Namibië se eie sprokiesprinses

Tanja Bause
“As dogtertjie was ek al lief daarvoor om kostuums aan te trek en as jong meisie het ek baie lief geword vir rolspel. Toe ek gestudeer het, het die droom om as ‘n prinses op ‘n Disney-plesierboot te werk, begin,” sê Therita Roodzant (26), die eienaar van Touch of Wonder Parties and Entertainment.

In 2015, toe sy ‘n student in Kaapstad was, het sy ‘n besigheid ontdek wat vir die vermaak by kinderpartytjies gesorg het.

“Ek het onmiddellik aansoek gedoen om aan te sluit. Ek was van die begin af in my element. Ek moes vyf partytjies saam met ander lede doen as deel van my opleiding, maar is na my tweede een al alleen na geleenthede gestuur.”

Ná sy haar studies voltooi het, het sy verder kinders vermaak en ondervinding opgedoen. In 2018 is sy getroud en het sy teruggetrek na Namibië.

“Ek was egter mal oor die werk en wou daarmee aangaan. Mettertyd het ek begin om die kostuums bymekaar te maak. Ek het sommiges van oorsee af bestel en ander het ek self gemaak.”

Weens haar twee swangerskappe en die Covid-pandemie het die besigheid vir ‘n paar jaar stilgestaan. In Januarie 2022 het sy dit begin bemark en die besigheid is aan die groei.

“Ek doen al my karakters en vermaak self, met die hulp van my jonger sussie en my broers wat my soms uithelp. Ons het almal met dieselfde liefde vir rolspel en verbeelding grootgeword, so die passie loop deur ons almal se are. As my besigheid aanhou groei, hoop ek om binnekort helpers aan te stel.”

Thertia behartig slegs die vermaak-aspek van die partytjies met die droom om eendag alles van spyseniering tot dekor aan te bied.

KARAKTERS

“As jy byvoorbeeld ‘n Frozen partytjie hou, kom ek as Elsa (of Anna) na jou partytjie toe vir so lank as wat jy my boek. Ek sing vir die kinders die karakter se temaliedjie en doen dan alles van poppekaste en magic shows tot skattejagte en gesigverf.”

Sy het nie ’n gunstelingkarakter nie omdat elkeen hulle eie eienskappe, agtergrondstories en elemente het wat dit pret maak om in die karakter te verander. Volgens haar is daar wel van die kostuums en pruike wat ongemaklik is en waarna sy baie verlig voel as sy dit kan uittrek.

“Van jongs af was ek baie lief vir Ariel van The Little Mermaid, en van al my karakters kan ek seker myself die meeste deur haar uitleef. Sy was ook die heel eerste kostuum wat ek self gemaak het toe ek nog gestudeer het. Ariel het definitief ‘n spesiale plek in my hart, maar as ek moet kies om soos enige karakter vir ‘n geleentheid aan te trek, is dit gewoonlik Elsa, want sy is sonder twyfel die gewildste karakter.”

Tans bestaan haar karakter-opsies uit ‘n groot verskeidenheid en wissel van Tinkerbell tot Barbie, maar sy kan ook nuwe karakters skep.

“Die kinders se opgewondenheid wanneer hulle my sien is die rede hoekom my besigheid bestaan. Wanneer kinders glo ek is die ‘regte’ karakter en vrae begin vra oor die kleinste besonderhede - hoe my kasteel lyk of waar my prins is. Die kinders se verwondering is waarom my besigheid se naam “’n tikkie wonder’ beteken. Dis die vermoë om te kan verbeel en glo wat ek in kinders wil anker. In vandag se wêreld verloor kinders dit hopeloos te vroeg.”

Thertia gebruik ook die platform om ‘n boodskap aan kinders oor te dra.

“Baie van die karakters wat ek uitbeeld is veronderstel om die toonbeeld van uiterlike skoonheid en perfeksie te wees, maar die boodskap wat ek oordra is dat dit nie gaan oor hoe jy lyk of wat jy dra nie. Eerder dat - deur ons gesindheid, beginsels en hoe ons ander mense behandel - elke meisie ‘n ware prinses en elke seun ‘n superheld kan wees. Dat skoonheid en waarde van binne af kom en dat jy nie jou waarde moet soek deur jouself met ander te vergelyk nie. Dit is ‘n boodskap wat baie kinders al telkemale gehoor het, maar as hulle dit van die prinsesse hoor na wie hulle so baie opkyk, is hulle net altyd baie meer geneig om dit te glo.”

Diegene wat meer wil weet, kan op die Touch of Wonder Parties-Facebookblad gaan loer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!