Namibië verloor topwetenskaplike
Huldeblyke stroom in vir dr. Paul Ludik
Wyle dr. Paul Ludik is gister vir sy werk as farmakoloog en forensiese wetenskaplike, asook vir sy menswees geëer.
Namibië het een van sy topwetenskaplikes verloor. Die gerekende forensiese patoloog en voormalige hoof van die Nasionale Forensiese Wetenskap-instituut van Namibië (NFSI), dr. Paul Ludik (61), is Woensdagnag in sy vrou Susan (61) se arms in hul huis in Windhoek dood.
Hy het lank aan die outo-immuunsiekte sistemiese lupus eritematose gely. Dit is ’n chroniese siekte van die bindweefsel.
Hy was die afgelope paar weke egter ernstig siek aan sy longe en is kort gelede met kanker gediagnoseer.
Die nuus van sy skielike dood was vir baie van sy kollegas en vriende ’n reuseskok en huldeblyke het van vroegoggend op sosialemediaplatforms ingestroom.
Ludik se forensiese vernuf is oor die jare met verskeie groot polisiedeurbrake verbind.
Een daarvan was toe hy en komm. Nelius Becker, wat hom as hoof van die NSFI opgevolg het, in 1998 die forensiese bewyse gevind het dat Thomas Florin sy vrou vermoor, opgesny en gekook het.
In 2013 toe ’n vliegtuig van die Mosambiekse lugredery LAM in Kavango-Oos neergestort en 33 mense dood is, moes hy en sy span die verkoolde oorblyfsels van die oorledenes deur middel van DNS-toetse uitken.
Mnr. Theo Borstlap, die bekende sakeman van Otjiwarongo wat ’n vriend en aangetroude familielid was, het gisteroggend só hulde gebring: “’n Ikoon in die wetenskap- en forensiese wêreld, dr. Paul Stefan Ludik, het sy laaste asem hier op aarde uitgeblaas en oorgegaan na ’n plek van rus en vrede.
“Sy nalatenskap is groot en die gaping wat hy laat in sy beroep sal nog jare lank gevoel word. Sy bydrae op die wêreldverhoog sal nog lank staande bly en vir generasies vorentoe sal daar nog van sy wysheid geleer word.
“Ons as familie en huisvriende sal Paul se liefde en waardering vir die natuur, ’n hopie hardekool op die vuur en ’n vleisie op die rooster baie mis,” het hy op Facebook gesê.
Borstlap het hom gegroet met die woorde: “Jou liefde vir jou gesin, musiek en die goeie van die lewe sal altyd by ons bly. Dankie vir die voorreg om die afgelope vier jaar langs jou te kon loop; jou wyshede en insig het my altyd bly verstom. Ons gaan jou mis, Paul. Jou tyd op aarde is verby, maar in ons harte leef jy voort. Ek salueer jou. Rus in vrede, my vriend.”
IDILLIESE LEWE
’n Verslae Susan het gister gesê hy was veral die laaste twee dae baie swak. Sy sê sy het gedink dit is as gevolg van die chemoterapie en dat dit binnekort beter sou gaan.
“Ek het gisteraand (Woensdag) op die bed by hom gesit en hom vasgehou, toe hy na die kant toe geval en gesterf het.”
Sy sê sy is bly hulle kon onlangs saam na Johannesburg reis om hul seun en skoondogter, Hugo en Danieka, se eersgeborene, klein Olivia, te ontmoet.
Hugo (38) en sy ouer broer, Stefan (39), is albei groot name in die Afrikaanse musiek- en TV-bedryf. Stefan en sy vrou, Anelle, woon die afgelope vier jaar op Otjiwarongo en hulle het twee kinders, Leonard en Abbygail.
Susan sê sy en Paul was in st. 5 saam in Pionierspark Laerskool in die klas en het in matriek saam matiekafskeid toe gegaan, waarna die liefde tussen hulle geblom het.
“Hy het my aangemoedig om saam met hom te gaan studeer en het my gehelp om beurse te kry. Ons is in ons finale jaar (1980) getroud,” het sy gister vertel.
Aanvanklik was hul huweliksbootjie maar gereeld in stormwater. “Maar ons het net op ’n dag vir mekaar gesê ons gaan ophou baklei en alles in ons huwelik en ons kinders stort,” vertel Susan.
Sy sê hulle is mildelik beloon vir dié besluit. “Ons het die wonderlikste twee seuns, skoondogters en kleinkinders. Buiten vir Paul se siekte, was ons lewe saam idillies.”
Die begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie