Martha McNab (tweede van regs) en haar staatmakers van die Step Up Ark-stigting Rochelle Kangeriko, McZene McNab en Carlyn Stellmacher. FOTO VERSKAF
Martha McNab (tweede van regs) en haar staatmakers van die Step Up Ark-stigting Rochelle Kangeriko, McZene McNab en Carlyn Stellmacher. FOTO VERSKAF

’n Huis waar vroue veilig voel

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Kinders wat al hul vertroue in hul ouers verloor en op straat moet gaan soek vir die veiligheid wat hul ouerhuise nie kan bied nie.

’n Mamma wat haar lewe probeer neem het nadat sy selfs deur familie gedwing is om in haar gewelddadige omstandighede te bly. Nog ’n vrou wat veiligheid by vullisgate en vulstasies soek nadat geweld haar dwing om uit haar huis te vlug.

Dit is die donker en seer prentjie van geslagsgebaseerde geweld (GBV) geskets deur ’n vrou van Rehoboth wat ’n plek van veiligheid en ’n huis vol koestering vir slagoffers wil skep en vasbeslote is om haar droom te verwesenlik.

Martha McNab is die stigter van die Step Up Ark-stigting wat onder meer ten doel het om ’n veilige en bemagtigende omgewing vir slagoffers van GBV te skep.

Die stigting het ook ’n program “Your Pain, Your Gain” wat as ’n motiveringsgroep vir slagoffers dien. Die groep vergader maandeliks en dit is hier waar vroue hul ervarings en alles wat hulle deurmaak in ’n gewelddadige verhouding deel.

“Hierdie verhoudings veroorsaak dat vrouens lamgelê word deur hul omstandighede. Dit voel amper asof hulle ‘stuck’ is in hierdie omstandighede en siklus.”

Daar is absoluut te veel gevalle om op te noem, erken Martha.

Dit is tydens haar gebruiklike drafsessie soggens kort voor sonsopkoms dat sy op haar roete terug kinders op pad skool en vrouens op pad werk toe raakloop. Dis dan wanneer Martha geselsies op haar drafpad aanknoop en so bewus gemaak word vroue en kinders op die dorp se uitdagings wat hulle daagliks ervaar of al deurgemaak het.

Jy sal verbaas wees wat jy alles hoor as jy net luister, sê Martha.

“Deur régtig net te luister, deur uit te reik en in die hardloop net te groet met ’n glimlag.”

Sy vertel van ’n tienjarige meisie wat sy tydens een van haar hardloopsessies ontmoet het en haar van haar ma en hul huislike omstandighede vertel het.

Sy het met die ma wat “ontneem is van alles” en ook haar kinders verloor het, kontak gemaak.

“Hierdie dogtertjie wat veronderstel is om net liefde te kry en in ’n stabiele huis te bly, bly by ander mense. Die mamma het my vertel van haar omstandighede en hoe sy vlug om by vullisgate en vulstasies te slaap.”

“Hoe kan sy nog verantwoordelikheid vir kinders neem? ’n Ander mamma het haar lewe probeer neem nadat sy gedwing was om in die omstandighede te bly, selfs deur familie.”

Step Up Ark help om hierdie vroue te bemagtig, om regtig dáár te wees vir hul kinders.

Talle van die vroue keer terug na hul omstandighede omdat hulle nie ondersteuning het nie, sê Martha.

Hoewel daar riglyne is, dra weinig egter hiervan kennis.

“Step Up Ark is daar om inligting te deel, sodat hulle daarvan weet. Dit is ook om ’n sambreel te skep waaronder die vroue iets kan verdien om hulself te kan help.”

Haar droom en doelwit is om te verseker dat Rehoboth ’n tuiste van veiligheid vir hierdie vroue het, selfs ’n plek waar hulle twee tot drie maande kan bly tot hulle weer met trots en waardigheid op hul eie voete kan staan.

“Een van ons uitdagings is vervoer wat ons in staat stel om die vroue te gaan optel om te help waar nodig.”

Die droomhuis van veiligheid sal bekend staan as House of Mona, vernoem na een van Step Up Ark se geliefde spanlede en vrywilligers Mona Izaaks wat in Julie 2023 gesterf het en “tot op haar einde haar tyd met die vroue en kinders gedeel het”.

UITDAGING

Sy hardloop al vandat sy kan onthou, vertel Martha.

Ses maande gelede het sy egter besluit om haarself uit te daag vir die visie wat sy het om geld vir House of Mona in te samel. Met 1 000 kilometer wat sy reeds vir haar droom kafgedraf het, het sy besluit om nog 1 000 aan te pak.

“Ek het eintlik gedink ná my eerste 1 000 kilometer sou ek genoeg fondse kon bymekaarmaak om my droom te begin. Dit het nie gebeur nie, daarom die tweede 1 000! Terselfdertyd is ek dankbaar vir alle ondersteuning van watter aard ookal.”

Step Up Ark het danksy Martha se drawwery beloftes van onder meer sement en stene gekry. Sy hardloop oraloor die Hardapstreek en daagliks op Rehoboth, vertel sy en probeer elke dag ’n paar kilometer inkry. As mamma van ’n tweeling wat tuisonderrig ontvang, erken Martha “dit is ’n bietjie moeilik gedurende die week”.

“Gewoonlik hardloop ek vroegoggend. So kry ek die sonsopkoms wat my herinner aan ’n nuwe lewe, ’n nuwe geleentheid en hoop en ek het soveel energie!”

Die stigting het reeds ’n positiewe vergadering met die Rehoboth-dorpsraad oor ’n erf vir die veilige tuiste gehad en die hoop is dat “hulle ons hand kan vat om vroue en kinders te help om hul plek in die samelewing vol te staan.”

“Kinders is ons toekoms. As jy slegs een kind of vrou kan help, kan jy ’n nasie red.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Betis 2 vs 0 Leganés European Championships Qualifying: Hull City 0 vs 2 Sheffield United English Championship: Hull City 0 vs 2 Sheffield United Katima Mulilo: 19° | 40° Rundu: 22° | 39° Eenhana: 19° | 37° Oshakati: 19° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 23° | 34° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 16° | 33° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 13° | 30° Henties Bay: 11° | 15° Wind speed: 28km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:14, High tide: 05:25, Low Tide: 23:45, High tide: 17:42 Swakopmund: 11° | 14° Wind speed: 34km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:12, High tide: 05:23, Low Tide: 23:43, High tide: 17:40 Walvis Bay: 11° | 19° Wind speed: 39km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:12, High tide: 05:22, Low Tide: 23:43, High tide: 17:39 Rehoboth: 11° | 30° Mariental: 9° | 26° Keetmanshoop: 7° | 24° Aranos: 9° | 27° Lüderitz: 9° | 22° Ariamsvlei: 7° | 23° Oranjemund: 11° | 18° Luanda: 21° | 22° Gaborone: 21° | 36° Lubumbashi: 17° | 35° Mbabane: 13° | 30° Maseru: 13° | 28° Antananarivo: 11° | 26° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 20° | 29° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 12° | 18° Durban: 17° | 20° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 23° | 34° Harare: 19° | 31° #N/A #N/A