'My tyd sal ook kom'

Audriëtte Junius – Akwila se ma – "Sy is altyd positief en het 'n glimlag, al kan jy sien sy is siek."
Henriette Lamprecht
“Mamma, my tyd sal ook kom, ek sal wag.” Dis gewoonlik hoe haar negejarige dogter haar altyd vol hoop en met ’n glimlag bemoedig wanneer sy as ma nie antwoorde het op die vele terugslae en gesondheidsprobleme waarteen Akwila in haar kort lewe moet baklei nie.

“Sy is altyd positief en het ’n glimlag, al kan jy sien sy is siek,” vertel Audriëtte Junius oor haar “baie bright” dogter wat onder meer met kinderartritis, vetsug, slaapapnee en ’n onderaktiewe skildklier gediagnoseer is.

Akwila was ’n “skraal, klein baba”, maar toe sy een jaar oud word, het haar dogter begin “uitsit”, vertel Audriëtte.

Haar porsies is kleiner gemaak, maar sonder enige rede het haar gewig toegeneem. Akwila is met chroniese bronchitis gediagnoseer, terwyl sy later moeilik begin beweeg het en dit aanvanklik aan groeipyne toegeskryf is.

Sy is verwys na ’n kinderspesialis en vir verskeie toetse in die hospitaal opgeneem, waar sy ook met longontsteking in die intensiewesorgeenheid opgeneem is. Akwila se liggaam het ook die antibiotika waarmee sy behandel is, verwerp en in ’n stadium het blaasinfeksie veroorsaak dat haar regternier swel.

“Sy huil vreeslik wanneer sy ’n flare up van die inflammasie het en het dan baie koors,” vertel Audriëtte.

In 2021 was Akwila in en uit die hospitaal en verlede jaar is haar neusmangels uitgehaal om te help met haar slaapapnee.

Akwila se suurstofvlakke was in ’n stadium so laag dat haar ma, pa en broer om die beurt by haar geslaap het om seker te maak sy bly asemhaal.

“Sy was ’n lopende, lewende lykie. Sy sit regop en jy hoor hoe sy ophou asemhaal, roggel en dan weer asemhaal.”

In Januarie het Akwila die maand in die hospitaal deurgebring en het ’n oor-, neus- en keelspesialis bevind haar mangels sit teen mekaar wat geen ruimte vir suurstof deurlaat nie (kissing tonsils). Sy is ook met Cushing se siekte en insulienweerstandigheid gediagnoseer.

Met die verwydering van haar mangels het Akwila se suurstofvlak tot 9 gedaal, vertel Audriëtte en was haar dogter twee ure in die teater.

“Na die tyd het die dokters gesê sy is ’n klein vegtertjie, want hulle het ’n uur gesukkel om haar wakker te kry.”

Nog ’n terugslag het gevolg toe Akwila se are in haar keel ná die operasie gebars het.

“Dit was soos ’n kraan wat oopgedraai is. Ek was saam met haar in die teater toe hulle dit wil seël. Alles was vol bloed, die verpleegsters se klere, die vloer. Omdat sy nie met ’n masker narkose kan kry nie, kry sy dit met ’n drip, maar hulle het gesukkel om are te kry.”

Tot vandag toe weet medici nie wat die oorsaak van al haar gesondheidsprobleme is nie en word Akwila tans net vir die simptome behandel.

Sy moet vanjaar in graad 3 wees, maar het reeds soveel dae gemis, dat Audriëtte en haar man besluit het om haar voortaan tuis te onderrig.

“Omdat sy nie ordentlik slaap nie, is sy so moeg. Haar vingers en gewrigte kramp vreeslik as sy van die bord moet afskryf en dan kan sy nie klaar skryf nie. Ek help haar, ek kan nie kyk hoe sy ly en niks doen nie.”

Die finansiële implikasies op hulle as gesin is geweldig en Audriëtte het gebid dat God iemand stuur wat “opreg is en ons kan help”.

Dit is Michaela Tietz van die Okanti-stigting wat op die gesin se pad gebring is, sê Audriëtte.

“Sy is van God gestuur, ek weet nou daar is so iets soos ’n ander ma.”

Sy glo ook God hou hul Akwila in die holte van Sy hand.

“Hy het haar vandat sy uit die moederskoot is, opgepas. Daar was soveel kere wat sy so siek was, maar elke keer het Hy haar laat leef. Sy het ’n hart vol liefde en hoop.”

Sy wil graag hul storie gebruik om hoop aan ander families in moeilike omstandighede te bring.

“Jy baklei nie op jou eie nie. Ek het ’n geestelike familie wat my bystaan. Ek kan deel in jou seer, ek is in dit, ons is in dieselfde skoene. Al verskil ons ‘battles’, is dit dieselfde seer. Jy is nie alleen nie, ons kan mekaar help en bemoedig. My gebede is verhoor, God het mense op ons pad gestuur.”

Michaela by die Okanti-stigting wat help met van Akwila se finansiële uitgawes, kan gekontak word by [email protected] of 081 127 8544.

Die bankbesonderhede vir enige bydraes is Nedbank, Daniela Medical Trust, reknr. 11010022195, takkode 461609, verwysing – Akwila.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!