Namibiërs in die buiteland gee om

Tanja Bause
“Ons het tydens die Covid-19-krisis geldinsamelings gehou om noodkospakkies te koop en te versprei via ons netwerk van vrywilligers in Namibië.

“Ons help huishoudings en gemeenskappe wat ons vrywilligers en vennote as die mees behoeftiges geïdentifiseer het en werk in die informele nedersettings van Okahandja, Rehoboth en Windhoek,” het Stephanie Collins, die stigter van die welsynsorganisasie Help4Nam, gesê.

Drie Namibiese vroue wat tans in die Verenigde Koninkryk (VK) woon, het Help4Nam gestig om minderbevoorregtes in hul tuisland te help. Die drie vroue is oorspronklik van Khomasdal.

Hulle het nog sterk bande met die mense in Namibië en kom kuier so gereeld as moontlik. Stephanie woon al die afgelope 20 jaar in Londen.

Stephanie en haar medestigter Marliese Williams-Gill is jarelange vriende wat destyds saam in Windhoek gewerk het.

“Marliese se ma was ook my graad 1-onderwyser by die Primêre Skool Gammams. Sy woon nou in Manchester en ons tesourier Cathy Paisley wat in Liverpool woon, is my jonger suster,” het Stephanie gesê.

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om ’n voedselbank vir die mense by die huis te begin. Nadat die pandemie uitgebreek het, het ek begin kyk hoe ons te werk kan gaan.

“Ek het my werk aan die begin van die pandemie verloor en het baie tyd gehad om geld by vriende, bure en familie in die VK in te samel.”

Help4Nam se vrywilligers in Windhoek het kos met die geld gekoop en kospakkies opgemaak.

“Ons het begin om eerste na huishoudings met klein kinders te kyk. Ons het sewe vroue wat in die gemeenskappe woon waarin ons werk. Hulle is ons ruggraat, ons voete op die grond en sonder hulle sou ons werk onmoontlik wees.”

Volgens Stephanie is dit moeilik om presies te kan sê hoeveel mense by Help4Nam baat. Hulle het tot dusver 1 030 kospakkies aan huishoudings uitgedeel wat gemiddeld uit ses mense bestaan.

“As ’n mens daarna kyk, is dit sowat 6 200 mense wat daarby baat. Ongelukkig is dit ’n druppel in die emmer. Daar is so baie mense wat ons hulp nodig het en hoewel die wisselkoers soms in ons guns tel, is kos in Namibië baie duur. Ons kan ook net kos uitdeel wanneer ons die geld beskikbaar het.”

Eerskomende Vrydag vier Help4Nam hul eerste bestaansjaar nadat hulle verlede jaar amptelik geregistreer is.

“Ons is baie opgewonde en vier die dag saam met die mense in die drie dorpe waar ons tans doenig is.

“Ons gaan ook ’n groot verjaarsdagkoek saam met kinders in Otjomuise geniet.”

Help4Nam hoop nou om ’n gemeenskapsvoedselbank te stig en hulle is op soek na ’n geskikte perseel in Windhoek met ’n klein stoorkamer, ’n klein kantoor en toegang tot toiletgeriewe. Dit moet veilig en gratis wees.

“Die perseel kan in ruil wees vir kospakkies. Ons kan werk deur die voedselbank skep. Ons kan ook direk ’n beroep vir skenkings van kos en toiletware doen, eerder as om kontant te benodig om self die kos te koop.”

Mense wat met Help4Nam in kontak wil tree, kan ’n e-pos na [email protected] stuur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!