Namib Chilli gaan van krag tot krag

Eerste besending op pad na Europa
Nadat Johann Viljoen in 1994 van pure nuuskierigheid 'n brandrissie geëet het, het sy liefde vir brandsouse oor die jare gegroei.
Iréne-Mari van der Walt
Die eerste 1 872 bottels brandrissiesous is gister per vragmotor na Kaapstad vervoer.

Op 26 Januarie sal hulle na Chili Food in Duitsland gestuur word en vandaar na ander lande in Europa.

Dit is die eerste besending na Europa van Johann Viljoen se Namib Chilli-souse wat plaaslik gemaak word.

“In daardie besending is 13 verskillende geure. Baie mense sê ek het té veel souse; dat my verskeidenheid te groot is. Ek sê egter daar is ’n Namib Chilli-sous vir elke smaak en vir elke persoon,” het hy gesê.

DIE BEGIN

“En toe kom die lockdowns,” is hoe Johann begin om die gebeure te beskryf wat aanleiding gegee het tot die stigting van Namib Chilli.

Johann en sy vrou, Luzaan, het kort voor die pandemie hul werk in die gasvryheidsbedryf beëindig en sou by ’n nuwe verblyfplek in die Twyfelfontein-omgewing begin werk ná die lodge klaar gebou is.

Die Covid-19-inperkings het egter die lodge se planne in die wiele gery en die Viljoen-egpaar moes van hul spaargeld oorleef.

“Ek het by ’n nagmark brandrissies gekoop en souse gemaak. My neef het eendag kom kuier en ek het vir hom van my ingelegde rissies gegee om te proe. Hy het gesê dit is baie lekker en het geld gegee vir bestanddele sodat ek vir hom kon maak,” verduidelik Johann en sê dat bure en vriende daarna bestellings begin plaas het vir dié souse.

Johann het dit egter nie as ’n besigheid beskou nie.

“My vrou het eendag geskel en gesê ek moet ophou om die souse weg te gee en ek moet dit begin verkoop,” sê hy.

Daarna het Johann sy souse op WhatsApp-groepe begin adverteer en het die aandag van ’n vriend gevang wat ’n koffiewinkel op Walvisbaai het.

“Hy het gesê hy het ’n deli by sy koffiewinkel en verkoop tuisgemaakte items daar. Ek moes vir hom ’n pryslys stuur en ek moes ’n paar pryse uit my duim suig,” sê Johann.

Sy vriend het gesê hy sou die volgende dag in Swakopmund aanklop om Johann se produkte te proe.

“Ons moes toe spark en maak,” onthou Johann.

Hy sê hy het met dié geleentheid besef hy het ’n volhoubare sakekonsep beet.

Johann sê sy liefde vir brandsouse het reeds in 1994 begin toe hy by ’n hotel in Johannesburg ’n brandrissie geëet het.

“Dit het erg gebrand, maar ek het agterna gedink dit is ’n lekker brand,” sê hy.

“Ek was nog altyd lief vir kosmaak en het altyd geëksperimenteer,” vertel Johann en onthou een van die eerste souse wat hy kort daarna gemaak het.

“Voor 1997 was daar nie regtig braaisouse op die mark nie. Ek het eendag ’n ‘sparerib’-marinade gevat en knoffel en brandrissies bygesit en dit was lekker.

“Ons het ’n paar weke daarna vir die feestyd gaan kamp en ek het toe daardie sous saamgevat. Dit was verskriklik lekker omdat dit toe lekker ingetrek het,” sê Johann.

Johann se passie vir brandrissies het hom tot in sy agtertuin gevolg toe hy in Rawsonville gebly het en het brandrissies in sy tuin geplant en geoes. Hy het onder meer rissieblatjang, -konfyt en ’n verskeidenheid souse van die rissies gemaak.

“Baie van die souse wat ek nou maak, het bygekom,” sê hy.

NAMIB CHILLI

Johann sê sy topverkoper is nog altyd die rooi jalapeno-sous.

“Ek wou ’n tuisgemaakte alternatief vir Tabasco kry. Tabasco is te suur vir my,” sê hy.

“Soos ek met die besigheid aangegaan het, het ek besef daar is regtig ’n behoefte aan brandsouse,” sê Johann.

Namib Chilli benader volgens Johann sy resepte vanuit ’n ongewone oogpunt. “Oral waar ons gaan, kry ons altyd die ouens wat vra wat is ons warmste sous. Ons doen nie warm nie, ons doen lekker.

“Ek eksperimenteer met verskillende speserye en kruie om die resepte reg te kry. Brandsouse moet waarde aan jou kos gee. Ons wil nie net souse maak wat brand nie. Ons wil ’n verbruikersproduk maak wat elke maand deel van die inkopielys is, volgens elke gesinslid se smaak,” sê hy.

Sowat twee jaar gelede het Johan ook ’n brandrissie-en-koffie gegeurde invryfspesery vir veral ribbetjie en braaivleis gemaak.

“Dit is ongelooflik gewild en mense het dit tot oor hulle springmielies en tjips gegooi. So in Desember het ek ’n chilli-en-lime gemaak. Dit het goed verkoop en is baie gewild. Ons was vir drie dae by die Kersmark en in al drie dae het ons produkte uitverkoop. Dit het my aangespoor om nog meer geure van die droë speserye te maak, natuurlike almal brandrissie-gebaseerd.”

UITDAGINGS

Johann sê Namib Chilli se uitbreiding kom nie sonder sy uitdagings nie.

“Baie mense is gewoond aan N$20 se tamatiesous, maar ons maak ’n gehalteproduk en ’n unieke produk. Ons gooi glad nie water by ons souse nie en gebruik net regte brandrissies.

Baie van die brandsouse op die mark word van ’n ekstrak van die capsaïsien gemaak, wat die kenmerkende brandsmaak gee. Dit is nie regte rissies nie,” sê hy.

Johann sê die klein plaaslike mark is ook ’n uitdaging.

“Van die 2,2 miljoen mense in Namibië is daar 2 500 wat brandsouse eet en van hulle is daar 2 000 wat hulle eie souse maak. Daar kom gereeld ouens by ons wat vertel hoe hulle hul eie brandsouse maak,” sê Johann.

TOEKOMS

Dit is die eerste besending na Duitsland en Johann is besig met onderhandelinge om sy souse na die Verenigde Koninkryk (VK) uit te voer.

“Ons kyk ook na Amerika, maar hulle se Food and Drug-regulasies is ’n probleem. Ons sal egter nie opgee nie.”

Johann en Luzaan beplan ook om Okahandja toe te trek.

“Ons wil ons eie brandrissies plant. Om dit te koop is baie duur, veral as dit buite seisoen is. Jy kry ook net sekere rissies te koop en ons soek ’n groter verskeidenheid.

“Ons moet van koerierdienste gebruik maak om die rissies na Swakopmund te vervoer asook ons produkte na die winkels.

Swakop was verlede jaar in die winter te koud en ons plante het gevrek. Dus maak dit sin om na die binneland te trek; nader aan die winkels en aan die rissieboere.

“Luzaan het al talle saailinge wat goed vaar en sodra hulle sterk genoeg is om oor te plant, gaan ons hulle vir die boere gee. Ons het nie die tyd om nog met rissies te boer nie.”

“Namib Chilli het my slimmer en geduldiger gemaak. Ek is nou sterker – ek het geleer om nee te sê en om te onderhandel. Dit is ’n passie en ’n stokperdjie wat nou ’n besigheid geword het. Dit is nou my en my vrou se toekoms. Ons het nie ’n aftreeplan nie, so ons is al twee 100 persent in dit vir die toekoms,” sê Johann.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!