Namibiese pels op Olimpiese verhoog

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - In ’n unieke dans tussen haute couture en tradisie het ’n gesogte modehuis in die hartjie van Parys, Frankryk, kragte saamgesnoer met een van Namibië se grootse uitvoerprodukte om die gesogte luukse van die land se “swart diamant” op die wêreldverhoog te laat pronk.



Yves Salomon, een van die voorste pelseniers in die wêreld wat jasse vir talle van die grootste mode- en couture-ontwerpers maak, het met pels van Swakara unieke uitrustings vir Namibië se twee vlagdraers by vandag se opening van die 33ste Olimpiese Spele in Parys ontwerp. Vera Looser en Alex Miller sal tydens die openingseremonie by die Seine geklee wees in uitrustings wat deur Yves Salomon ontwerp is en Swakara-pels insluit.

Met Namibië se droë landskappe as inspirasie, is pels met sandkleurige skakerings vir die uitrustings gekies as simbool van die land se natuurlike skoonheid en erfenis en vir ’n stukkie woestyn in die hart van Parys.

Yves Salomon se ontwerpe vir Looser en Miller is ’n mengsel van moderne estetika en die tydlose aantrekkingskrag van Swakara se pelse wat in die volksmond as die swart diamant bekend staan.

Diè blootstelling tydens die seremonie waartydens 60 000 deelnemers op sowat 100 bote oor ’n afstand van ses kilometer verby die bekendste landmerke soos die Louvre-museum en Notre Dame-katedraal in Parys op die wêreldbekende Seine sal vaar, sal na verwagting hernude belangstelling en aanvraag in luukse pels aanwakker.

Die bote sal naby die Eiffeltoring tot stilstand kom waar president Emmanuel Macron die Spele amptelik sal open. Sowat 500 000 toeskouers sal na verwagting vanaand langs die Seine saamtrek wat deur Parys vloei.

Buiten vir Looser (fietsry) en Miller (fietsry) word Namibië ook deur Philip Seidler (swem) en Helalia Johannes (atletiek) verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!