tel weer spoed op. Ek het hulle uiteindelik weer afgeskud, maar toe is ek heeltemal verdwaal.

Ek skrik die volgende oggend agter die stuurwiel wakker op ’n tweespoor-grondpaadjie – omsingel deur lang geel gras so ver soos die oog kan sien.

Doer af met die pad is ’n hek, al teken van mens wat ek kan sien. Ek kom later op die teerpad af, wat my weer terug na Otjiwarongo lei.

Die aand met Rodriguez bly vars in my herinneringe en daarmee ook die les wat hy my geleer het. Wees kalm, al raak die lewe ’n tuimeltrein; die son kom weer op om alles helder te maak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer