Namibiërs reik na die sterre

Tanja Bause
“Die eerste keer toe ek by die universiteit ingestap het, het ek myself afgevra: ‘Wat maak ek hier’. Ek kom van Namibië – van Afrika – ek sal nie so slim soos die ander wees nie. Hulle sal meer oor die ruimte en ruimtevaart weet; maar as jy dan kyk, is daar net ’n paar wat baie weet en dié paar lewe vir die ruimteprogram. Dus maak dit nie saak of jy van Nederland of van Namibië af kom nie, jy is jy,” het Annica Theissen (17) gesê.

Sy en Raica Coelho (17) het so pas vanaf die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) se United Space School in Houston in die Verenigde State van Amerika af teruggekom. Hulle is gekies om deel van die skool se program, Die missie na Mars, te wees.

Beide Annica en Raica het ’n toekenning vir leiding en hul bydrae tot hulle onderskeie spanne gekry. Die Suid-Afrikaanse deelnemer het ook dié toekenning vir haar span gekry.

“Ons was vyf spanne met tussen agt en nege studente elk van oraloor die wêreld en een mentor. Die mentor kies dan die wenner van die toekenning. Ek het die toekenning gekry omdat ek die span gedryf het. Ek het ook van die begin af leiding geneem en gesê wie doen wat. Ek het hulle bymekaargehou en gesorg dat ons saamwerk,” het Raica gesê.

“My span het hoofsaaklik uit ekstroverte bestaan wat baie en hard gepraat het. Ek was stil in die agtergrond en het gewerk. Ek het die raamwerk opgestel waarin almal se bydrae dan later gepas het.

“Ons moet nooit dat ons land of nasionaliteit in ons pad staan nie en dink ons is nie goed genoeg nie. Daar was vyf spanne, 42 deelnemers en drie studente van Afrika het die toekenning ontvang. Dit wil gedoen word,” het Annica gesê.

“Ek hoop ons het die mense daar buite se oë oopgemaak. Ek hoop ons het Namibië op die kaart geplaas en dat daar in die toekoms twee plekke oop is vir ons om deel van die program te wees,” het Raica gesê.

Beide het vir die program ingeskryf. Daar is net een plek vir Namibië beskikbaar en Annica het dié plek gekry.

Die skool in Houston het wel vyf plekke beskikbaar wat hulle aan uitstaande leerlinge kan toeken.

“Ek moes ’n onderhoud voer en het een van dié plekke gekry. Dit is hoekom Namibië dié jaar twee studente kon stuur,” het Raica gesê.

“Ek wou deelneem omdat ek gedink het ’n mens kry nie baie die geleentheid om Amerika toe te vlieg nie, om mense van alle uithoeke van die wêreld te leer ken en om iets nuuts te kan leer nie.

“Ek wou ook die wêreld wys dat Namibië nie net goed in sport is nie, ons is ook slim. Ons wou ons land verteenwoordig, maar met ons brein,” het Annica gesê.

Beide stem saam dit was twee harde weke met ’n strawwe program van lesings deur kenners en om saam met die span aan die missie te werk.

Hulle moes ’n voorlegging saamstel en dit voor 60 mense – wat deel is van die ruimteprogram – aanbied.

“As jy so ’n geleentheid kry, gryp dit met beide hande aan. Dit kan deure vir veral mense uit Namibië oopmaak. Jy kry die geleentheid om die wêreld te sien en dit verander jou siening en maak jou kop oop,” het Raica gese.

Elke deelnemer moes ’n tradisionele gereg bedien en iets opvoer wat eie aan hul land is.

“Ons het hoender-en-groentesosaties met soetrissiesous en blatjang voorberei. Vir ons opvoering het ons ’n gedig oor Namibië geskryf en dit voorgelees terwyl prente oor ons land in die agtergrond vertoon is. Die mense was mal oor beide,” het Annica gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!