’n Gevoel van vryheid
Sweef sorgloos onder die wolke
Heidi Snyman is die eerste ontvanger van die AOPA se toekenning vir lugvaartuitnemendheid.
“Vliegvelde is vir my een van die mooiste plekke in die wêreld en die lekkerste reuk is nie parfuum nie, maar die reuk van Jet A-1-turbinevliegtuie,” het Heidi Snyman gesê.
Heidi het die eerste toekenning vir lugvaartuitnemendheid van die Aircraft Owners & Pilots Association of Namibia (AOPA Namibia) ontvang.
“Ek kan dit nog steeds nie glo nie. Ek is nog in die wolke. Dit is so ’n groot eer wat ek glad nie verwag het nie,” het sy gesê.
Die toekenning gee erkenning aan uitstaande individue wat algemene lugvaart in Namibië bevorder deur uitsonderlike voorbeelde van innovasie, veerkragtigheid, spanwerk en leierskap. Heidi het die toekenning by die jaarlikse Fly-In op Uis ontvang.
Haar liefde vir lugvaart het posgevat toe sy op tienjarige ouderdom saam met haar ma Duitsland toe gevlieg het. Dit was tydens dié vlug dat die lugvaartgogga haar gebyt het.
Dieselfde jaar het haar suster se peetpa Hilmar Knupp vir beide ’n sweefvlug geskenk.
Van daar af het sy elke Saterdag na die Swakopmund-vliegveld gegaan en op 10-jarige ouderdom by die Segelflugverein Swakopmund aangesluit.
“Soms het hulle vergeet om vir my ’n saamrygeleentheid te gee, dan het ek sommer soontoe geloop. Aan die begin het hulle my net vir ballas saamgevat. Ek mag net op die agterste sitplek gesit het, omdat ek te lig en te kort was. In November 1970 het ek ’n loodkussing gekry en kon ek op die voorste sitplek sit.”
Toe Heidi 16 was, het sy haar eerste solovlug voltooi. Sy was die enigste persoon ooit in Namibië wat alle vereistes van die Silwer C-kenteken in een vlug behaal het.
“Daardie jare het die sweeftuie geen enjins gehad nie, so hulle het nie so goed presteer soos vandag se sweeftuie nie.”
Op die ouderdom van 14 het sy haar eerste komitee-amp as tesourier gekry en sedertdien verskeie poste soos tesourier, sekretaresse, voorsitter, instrukteur en hoofvlieginstrukteur van Segelflugverein Swakopmund, later Segelfluggemeinschaft Swakopmund-Erongo, en die Soaring Society of South West Africa en Soaring Society of Namibia beklee.
Sy was een van die Lisama (Light Sport and Amateur-build Aircraft Association of Namibia) se stigterslede en het die pos van sekretaris, tesourier en voorsitter beklee. Sy het in komitees soos die Air Law Revisions-komitee en vele ander gedien en is tans die ondervoorsitter en trustee van die Bitterwasser Trust.
“Toe ek in graad 11 was, wou ek by SAA uitvind wat die vereistes is om ’n vlieënier te word. Ek was geskok om te hoor dat vroue en mense wat bril dra nie vlieëniers mag word nie. Ek het toe aansoek vir lugwaardin gedoen en gehoor ek is te jonk. Ek het besluit om eers na die hotelskool in Johannesburg te gaan.”
Ná SKOOL
Terwyl sy gestudeer het, het sy vir ’n onderhoud by SAA vir lugwaardin gegaan – want Heidi wou net in die lug wees.
Alhoewel sy al die toetse geslaag het, was sy steeds te jonk. Sy is egter gevra om as grondpersoneel te begin en sy kon die lughawe kies waar sy wou werk. Heidi op Windhoek besluit.
“Terwyl ek as grondpersoneel gewerk het, het ek ’n oproep ontvang om my in te lig dat ek nou as ’n lugwaardin kan begin werk, maar ek het dit van die hand gewys omdat ek self wou vlieg.”
In Mei 1980 het sy met haar PPL-opleiding by die Gus Uys-vliegskool in Windhoek begin.
Dit was maklik vir Heidi om te vlieg aangesien sy talle sweefure agter die rug gehad het, net die enjin is bygevoeg.
“Ek het my radiolisensie in die lugbeheertoring met Gernot Riedel by die destydse J.G. Strydom Internasionale Lughawe – waar ek gewerk het – voltooi. Ons moes nog morsekode leer omdat ons daardie tyd nie radio’s in sweeftuie gebruik het nie.”
Ná slegs ’n paar uur van dubbele lesse, het Uys op pad na die vliegtuigskuur vir haar gesê: “Jy gaan nou solo, onthou dat die gewig verander en jy maak drie landings.”
Hoewel dit baie onverwags was, het sy drie foutlose landings gemaak. Sy het verskeie soorte vliegtuie gevlieg, tot ’n Cessna 210T.
“Gus het my selfs op huurvlugte laat vlieg, wat vandag heeltemal onwettig is.”
PRESTASIES
Sy het op 9 Julie 1983 haar sweefinstrukteurslisensie geslaag en op 30 Julie 1983 haar vliegtuigsleeplisensie in Hamburg/Boberg in Duitsland.
Sy het die eerste sweefvlug ooit vanaf Karibib na Swakopmund in Mei 1990 voltooi; iets wat almal as onmoontlik beskryf het.
In November 1990 is sy as algehele wenner in die dubbelsitplek-sweeftuigklas in die Namibiese sweefkampioenskappe aangewys.
Sy het algehele derde plek en die individuele tweede plek in die Namibiese sweefkampioenskappe in Maart 1991 verower.
Voordat die kompetisie begin het, het ’n ander vlieënier vir haar gevra: “Wat maak jy hier? Vroue kan nie vlieg nie.” Ek het hom weer eens verkeerd bewys.
“Sy opmerking was iets waarmee ek my lewe lank in die lugvaartbedryf te doen gekry het en moes hanteer. Die enigste negatiewe ding van vlieg is dié tipe kommentare.
“Ek het amper nooit iets daaroor gesê nie, net gedink: wag, ek sal jou wys of dit net gedoen. Maar van al die sweeftuigvlieëniers kon ek keer op keer die langste in die lug bly.”
“Ek is ook menigmaal na die jaarlikse Hexentreffen in Duitsland genooi. Dit was ’n saamtrek van alle swewende vroue. By een van die byeenkomste het ek vir Ulf Merbold, ’n Duitse ruimtevaarder, ontmoet en dit was beslis die hoogtepunt van my lugvaartloopbaan.”
Ná onafhanklikheid het Louis Louwrens vir Heidi gevra om die gedeelte in die wet op lugvaart wat betrekking het op sweefvlieg, te hersien.
LUGVERTONINGS
Heidi was deel van die span wat drie lugvertonings in die 90’s in Windhoek georganiseer het.
Een vertoning was by die Eros-lughawe en twee by die internasionale lughawe. Sy het vir Kücki Kuhhirt gehelp om tien Fly-In-kompetisies by die Rostock Ritz Desert Lodge te reël. Heidi het agt van dié kompetisies by die Uis-vliegveld georganiseer.
Sy het in 1999 die ontwerp en druk van twee Namibiese seëls met sweeftuie op gereël.
“My grootste passie was nog altyd sweefvlieg. Dit is die lekkerste gevoel om sonder enige geluide in totale stilte onder die wolke te kan wees en net te sweef. Ek kan die gevoel nie aan iemand beskryf nie, hetsy sweef of met enjin vlieg, dis ’n gevoel van vryheid. Wanneer almal bymekaarkom en saamsit en oor lugvaart en vlieg gesels, is ek op my gelukkigste.”
Sy het haar oorlede man, André Snyman, by SAA ontmoet. Hy het vyf jaar as lugwaard gewerk en drie jaar as spysenieringsbeampte by die J.G Strydom Lughawe. Hy was ’n entoesiastiese valskermspringer en het talle kere saam met die Suid-Afrikaanse Springbokspan gespring.
In 1998 het sy Heiner Schlusche ontmoet wat ook die lugvaartkoors met Heidi deel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie