’n Mans uit een stuk finaal gegroet
Land salueer familieman en sportlegende
In Gerhard Mans se lewe was eenvoudig niks onmoontlik wanneer hy dit aangepak het nie en hierdie vreesloosheid is deel van die onskatbare nalatenskap wat hy op sy bedaarde manier aan ’n ganse era van Namibiërs as ’n voorbeeld gestel het.
Treffende huldeblyke is gister by sy gedenkdiens gelewer vir die 60-jarige rugbylegende wat verlede Woensdag noord van Windhoek op sy fiets raakgery en op slag dood is.
Sy ontydige heengaan, wat ’n skokgolf gestuur het deur elkeen wat hom geken het, was ewe veel teen die verloop van die spel as wat Mans op die rugbyveld met sy individuele talent soveel skares op hul voete gebring het, het ds.Ernst Coetzee in sy boodskap erken.
Coetzee het ook ’n tema in Mans se latere loopbaan as ’n fietsryer gevind met sy trooswoorde oor die twee pedale – geloof en hoop – wat getrap moet word met die vaste oortuiging van ’n oorwinning, ongeag of dit op die horison sigbaar is.
Johan Barnard, oudspanmaat as flank van Suidwes en Namibië en deesdae Hollard Namibia se uitvoerende hoof, sê die persoonlikhede in die destydse glorieryke span kon behoorlik vol draadwerk wees, maar Mans se uitsonderlike leierskap – op ’n kalm en ferm manier, sonder om opgesweep te raak – het Namibiërs saamgesnoer en tot hoogtes gevoer wat niemand ooit gereken het moontlik sou wees nie.
Barnard het vertel in rugby se amateurdae het die Suidwes-spelers darem ook koevertjies met ’n minimale sakgeldjie gekry.
“Maak nie saam waarheen ons sou toer nie – Gerhard sou iewers ’n telefoon opspoor en vir Sarie (sy vrou) bel. Langafstand foonoproepe was mos lekker duur daai tyd en ek glo min het van die geld in sy koevertjie oorgebly.
“Sy verhouding met Sarie en sy gesin was vir ons almal ’n voorbeeld tot vandag toe. En as jy meer onlangs ’n sake-afspraak met hom gehad het, moes jy maar reg wees dat hy jou eers stories oor sy kleinkinders sou vertel.
“Hierdie laaste week ná die groot skok het ons almal laat besef dat selfs nie eens die taaiste van die taaistes in beheer is van wanneer die einde kom nie. Gerhard, ons salueer jou. Jou nalatenskap sal altyd in ons harte leef.”
Francois Erasmus, nog een van sy lewenslange rugbyvriende, het verwys na Mans se geduld om van kleins af ure aan stokperdjies en herinneringe met sy seuns Gerhard Junior en Wiann te leer rugbybal skop, modelvliegtuigies bou, motorfiets ry en waterski tot hulle nasionale kleure gekry het.
Uit Mans se jarelange werkomgewing het mnr. Sarel van Zyl van die FNB Namibia-groep ook gepraat oor die brugbouer vir wie ’n goeie verhouding met mense van alle agtergronde groot waarde in die sakewêreld bygevoeg het.
“’n Dosent op universiteit het ons geleer daar is geen raak vertaling vir die Engelse woord ‘commitment’ nie. Hy het gesê dis hoekom jy die woord bloot in Afrikaans met ’n K skryf. En ek kan sê Gerhard was kommitted – soos toe hy lid van ’n viermanspan in die Desert Dash was en sy fiets hom in die steek gelaat het, maar hy het dit opgetel en begin draf tot by die volgende tegniese punt, om nie sy spanmaats in die steek te laat nie.
Terwyl die draers die kis uit die NG kerk Eros gedra het, het die refrein van een van Mans se gunsteling Afrikaanse treffers weerklink, naamlik Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse se Hardekole: “Manne dis ’n voorreg, om ’n hardekool te deel. Manne dis ’n voorreg, om hier vanaand te wees ...”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie