Nikita se wêreld ontstaan uit mode en avontuur

Kristien Kruger
Nikita Rix is ’n veelsydige en stylvolle sakevrou en entrepreneur. As die eienaar van die luukse klereboetiek, Solé Ateljee, en die reis- en verkenningsplatform Crisp and Khaki, strek haar vaardighede oor talle kategorieë insluitend fotografie en die skep van inhoud.

“Vandag is ek ’n sakevrou, môre ’n reisfotograaf en Woensdag ’n huisvrou!” spot Nikita wat ook buiten vir die bestuur van haar twee besighede, ’n vennoot in Sanga Tours and Safaris is.

Nikita se twee wêrelde van mode en avontuur het onlangs saamgesmelt in een spesiale klerereeks onder die titel - Lux Safari: Crisp and Khaki Edit.

Dié reeks is ’n versameling van safari-geïnspireerde mode-items wat Nikita uit haar gunsteling ontwerpers gekies het. Sy het ook in samewerking met ’n paar ontwerpers spesifieke items self vir die versameling ontwerp.

“Elke item in hierdie versameling is met sorg gekies om ’n unieke aspek van die safari-

ervaring te beklemtoon - van rokke wat die romantiek van ’n laat-1800’s safari vasvang, tot

praktiese en elegante stukke vir alledaagse dra, asook gesofistikeerde items vir die sakevrou.”

Die versameling sluit ook ’n reeks juweliersware in wat direk uit Tanzanië verkry is, waar dit deur die talentvolle Maasai-vroue gemaak word

Die versameling bestaan uit twee uitgawes waarvan die eerste reeds op 20 Junie bekendgestel is en die tweede Maandag (8 Julie) in Solé Ateljees beskikbaar wees.

’N VEELSYDIGE DROMER

Nikita vertel dat sy as jongmens baie drome gehad het en op ’n stadium ’n hele klomp besighede en idees gehad het. Soos sy ouer geword het, het sy egter besluit om minder projekte aan te pak.

“Tans fokus ek slegs op Solé Ateljee, Crisp and Khaki wat beide die fotografie- en curio-aspek insluit, en Sanga Tours and Safaris waar ek ‘n vennoot is.

“Dit is belangrik om met jou talente te eksperimenteer in jou jonger jare en dit is presies wat ek gedoen het. Met die nadering van my 30’s, het ek begin fokus op wat vir my belangrik, bevredigend en natuurlik winsgewend is.

Hoewel Nikita ná skool op Stellenbosch gaan studeer het met die doel om eendag ’n prokureur te word, het sy ná twee jaar oorgeskakel na sielkunde. Daarna het sy twee jaar se praktiese ervaring opgedoen. Hierna het sy besluit om ’n gewaagde sprong te neem en ’n entrepreneur te word.

“Die modewêreld het onverwags in my lewe gekom terwyl ek vir ’n sielkunde-eksamen

gewag het. My tydlose styl het aanklank gevind by ander mense en wat gelei het tot die

ontstaan van Solé en later Crisp and Khaki Curio Management,” vertel Nikita.

‘NIE ALTYD GLANSRYK’

Van buite lyk Nikita se wêreld glansryk en opwindend met fotosessies vir Solé en vakansies by luukse lodges. Sy vertel egter dat daar baie harde werk agter die skerms gebeur.

“Dit mag dalk glansryk lyk en klink, maar in werklikheid is dit ver daarvan af, veral vir ’n introvert soos ek. Nietemin, aangesien dit nie net my passie is nie, maar ook die brood en botter vir my en my personeel, doen ek dit met toewyding.

“Ek bestee heelwat tyd, energie en geld aan die bemarking van Solé, wat beteken dat ons vir elke nuwe reeks ’n fotosessie en katalogus moet doen. Dit verg ’n hele produksie - van

die reël van modelle, grimering, fotograwe en videograwe, tot die bespreking van venues,

klerestoom, klerereëlings, juwele en bykomstighede. Dit sluit in die voorbereiding vir die

fotosessie, opstel en afbreek van alles, asook die samestelling van die katalogus. Hierdie

proses verg baie van die Solé-span," vertel Nikita.

Met betrekking tot Crisp and Khahi vertel Nikita dat mense dikwels vir haar sê dit lyk asof sy altyd op vakansie is, maar in werklikheid beplan sy haar reise vir elke drie tot vier maande.

“Ek word nie betaal om gin en tonics te geniet nie. Dit is ver van glamorous en dit verg harde werk. My oggende begin om 04:00, gereed om teen 05:30 die wildritte aan te pak. Gedurende die dag hardloop ek rond om verskeie tonele vas te lê, terwyl ek ook kos en personeel afneem. Selfs die pragtige sonsondergange in die bosveld kan ek nie onbelemmerd geniet nie, aangesien ek besig is om die perfekte oomblik vas te vang op kamera. Alhoewel ek ongelooflike plekke besoek en ervarings opdoen, moet ek voortdurend paraat wees agter die lens. Dit alles gesê, moet jy my nie verkeerd verstaan nie - ek geniet elke oomblik van hierdie uitdagende en vervullende beroep.”

‘STEP INTO THE LIGHT’

Nikita het in 2018 begin met Collective Boutique, maar sy het besluit om vir dié winkel en handelsnaam ’n nuwe baadjie aan te trek en die besigheid in ’n ander rigting te lei.

“Met soveel uiteenlopende style het ek myself begin verloor in die wye wêreld van mode. Dit het my gelei om weg te beweeg van die massa en slegs my gunsteling ontwerpers te behou,

terwyl ons ’n unieke reeks klere vir ons eie winkel begin het. Dit het my laat voel dat ons besigheid ’n nuwe identiteit verdien het.”

So het Solé Ateljee ontstaan en die nuwe naam is geïnspireer deur ’n vriendin van Nikita, genaamd Soleil, wat oorlede is.

“Sy was die mooiste mens wat ek ooit ontmoet het, ’n engel wat as ’n geskenk van die Here aan ons gegee is. Soleil was werklik ’n inspirasie vir my en het my altyd aangemoedig om my grootste drome na te streef.

“Dit is waarom Solé Ateljee ontstaan het - ’n sonnige ateljee wat vroue inspireer om met selfvertroue in die lig te skitter.”

Solé Ateljee se leuse is “Step into the Light” en dit is presies die atmosfeer wat Nikita met haar winkels in Windhoek (40 Bergstraat, Klein Windhoek) en een in Swakopmund (by Haus Altona langs Slowtown) wil kweek.

“Wanneer ’n vrou ons sonskynwinkel betree, moet sy die warmte voel van ons span en die ruimte om haar.”

STORIES VAN AFRIKA

Crisp and Khaki is Nikita se jongste onderneming en bestaan uit twee takke - een is luukse lodge- en gaservaringfotografie en die ander is die curio-bestuur.

“Tydens die pandemie het ons baie gereis deur Namibië, omdat ons as Namibiërs die geleentheid gehad het om ons land vir die eerste keer te verken aangesien baie lodges hulle pryse meer bekostigbaar gemaak het.

“Fotografie was nog altyd iets wat ek met oorgawe en groot genot gedoen het. Jemma Wild, ’n bekende reisfotograaf in Suid-Afrika, het my gekontak. Sy het my gevra om saam met haar te gaan en werk in Namibië te doen. ’n Jaar daarna het ons weer saam in die Kruger Nasionale Park gewerk. So het ek stadig maar seker meer navrae gekry om die gaservaring vas te lê.

“’n Paar jaar later reis ek meestal vir werk in die buiteland om lodges af te neem. Ek geniet dit verskriklik en leef myself uit op elke avontuur.

Nikita het ’n besonderse benadering tot haar foto’s en poog om te dien as visuele storieverteller wat spesiale oomblikke en gevoelens met haar ervare lens vasvang.

“Wanneer ek die wildernis betree, sien ek meer as net landskappe, ek sien stories wat wag

om vertel te word - die oomblikke op pad na ’n bestemming, die ontmoetings met 'locals' en oomblikke wat ’n mens heeltemal betower. Ek poog om nie net vas te lê wat gesien word nie, maar ook wat gevoel word.”

Nikita vertel dat curio-bestuur al lank ’n idee was wat sy te bang was om aan te pak.

“In Februarie verlede jaar het Ongava my genader om hulle nuwe safari-boetiek te help begin, en so het Crisp and Khaki Curio-bestuur vlamgevat. Ek bestuur nou ’n handvol van die pragtigste lodges se curio-winkels in Namibië waar ek verskaffers regoor Afrika soek en die mooiste produkte na Namibië bring."

Nikita verduidelik dat sy beoog om weg te beweeg van die massavervaardigde curios wat in plekke soos China gemaak of ingevoer word na Namibië vanuit ander Afrikalande waar die vervaardigers uitgebuit word en min van hulle werk sien.

“Ek mik daarna om my produkte direk by die vervaardigers aan te koop en ook saam te werk met gemeenskapsprojekte wat mense leer om die mooiste Afrika-curios te maak.

“Dus, my konsep - om Afrika na Namibië te bring.”

INSTAGRAM-SMAAKMAKER

Dit is ook deur Crisp and Khaki wat Nikita se gewildheid op sosiale media aansienlik gegroei het.

“My fotografie het baie aandag getrek en ek het onverwags 'influencer' geword, wat gelei

het tot ’n aansienlike groei in my Instagram-platform. My oorspronklike doel was om bloot my

reisavonture te deel, maar dit het ’n domino-effek gehad en ek raak nou ’n bron van inspirasie vir ’n wyer gehoor - van jong entrepreneurs en fotograwe tot mense regoor die

wêreld wat ’n passie het vir die verkenning van Afrika.

Nikita vertel verder dat verskeie handelsmerke uit Namibië en Suid-Afrika haar genader het om hul ‘brand ambassador' te wees, maar sy kies om kies slegs ambassadeurskappe te doen wat in lyn is met haar leefstyl en waardestelsel. Sy kies ook handelsname wat sy werklik ondersteun en waardeer. Hoewel sy dit geniet, vertel sy dat dit soms uitputtend kan wees.

“Dit is vir my moeilik om soveel persoonlike aspekte van my lewe openbaar te maak terwyl ek eintlik ’n private persoon is.”

Nikita beloof dat die res van 2024 nog baie opwindende avonture sal inhou.

“Teen die einde van Julie wag ’n reis na Zimbabwe waar ek twee kampe van ’n wêreldbekende safarigroep gaan af neem. Daarbenewens is daar planne om later die jaar Kenia te besoek en in Desember terug te keer na Rwanda - ’n plek waar ek my hart verloor het.”

Met betrekking tot besigheidsprojekte sê Nikita dat sy vir eers al haar aandag wil vestig op haar huidige besighede, veral Crisp and Khaki met die oog om dit verder te laat groei.

“Met ouderdom kom die insig om te fokus op dit wat jou vreugde bring en winsgewend is, en

om dit te koester en uit te brei.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!