Nooit te oud om te droom

Van lugwaardin tot restaurant-eienaar
Fishy Corner op Hentiesbaai brei uit ten spyte van Covid-19.
Tanja Bause
Sy was ’n lugwaardin op die enigste vliegtuig wat in Suid-Afrika gekaap is, dit nadat sy die destydse Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in Rio de Janeiro tydens die Mej. Lugdiens-kompetisie verteenwoordig het.

Sy en haar man het op Hentiesbaai kom aftree en op 53 besluit Talana Joubert (73) om ’n restaurant oop te maak wat vis en calamari-wegneemetes bedien. Vandag is Fishy Corner groter en gewilder as ooit tevore en Talana is afgetree, of so sê sy.

Talana is in Bloemfontein gebore en het haar matriek by die Help Mekaar Meisieskool in Johannesburg voltooi. Ná matriek het sy vir twee jaar by die Benjamin Kollege in Johannesburg studeer.

“Dit was daardie tyd ’n besigheidskollege en ek het by ’n bank gaan werk nadat ek my kwalifikasie verwerf het. Ek het egter besluit ek wil eerder ’n lugwaardin wees en by die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangesluit.”

LUGWAARDIN

Ná twee jaar by SAL het sy op 24 Mei 1972 na Salisbury (nou Harare in Zimbabwe) gevlieg.

“Twee Libanese mans het dié vlug met die terugkomslag oor Hartebeespoort gekaap. Ons was opgelei om op die uitkyk vir verdagte persone te wees, omdat daar veral oorsee in die 1970’s talle kapings was. Ons het opgemerk dat twee mans redelik senuweeagtig opgetree het en toe ons begin daal het om op die destydse Jan Smuts-lughawe (tans Oliver Tambo) in Johannesburg te land, het die mans ons genader en gesê daar is dinamiet aanboord en hulle sal die vliegtuig opblaas as ons nie na hulle luister nie.”

Volgens Talana moes al die passasiers na die agterkant van die vliegtuig skuif en hulle moes almal se paspoorte bymekaarmaak.

“Ná baie onderhandelinge het die kapers ingestem dat die vliegtuig terug na Salisbury kan keer vir brandstof en dan sou hulle na die Seychelle toe vlieg. Die passasiers en kajuitbemanning is ook afgelaai en die vliegtuig het met sewe passasiers en die res van die bemanning opgestyg. Die kapers is later in Malawi vasgetrek en die res van die mense was veilig. Ons en die passasiers het tot tweeuur die oggend op die lughawe gewag toe ’n 707 Boeing met ’n volgepakte kroeg ons kom haal het.”

HENTIESBAAI

In 1999 het die Joubert-egpaar besluit om op Hentiesbaai af te tree.

“My man, Anton, het ’n groot liefde vir die dorp. Sy ouers, Hennie en Dora Joubert, het die tweede huis op Henties besit. Ons het elke Desember hier kom vakansie hou en dus was die besluit redelik maklik om hier af te tree.”

Anton het visvangtoere aangebied en Talana was ’n huisvrou met ’n droom.

“Daar was nie ’n restaurant of plek wat vis vir wegneemetes bedien het nie. Ek wou graag een begin, maar op Henties vang mense mos hul eie vis.”

FISHY CORNER

Talana het egter nie dat dít haar afskrik nie en sy het N$5 000 by haar suster geleen om haar droom te verwesenlik.

“Ek het met die geld ’n Chipper en Griller gekoop en ’n perseel langs die ou Spitzkoppe-restaurant gekry. Dit was ’n klein perseel in die hoek met net genoeg werksplek vir een persoon.”

Sy het elke dag se aankope met die geld van die vorige dag se verkope gedoen. Aan die begin het sy haar vis en calamari met ’n pak gekoopte gevriesde tjips verkoop.

“Die droom was ook ’n gebedsaak en ek het ’n nota in my kasregister met: ‘Jesus, help my asseblief om net vier kabeljoue te verkoop’ gehad. Ek het my daaglikse basiese uitgawes soos huur, elektrisiteit, salaris en toerusting ook op die nota geskryf. Die uitgawes is elke dag in koeverte geplaas.”

Die restaurant het begin groei en uitbrei.

“Adolfine (Dolfyntjie) Areses en ek het die besigheid begin en sy is vandag – 20 jaar later – nog steeds by Fishy Corner in diens. Daar is nou altesame 20 mense werksaam by die restaurant.”

“Een ding wat die afgelope tyd uitgestaan het, is hoe die restaurant mense se lewens verander het. Ek praat spesifiek van my werkers. Om te sien van hulle het as ’n skoonmaker begin en is nou ’n kok. My droom is dat ons almal sal aanhou verbeter en groter raak, en ek glo dis beslis wat die toekoms inhou. Een van ons groot toekomsprojekte sal wees om nog ’n Fishy Corner iewers oop te maak. Wie weet, dalk Swakopmund.”

Die restaurant was vir 19 jaar op dieselfde plek geleë en in 2018 het Talana se dogter, Lana, die restaurant oorgeneem en hulle het saam besluit om uit te brei.

“Ons het besluit as jy vooruit wil gaan, moet jy kanse vat. In April 2021 het ons oorkant die straat na ’n groter perseel getrek.”

Talana het nog altyd daarvan gehou om kos te maak en veral seekos was haar passie.

“Ek het baie van my ma geleer. Lana het ook ’n groot passie vir kosmaak.”

Fishy Corner is bekend vir sy mosselsop; ’n resep wat Talana uit vyf verskillende mosselsoppe verfyn het.

“Ek het hom oor en oor getoets en geproe totdat dit die sop was wat ons nou bedien. Dit was ’n tydsame proses, maar die moeite werd. My tartarsous en slaaisous byvoorbeeld was in ’n klein boekie geskryf, nog in my ma se handskrif. Dit maak alles so meer spesiaal.”

Volgens Talana was die Covid-19-pandemie beslis ’n laagtepunt toe hulle vir ’n paar maande nie hulle verpligtinge kon nakom nie en nie hulle personeel kon betaal nie.

“Dit was totaal buite ons beheer en om so magteloos te voel en bang te wees om alles te verloor waarvoor mens so lank gewerk het. Toe ons na die nuwe perseel getrek en die besigheid weer opgetel het, was dit een van die hoogtepunte in my lewe.”

Sy sien nou daarna uit om bietjie af te skaal en rustiger te word, wetende dat Lana met hart en siel sal aangaan.

RAAD

“Vat kanse, wees braaf. Moet nooit opgee nie. Daar gaan altyd moeilike tye wees, maar hou net aan en jy sal die vrugte pluk. Moenie bang wees vir verandering nie; gryp die lewe aan.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer