‘Niks is onmoontlik nie’
“Liewe Jesus het altyd ’n plan vir jou. As jy ’n ledemaat verloor of jy is in ’n donker gat, is dit nie die einde nie. Hy het ’n plan vir jou. Jy kan nog steeds met dit wat jy verloor het, iets doen en aangaan. Al is die wêreld donker om jou, is dit nie die einde nie. Daar is ’n uitweg, ’n lig,” het Jerome Rooi (19), Namibië se eerste en enigste Paralimpiese driekampatleet, gesê.
Jerome is met twee gesonde bene gebore. Op die ouderdom van vier het hy egter probleme met sy linkeronderbeen begin ondervind.
“Niemand weet regtig wat dit was nie; nie my ouma, ma of die dokters nie. My been was baie in gips en dit het die been misvorm. Die knie het geskuif en die voet het afgehang. Dalk was dit kanker, ek weet nie.”
Toe hy 13 geword het, het die dokters vir sy ma gesê dit sal beter wees om die been te amputeer, want as hulle langer gaan wag sal hulle dalk die been hoër moet amputeer.
Aan die begin was dit vir Jerome ’n aanpassing, maar hy het met ’n goeie ondersteuningsnetwerk van vriende en familie deurgedruk. Veral sy ma – wat vandag nog sy grootste ondersteuner is – het hom baie opgebeur.
“Ek het ook die hele tyd vir myself gesê alles gebeur met ’n rede. Die Here het dit beplan. Kyk nou vir my, ek doen sport en ek kan baie ver daarmee gaan.”
Jerome was nog altyd ’n aktiewe kind en hy het sokker gespeel en akrobatiese toertjies gedoen.
“Almal in Rehoboth ken my as die seuntjie met die halfbeen wat so baie energie het en rondhardloop. Niks het my gekeer of teruggehou nie.
“Wanneer die kinders vir my weggehardloop het, het ek hulle eenvoudig agternagesit en ingehaal wanneer hulle moeg geraak het. Ek het tonne uithouvermoë en energie.”
Jerome het graad 8 en 9 op Gobabis voltooi. Daar het ’n man hom raakgesien en gesê dit lyk of hy baie sportief is. Die man het ’n video van hom in die gimnasium gemaak en dit gedeel.
Jean-Paul Schmidt, die tesourier van die Namibiese Nasionale Paralimpiese Komitee, het die video gesien en hom Oshakati toe genooi.
“Hy het vir my gevra of ek kan swem en of ek ’n driekamp-atleet wil word. Ek het die geleentheid aangegryp en begin oefen.”
Jerome het ’n kunsbeen in Rundu gekry waarmee hy kan fietsry.
“Ek het al ’n paar bene in my lewe gehad, maar daar is altyd iets verkeerd met hulle. Ek kan nie vinnig met hulle loop nie of hulle is te kort. Ek kan vinniger met my krukke hardloop as wat ek met die bene hardloop.
“Ek gebruik net die been om fiets te ry, maar JP is nou besig om vir my ’n kunsbeen vir sport te kry en dan kan ek alles doen.”
Jerome het verlede jaar saam met ander Paralimpiese swemmers van Namibië in Suid-Afrika deelgeneem, en in Windhoek aan ’n 20 kilometer-resies en in Swakopmund aan ’n swemgala. Hy het ook aan die Pointbreak Open Water-kompetisie (2,1 km) by die Oanobdam deelgeneem.
“Daardie water is baie diep en soos ek daar in die water was het ek gedink; wat doen ek hier? Wat maak ek in die middel van die dam? Maar ek kan nie ophou nie, ek moet net deurdruk en aangaan. Wanneer mense vir my wegswem, spoor dit my aan om meer te gee om harder te oefen.”
Volgens Jerome het JP hom gevra hoekom hy sport wil doen en sy antwoord was omdat hy beroemd wil wees.
“Ek wil hê mense moet my op straat herken. Hulle moet weet wie ek is. Hulle moet sien dat my afbeen my nie onderkry nie.
“Ek wil ’n inspirasie vir mense wees. Hulle moet sien ek het iets bereik en dat hulle dit ook kan bereik ongeag van hulle omstandighede. Niks is onmoontlik nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie