’n Kunswerk sonder patroon

Yolanda Nel
Verskeie bolle kleurvolle wol rus op die bank voor Abiater Amupadhi gaan sit en werk. Eers met die blou, later met oranje en só kry die mat, wat hy besig is om met die hand te weef, lewe.

“Ek doen dit nou al vir agt jaar. My broer het my geleer en nou het ons iets wat ons saam kan doen, mekaar kan ondersteun en raad gee waar dit nodig is,” sê hy en voeg by dat hy drie kinders het.

“Dis belangrik dat ek hierdie vaardigheid aan my kinders oordra. Hierdie is nie iets wat net almal kan doen nie en dit kan vir hulle in die toekoms waardevol wees. Hulle kan ’n lewe hieruit maak.”

Aan elke mat hang ’n etiket met ’n foto van die wewer en die naam van die skepping, sodat die kopers presies kan sien hoe die persoon lyk wat die meesterstuk gemaak het.

Terwyl Abiater weef, gesels hy. En hy werk op gevoel – sonder te veel moeite weet hy presies watter kleur wol volgende in watter ry moet kom om die prentjie in sy kop perfek op die mat uit te beeld. Daar is nie ’n teken van ’n prentjie of illustrasie van wat dit gaan wees nie.

Alles word met die hand gedoen – van die spinproses tot die verf- en weefwerk. Die wewer kan kies uit meer as 200 kleure. Die patrone wat uit die winkel kom is bewyse van die vele diverse kulture en persoonlike ervarings van die kunstige Namibiërs en hulle versameling brei voortdurend uit.

Vir hom is dit lekker om te weet hy kan so kreatief as moontlik wees.

“Ons kan verskeie ontwerpe maak en die kliënte kan ook hulle idees met ons deel, dan werk ons daarvolgens.”

Van kleurevolle sandduinpatrone tot ’n kenmerkende sebrapatroon word uitgestal in die winkelvenster van African Kirikara waar Abiater werk.

“Ek maak nie net matte nie,” verduidelik hy.

“Ek bestuur ook die winkel en help ons kliënte.”

Maar hy sê hy geniet dit om sy tyd op die matte te bestee.

“Dan is tyd nie ’n faktor nie. Ek kan vir ure so weef. ’n Hele dag.” Dan kan hy ook ’n mat binne twee weke klaarmaak. In die winkel is ’n groot verskeidenheid Afrika-produkte; van juwele tot kussingslope en keramiekwerk.

Diegene wat nie in Swakopmund is nie, hoef ook nie uit te mis op die kans om iets van African Kirikara te besit nie. Hulle verskeep pakkies wêreldwyd en daar kan jy kies en keur uit die katalogus.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 17° | 27° Rundu: 19° | 26° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 23° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 18° | 29° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 28° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 29° Lubumbashi: 16° | 25° Mbabane: 18° | 22° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 22° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 17° | 26° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 18° | 28° Harare: 16° | 22° #REF! #REF!