Namibiër wil die wêreld aan Afrika blootstel

Wil Afrika en sy mense bevorder
Nick de Vos se doelwit is om in 10 jaar al 54 Afrikalande te besoek.
Tanja Bause
“Die reis na elke land in Afrika is persoonlik. Ek is van Afrika. Ek is lief vir Afrika. As jy sê ek kan vir 10 jaar lank op enige vasteland reis, sal ek altyd Afrika kies. Daar is so baie ongelooflike plekke in Afrika, maar die mense maak Afrika so besonders. Die vasteland is propvol vriendelike, gasvrye, ontsagwekkende mense wat hul laaste kos met jou sal deel en dít is wat ek vir die wêreld wil wys,” het Nick de Vos (41) van 5410Africa gesê.

Nick sal middel-April op sy reis vir die volgende 10 jaar deur al 54 Afrikalande vertrek, dus die naam 5410Africa.

Nick is in Suid-Afrika gebore. Sy ouers is geskei toe hy baie jonk was en hy het saam met sy Namibiese ma terug huis toe gekom. Nadat hy skool op Grootfontein voltooi het, was daar nie geld vir verdere studies nie en Nick is Suid-Afrika toe om by die vloot aan te sluit.

“Ná ek by Stellenbosh gestudeer het, was dit tyd om terug huis toe te gaan en daar het ek by verskillende besighede gewerk voordat ek by Debmarine Namibia op see begin werk het.”

Hy was op see toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het en die grense toegemaak is.

“Ek was op see vasgevang toe die land gesluit is en daar het ek seker soos baie mense oor die lewe begin wonder. Is ek nog gelukkig op see? Kan ek vir myself werk? Kan ek meer beheer oor my eie lewe kry?”

Nick het nog altyd baie en gereeld gereis. Hy was al op meeste vastelande behalwe Australië en Noord-Amerika.

“Ek het amper ’n jaar lank in Indië en Engeland gebly en ses maande in Frankryk. Ek het die wêreld vol gereis, so reis is nie vreemd vir my nie. Ek het besluit ek wil deur Afrika reis en die vasteland en sy mense bevorder en aan die wêreld bekend stel. Is dit nie almal se droom om te reis terwyl jy daarvoor betaal word?”

5410AFRICA

Nick het geweet hy sal met ’n idee of konsep vorendag moet kom wat uniek is en hom en sy veldtog sal laat uitstaan.

“As jy vir jou reise betaal wil word, is dit nie goed genoeg om net Etosha toe te gaan nie. Jy moet uitstaan sodat die mense jou raaksien en jou wil borg. Ek het al vanaf Kaapstad na Kaïro gereis, baie mense het dit al gedoen en dit is niks nuuts nie. Wat wel nuut is, is dat ek elke land in Afrika gaan besoek, iets wat nog geen Namibiër gedoen het nie.”

Volgens Nick se navorsing kon hy net een vrou van Ghana opspoor wat vir die Verenigde Nasies gewerk het wat al 54 Afrikalande besoek het.

Hy het ’n 2000-model Toyota Hilux-bakkie gekoop en volgens sy spesifikasies en vereistes opgebou.

“Onthou, ek was nog my lewe lank ’n backpacker en het van Kaapstad na Kaïro as backpacker getoer. Nou is ek vir die eerste keer ’n overlander; iemand wat in ’n voertuig reis. Ek het die bakkie in ’n jaar en ses maande opgebou en getoets en ek en die bakkie is gereed vir ons reuse-avontuur.”

Die voorbereiding vir die reis het in Januaire in erns begin net na Nuwejaar toe Nick sy werk bedank het.

“Ek is nou besig met die laaste bietjie administratiewe verpligtinge soos my belasting, want jy wil nie hê iemand van die ontvanger moet jou kom soek terwyl jy in Afrika toer nie. Dan gaan ek na my ouers toe omdat ek nie weet wanneer ek weer terug sal kom nie. In die middel van April gaan ek vanaf Tsumkwe deur die Kaudom ry en dan deur die Zambezi na Zambië. Dan is ek weg en kom eers weer terug as dit regtig nodig is, of as my avontuur geëindig het.”

Nick is van plan om antikloksgewys kuslangs deur Afrika te ry en uit te wyk na lande wat nie langs die kus is nie.

“Ek gaan nie iemand wees wat net ’n land binnegaan om ’n stempel in hul paspoort te kry en net weer vertrek nie. My plan is om gemiddeld agt weke in ’n land te bestee. Ek dink om die regte gevoel vir ’n land te kry, is selfs dít al te kort.”

Nick se basiese roete is beplan, hy weet vir watter land hy ’n visum benodig en hoe om aansoek te doen.

“Meer as dit kan jy nie regtig beplan nie. Hoe eet jy ’n olifant? Stukkie vir stukkie en dis presies hoe ek die reis sal aanpak; dag vir dag. Gelukkig het ek in Afrika grootgeword en ek weet hoe Afrika werk. Ek verstaan Afrika. Ek verstaan jy moet soms net sit en wag; jy soms net moet glimlag en baie geduld en maniere jou deur Afrika sal kry.”

Nick is glad nie onder die wanindruk dat elke dag maanskyn en rose sal wees nie.

“Daar sal dae van hel wees. Dae wat ek myself afvra wat is ek besig om te doen? Dae wat ek eintlik ’n vliegkaartjie huis toe moet koop en die bakkie aan die brand moet steek, maar dan sal ek net my kampstoel vat, die bos ingaan en ontspan vir solank as wat ek moet.”

AFRIKA

Sy gunstelingplekke tot dusver in Afrika is Livingstone in Zambië en Zanzibar.

“Lake Malawi was ongelooflik. Ek weet nie hoe dit nou lyk nie, maar toe ek die eerste kere daar was, was dit só skoon dat jy uit die meer kon drink. Om so ’n besonderse plek te kan sien, is ontsagwekkend. Ook Kaïro en die piramides en om in die Rooi See te kon duik, sal ek nooit vergeet nie. Die herinneringe sal altyd by my bly, ook oor die mense wat ek daar ontmoet het en die ervaringe wat ek deurgemaak het.”

NAMIBIE

In Namibië is Sossusvlei sy gunstelingplek en die C28 van daar tot in Swakopmund en verder op na die Skedelkuspark.

“Dit was ook die roete wat ek ongeveer vier keer ter voorbereiding vir die Afrika reis gedoen het. Sossusvlei op met die C28, dan kuslangs Skedelkuspark in en uit by Springbokwasser. Verder na Plamwag, Etosha en huis toe. Ek het myself geleer om YouTube -video’s te maak wat ek met die 5410Africa-toer gaan plaas en soms was die visuele aspek of klank nie goed nie en ek moes weer ry en dit oordoen.”

“Ek is baie trots op my land en Namibië sal altyd eerste kom. My eie land moet eerste hieruit baat en dan sal ek die ander Afrikalande en hul mense bevorder.”

Om op hoogte van Nick en sy reise te bly, kan jy hom op Instagram, Facebook en YouTube onder 5410Africa volg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!