Namibië nie vir haar nie

Sy het nooit anders as ‘normaal’ gevoel nie
Haar ma se sterwe het haar lewe verander
Tanja Bause
“Ek sien myself nie in Namibië oud word nie, maar wel iewers in die buiteland, verkieslik in Europa,” sê Sabrina Kaulinge (24), ’n derdejaar regstudent wat met skoliose saamleef.

“Ek het in 2016 die geleentheid gekry om vir drie maande in Duitsland te woon en ek wil terug. Ek kan nie sê dis omdat alles daar beter is nie, wat ek was net vir drie maande daar, maar ek was mal daaroor en ek kan myself daar sien.

“Sou ek nou die geleentheid kry om te gaan, dan gaan ek nou. Anders studeer ek eers klaar en dan maak ek daai droom ’n realiteit en gaan.”

Sabrina is in Swakopmund gebore en sy het daar grootgeword en skoolgegaan.

“Ek is nie met skoliose gebore nie. Dit het wel op ’n baie jong ouderdom ontwikkel en dit het mettertyd erger geword. My ma, Doreen, het my aan die begin altyd dokters toe gevat en my in ’n gips laat sit sodat my rugwerwel reguit kan groei.

“Die mediesefonds was later uitgeput en dit was net te duur om daarmee voort te gaan en ons het opgehou.

“My ma het my nooit ‘anders’ hanteer nie. Sy het nooit vir my gesê jy het ’n gestremdheid of my verskillend as ander behandel nie. Sy het my behandel soos enige ma haar dogter sou behandel. Ek het nooit gevoel dat ek anders is, iets nie kan doen of bereik nie totdat sy gesterf het en dinge my begin tref het.

“’n Ma se liefde is onvoorwaardelik. Sy sal jou liefhê, maak nie saak wat nie. Sy sal jou beskerm en veilig laat voel.”

MA DOREEN

Sabrina se lewe het heeltemal verander toe sy op 14-jarige ouderdom haar ma verloor het.

“Dit was altyd net ek en my ma. Vakansietye het ons twee iewers gaan kamp of vakansie hou. Kersfees was dit ons twee. Sy het my nooit aan ander familielede voorgestel nie. Ek het nooit eers daaraan gedink of daaroor gewonder of ek ’n ouma of ’n nefie het nie. Dit was net ons twee.”

Met haar ma se begrafnis het Sabrina vir die eerste keer haar familie ontmoet en besef dat sy familie het.

“Ná my ma se dood het ’n tannie my ingeneem. Dit was aan die begin baie moeilik, omdat sy gesê het sy ken my en ek dink miskien het sy en my ma oor my gepraat, maar ek het haar nie geken nie en haar nog nooit ontmoet nie. Dit was altyd net ek en my ma.

“My ma was een van die DDR-kinders wat in Duitsland grootgeword het. Ek dink dis hoekom sy en haar familie nie geheg was nie. Sy het nie hier grootgeword nie.”

SKOOL

Volgens Sabrina het die kinders in die laerskool en koshuis min omgegee dat sy skoliose het. Dit het egter alles in graad 8 verander.

“Eers het ek ’n goeie vriendin verloor. Tussen laerskool en hoërskool het ons uitmekaar gegroei en sy het ander vriende gekry. Ek was baie alleen. Ek onthou die een dag toe ons in ’n ry gestaan het en meisies met wie ek nie saam in primêre skool was nie, het kliphard gesê kyk daai meisie se rug.

“Dit was die eerste keer dat ek regtig besef het dat ek eintlik anders as die ander kinders is.”

Sabrina het badkamer toe gegaan en begin huil.

“Ek het nooit aan my gestremdheid aandag gegee nie en ek het gedink omdat ek dit nie raaksien nie, merk ander dit ook nie op nie. Daai dag het ek egter besef dat mense dit raaksien, my aanstaar en kommentare sal lewer.

“As jy van my wil praat doen dit sodat ek jou nie kan hoor nie. As ek jou nie kan hoor nie, laat dit my nie sleg voel nie. Dis hoe ek lyk en daar is niks wat ek daaromtrent kan doen nie. Dis wie ek is en ek kan dit nie verander nie.”

Terwyl sy in die badkamer was, het Queentoline Seibes (nou 22) ingegaan en haar getroos.

“Ons het begin gesels en agtergekom ons is in dieselfde klas en ons vriendskap het begin groei. Ons ken mekaar nou nege jaar en is nog steeds beste vriende. Sy het my deur baie gehelp en ek steun vandag nog op haar, veral wanneer mense dink ek is dom omdat my rugwerwel krom is.”

Sabrina het talle uitdagings op skool gehad. Sy sê veral op dae wanneer hulle nie skoolklere hoef te dra nie, was vir haar uitdagend.

“Ek wou ook oulik lyk en ’n skouerbandhemp dra, maar dit wys te veel van my rug en mense sal weer staar. So ek het altyd groot klere of baadjies gedra en my liggaam weggesteek. Tot vandag toe steek ek myself nog steeds weg.”

Ná SKOOL

Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy Windhoek toe getrek om met haar studies te begin.

“Van kleins af wou ek ’n onderwyser word, maar my familie het gesê daar is so baie van hulle in onderwys; ek moet aan iets anders dink en doen.

“Ek het toe as eerste opsie by NUST aansoek gedoen om logistiek te gaan studeer. Dit was my tweede passie ná onderwys. As ’n tweede opsie en vir ingeval NUST my nie aanvaar nie, het ek by Unam aansoek gedoen om regte te studeer. NUST het nooit teruggekom nie en dus het ek regte gaan studeer. Ek is nou in my derde jaar as regstudent.”

Wat die toekoms inhou, weet sy nie, al wat sy weet is dat sy na haar studies daaraan gaan werk om uit Namibië te emigreer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!